WEES EERDER ‘N VETKRYT
Ek sit nou die dag en dink nadat ‘n telepes* my vir die sestiende keer in 24 uur geteister het: “In ‘n wêreld vol potlode is daar darem maar wraggies ‘n spul vetkryte.”
Die vetkryt spook toe heeldag by my, amper soos die Guptas se gevreetjies in Zuma se gewete. Dalk is ons almal nie gemaak om potlode te wees nie. Potlode se punte kan tog so broos wees en hulle nalatenskap kan maklik uitgevee word.
Miskien moet ons meer soos vetkryte raak. Gaan voluit vir alles in die lewe. Maak ‘n dapper afdruk in die samelewing. Wees trots op jouself en moenie dit wat jy die wêreld kan bied deur twyfel onderdruk nie. Wees die beste persoon wie jy kan wees, want mense sal jou tog steeds oordeel. Ons is nie gemaak om soos ander te wees nie. Ek wens byvoorbeeld my tande was so wit soos my danspassies, maar dans is nie vir my nie. So verskil ons almal maar.
Almal kan nie dieselfde ‘kleur’ wees nie, want ons het verskillende kleure nodig om die groter prentjie van ons lewens te voltooi. Ons moet leer om saam met verskillende ‘kleure’ te leef, want op die ou end behoort die helder vetkryt, die stomp vetkryt, die vaal vetkryt en die skerp vetkryt aan dieselfde pakkie.
Omring jouself met mense wat die beste vir jou wil hê, maar ook die mooiste kleure in jou uitbring. Al pas jou kleur dalk nie in by verskeie ander mense s’n nie, onthou dat jy gemaak is om uit te staan en nie in te pas nie. Streef eerder daarna om interessant te wees, in plaas van populêr. Wie wil in elk geval perfek wees, want wat gebeur nou eintlik van daar af?
Kleur bietjie buite die lyne in en jy sal sien selfs deur foute word meesterstukke gebore. Vetkryte is nie gemaak om in dosies te bly nie. Geluk is ‘n keuse. Jou keuse.
*Neologisme: telefoon + pes
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.