Jongste aktiwiteit:

BESKERMENGEL

BESKERMENGEL

Geskryf deur Fanus Strydom

1 909 woorde

 

 

Angelo was geen gewone engel nie, inteendeel…

Reeds sedert sy vroeë engel-kinderdae het hy tekens getoon van ongewone deursettingsvermoë en gedetermineerdheid. Maar, terselfdertyd ook van uiterste hardkoppigheid en eiewysheid. Soms het sy impulsiewe aksies en onbesonne oorhaastigheid amper gegrens aan absolute waansinnigheid! Nie een van die ander beskerm-engel kandidate sou ooit waag om te probeer doen wat hy so gereeld en sonder moeite, of denke aangevang het nie. Meer gereeld as soms met katastrofiese gevolge en tot uiterste frustrasie van die Ouderlinge, die Leermeesters en die verskeie ander Raadgewers van die Uitvoerende Orde. Maar geen mate van waarskuwing, straf of ander vorm van inperking kon Angelo laat afsien van sy planne nie…

 

Vanwaar hy nou op die rand van die afgrond staan waar dit uitkyk oor die eindelose vallei onder hom, hoor hy sy boesemvriend se nuttelose waarskuwing in sy gehoorstuk:

“Angelo, luister na my asseblief! Jy is heeltemal gek om dit te wil doen…!”

 

Gabriël was die agterkleinkind van die engel Gabriël.

Wys voor sy jare en uiters slim.

Die perfekte teenwig vir Angelo se argelose roekeloosheid en blinde onverskrokkenheid.

 

“Ag Gabe, chill my vriend!” gaan Angelo hom egter teë, soos altyd. “Ek wil net eenkeer gaan probeer…moenie worry nie, ek’s terug voor jy nog kan breek vir ʼn ruskansie!”

Hy verstel die klein gehoorstukkie dieper in sy oor in en druk die groen knoppie langs die GPS-kontrole op sy polshorlosie:

“Gabe, hoor jy my nog…?”

Gabriël weet wat kom…, hy leuen vooroor en praat dringend in sy mondstuk in:

“Angelo, waar is jy?! Wat de dinges voer jy nou weer in die mou?!”

 

Maar voor hy nog iets kan sê praat Angelo weer in sy gehoorstuk:

“Hou jy maar net ʼn oog op die monitors en laat my weet hoe lyk dinge aan jou kant van die skerm…onthou: jy is my oë en my ore. En cover vir my…!!”

 

Gabriël druk die rooi knop op sy beheerpaneel…wens om te vloek, maar hy durf nie, want engele mag nie!:

“Angelo, waar is jy?!”

“Waar dink jy is ek…?” hoor hy Angelo lag in sy mondstuk in.

“Moenie vir my sê jy staan by die Verbode Vallei nie, asseblief!”

“Baai Gabe! Sien jou later…!”

 

In die kontrolekamer van die Derde Hemel staar Gabriël in geskokte ongeloof na die skerm voor hom…sien  hoe die klein, rooi liggie meteens al hoe dowwer begin flits soos wat dit oor die afgrond tuimel na benede.

“Angelo…!” roep hy angstig in die mikrofoon in.

Maar al wat hy hoor is stilte.

Hy sien die liggie se sein al hoe flouer word…

 

“Wat gaan aan, Gabriël?” vra een van die Opsigters skielik agter hom. Hy leuen oor Gabriël se skouer.

Gabriël klik vinnig ʼn sleutel op die sleutelbord voor hom om die skerm voor hom te verdonker.

“Niks Meneer…net ʼn vals sein van iewers oor die Verbode Vallei.”

“ʼn Vals sein…?”

“Ja, Meneer. Niks om oor te bekommer nie!”

“Is jy seker?” wil die opsigter weet en leuen vooroor om by Gabriël se monitor uit te kom, maar hy keer met ʼn vinnige hand en wys na ʼn ander skerm voor hom:

“Wat dink u moet ons dáármee maak…?”

Hy wys na ʼn ander flikkerende liggie op die skerm langsaan.

“Hmmm….hou hom dop en hou my op hoogte.”

“Ja, Meneer.”

 

Toe die Opsigter wegdraai, tik Gabriël verbete alternatiewe kombinasies en kodes op die sleutelbord voor hom in om weer kontak te probeer maak met Angelo, maar tevergeefs. Al wat hy kry is ʼn dooie plat-lyn op die skerm voor hom en ʼn gekraak in sy kopstuk.

“Angelo, hoor jy my?!”

Niks.

 

Die rotswand van die afgrond waarop Angelo ʼn oomblik vantevore nog gestaan het, val nou  agter hom weg en verdwyn bo sy kop toe hy spring. In plek daarvan is daar skielik net ʼn oneindige vakuum van leegheid en loeiende wind wat hongerig na sy skoppende bene gryp soos wat hy kop-onderstebo na benede tuimel.

“Gabriël, kan jy my hoor?!” roep hy benoud in die mondstuk voor sy kopskerm in, maar al wat hy hoor is wind en geraas en klankversteurings.

Vêr onder hom sien hy die blinkswart rotse vinnig nader kom…gereed vir hom om homself daarop te pletter te val!

 

Om te val was nie die ideale posisie vir ʼn engel om in te wees nie, veral nie gat-oor-kop soos nou nie. (Dit besef Angelo maar alte goed…engele was nie veronderstel om te val nie. ʼn Gevalle engel was so goed soos ʼn dooie engel!)

“Gabe…!” gil hy weer in die mondstuk in en probeer om homself regop kry, maar hy bly halsoorkop tol en tuimel na benede…

 

Ongeveer ʼn duisend kilometer onder Angelo op aarde, sit ʼn jong man kop-onderstebo op die mat van ʼn klein, beknopte tuinwoonstelletjie. Buite loei die Suid-Ooster onheilspellend deur die dennebome teen die berg. Vlae reën dwing ongeduldig teen die vensters vas. Onder in die hawe stoei reuse golwe hardkoppig teen die Houtbaaise strand op en breek stormagtig oor die hoofpad langs die kaai.

Die voordeur staan oop en ʼn dowwe liglyn skyn matlangs daardeur tot teenaan die seun se bene. By sy voete lê ʼn oorgehaalde pistool, dofblink en koud…

Dieselfde wanhopige gedagte-stem eggo oor en oor deur sy brein; radeloos en sonder rede:

“Dit is verby…ek kan nie meer nie!”

 

Angelo val soos ʼn klip, terwyl hy desperaat stoei en spartel teen die lugsteurings om homself net weer regop te probeer kry. Hy gooi sy kop een laaste maal agter-oor in die hoop om meer wind onder sy vlerke in te kry.Ten einde laaste skop hy sy bene met mening reguit oop agter hom en sprei sy vlerke oop met die laaste greintjie krag wat oor is in sy rug. Toe hy die vlymskerp rotsbanke onder hom al amper kan ruik, tol hy meteens regop en swiep rakelings oor die klipbank onder hom. Hy klap sy vlerke met mening in ʼn laaste, desperate poging om sy noodlottige invalshoek te korrigeer. Op die laaste nippertjie verander sy posisie genadiglik meer horisontaal en begin hy meteens weer hoogte wen. En ten minste was hy darm weer regop! Die ruwe terrein swiep nou blindelings verby onder hom. Hy kan niks sien, behalwe verlatenheid en eindelose, dooie vlaktes nie. Hy vroetel aan sy kopstuk…verstel die nagvisie-kontrole om die terrein voor hom in fokus te probeer kry, maar iets is fout…

Hy probeer weer kontak maak met Gabriël:

“Gabe, hoor jy my…?!”

Niks.

Net kraakgeluide en steurings, selfs in die sigskerm voor sy oë. Hy vlieg blindelings vorentoe, boontoe…of ondertoe, hy’s nie meer seker nie.

Hy het geen idee meer waarnatoe hy oppad is nie!

 

“Angelo…! Kom in!!”

Gabriël probeer alles, maar niks werk nie. Op sy skerm bly Angelo se vlugplan en posisie net ʼn stil, donker geheim…

 

In die dofverligte woonstel teen Hangberg leuen die jongman stadig agteroor…trek een laaste keer ʼn vlak asemteug en buig dan voor-oor vir sy laaste gebed:

“Pa, vergewe my…Here, ek is jammer…”

Toe hy regop kom, druk hy die koue pistool onder sy ken in…

 

Angelo tref die boom met ʼn harde slag halfpad teen die growwe, dik stam op. Voor hom sien hy ʼn steil berghang en ver agter hom ʼn onstuimige kus. Hy klou krampagtig aan ʼn tak bo hom om vasvatplek te kry, maar dan tuimel hy holderstebolder ondertoe. Om hom breek takke en val blare saam met hom grond toe.

“Deksels!” probeer hy gryp na een laaste tak op sy pad ondertoe, dan tref hy die grond met mening plat op sy rug. Hy hoor (en voel!) die harde kraakgeluid in sy regtervlerk…sien die vere stadig neersyg om hom. Dan laat sak hy sy kop stadig agteroor en kyk in die donker hemel in. Vêr bo hom sien hy vir ʼn oomblik die Orionsgordel in ʼn gaping tussen die wolke, voordat dit weer tussen die misnewels verdwyn.

Eers toe besef hy hoe vinnig en hoe ver hy moes geval het…

 

In die woonstel hoor die jongman die dowwe slag iewers buite die oop deur…takke wat kraak en iets wat voor die afdak val. Hy verlig die drukking op die sneller onder sy ken en maak sy oë stadig oop.

Hy kyk na die deur…niks. Net die wind en die reën.

Dan maak hy sy oë weer toe en sit sy vinger terug op die sneller…

 

Angelo sien die dowwe lig skyn buite die geboutjie ʼn entjie voor hom. Hy sukkel moeisaam regop en begin daarheen aanstrompel. Agter hom sleep sy gebreekte regtervlerk slap en leweloos oor die druipnat aarde. By die deur trek hy homself stadig regop en leuen teen die kosyn. Hy kyk na binne…

 

“STOP!!” hoor die jongman meteens ʼn dringende stem agter hom. Hy laat val die wapen voor sy knieë en kyk verskrik om.

In die deur-opening leuen-staan ʼn sopnat-gereënde, modderbesmeerde man met sy een skouer teen die kosyn. Donker haarslierte hang nat teen sy voorkop af oor sy gesig en sy klere lyk hier-en-daar aan flarde geskeur, asof hy in ʼn oorlog was, of ʼn ongeluk… Al staan hy effe vooroor gebuig sien die jongman hoe frisgebou en groot hy is; hy staan amper die hele deuropening vol! Iets wat lyk soos ʼn reuse arendsvlerk hang half-skeef teen sy regtersy af tot op die grond langs hom.

Dan strek hy een hand stadig voor hom uit en pleit weer saggies:

“Om hemelsnaam, stop…”

 

Teen eerste lig die volgende oggend klouter Angelo moeisaam agter die jongman aan teen die steil wand van Hangberg op. Hy’t gesê daar’s ʼn selfoontoring op die berg. Miskien kan Angelo kontak maak van daar af…

Hulle het deur die nag gepraat en uiteindelik het die seun verstaan en ingestem om moed te hou. Om weer te probeer aangaan met die lewe…

Nou wou hy vir Angelo help.

Wou hy hom terugbetaal vir sy onbaatsugtige reddingsdaad gisteraand…

 

Bo-op die berg se piek toring die selfoonmas hoog tot tussen die miswolke in.

“Wag hier…” sê Angelo sag en sit een voet op die eerste spar van die leer teen die toring. Hy vou sy beseerde vlerk versigtig agter sy rug in en begin klim, tot hy tussen die miswolke in verdwyn…

 

In die kontrolekamer van die Derde Hemel kry monitor Nommer 3 meteens lewe voor Gabriël…flikker ʼn dowwe liggie onseker aan-en-af…

“Angelo…?!” roep hy verbaas in sy mondstuk in.

“G..be…hoor jy m…?!”

“Ek hoor jou, Broeder, ek hoor!! Waar is jy?!!”

“…iewers o…Aarde…het ʼn jongman….e lewe…ered…gisternag…”

“O, my liewe Angelo!” lag Gabriël bewoë en vee die trane van blydskap uit sy oë uit.

Dan voel hy ʼn hand op sy skouer…

 

Agter hom leuen Hoof-Superintendent Josephus Konstantin III voor-oor en druk die rooi kommunikasie-knop op die beheerpaneel voor hom. Hy praat in die mikrofoon in:

“Kandidaat beskerm-engel Angelo De Sant-Guillaume, kan jy my hoor?”

“…k hoor,…Super..dent..”

“Besef jy dat jy die Groot Reël oortree het…?”

“Ek…sef, superin..ent..”

“En verstaan jy dat jy daarom nooit weer sal kan terugkeer huis toe nie…?”

“…k verstaan, s..perinten..ent.”

“Angelo De Sant-Guillaume, namens die Raad van Opperbevelvoerders verklaar ek jou dus nou hiermee amptelik as “gevalle engel”… mag die genade, krag en leiding van ons Heilige Opperwese met jou wees, nou en vir altyd.”

“…Super…..dent.., ek is…ammer..”

“Oor en uit.”

 

“Sê asseblief vir Gabriël ek is jammer, ek gaan hom mis en ek is lief vir hom…!” roep Angelo vir oulaas in sy mondstuk in, maar hy kry geen reaksie meer nie.

Op die gekraakte polshorlosie-toestel aan sy arm verdoof die groen kommunikasie-liggie stadig tot niks…

 

©Fanus Strydom




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed