Oorhand met die stank
Nog ‘n verhaal uit die pen van Jan Spies. Dit gaan oor ‘n ander verhaal van ‘n oom JJ Wessels wat vertel het hoe sy kommando voor die Engelse uitgevlug het tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Hy vertel van een vreeslik gesette oubaas in die kommando op daardie stadium daar in Reitz se wêreld. Die oubaas het so ‘n yslike boepens gehad dat hy nie op ‘n perd kon sit nie, te ongemaklik vir hom. Toe’t hy op kommando gegaan met sy treppie, so ‘n twee-disselboomkarretjie wat deur ‘n enkele perd getrek word.
En so wikkel die ou oom dan nou maar, van nie anders kón nie, op sy treppie oral saam waar die kommando gaan. Maar wanneer dit rêrig gefoeter het, was wanneer hulle moes vlug. Dan’s die ou later heel agter en dan trek hy, groot soos hy was, nog die meeste lood ook. En dit was glo vir lank ‘n wonder dat hy nie doodgeskiet of gevang is nie.
Maar op ‘n dag was daar op nerf ná groot moeilikheid. Die Engelse sit weer die kommando agterna en die Boere jaag voor hulle uit. En nie lank nie of die oom met die treppie is weer heelagter.
Hy ‘t vir ‘n groot ent net probeer om aanmekaar twee rante tussen hom en die Engelse te hou. As hy die een bult oorgaan, dan sien hy die Engelse kom op die derde ene agter hom oor. Hy sê maar laters van tyd toe sien hy hulle nie meer nie; toe weet hy hulle haal hom in, want hulle moes toe al in die duik voor die tweede bult agter hom gewees het. En nie lank nie of hy sien daar’s nog net een bult tussen hom en die Engelse oor.
En toe weet hy hy sal vinnig ‘n plan moet prakseer, maar hy weet nie hoe en wat nie.
Gelukkig kom hy in die volgende laagte op ‘n stuk afgebrande veld af. Dié stuk aarde lê toe mooi dwars in sy pad en hy en die Engelse sou reguit daar deurjaag. Die hele toneel lyk kompleet of daar kort tevore ‘n slag plaasgevind het.
En net dáár skiet ‘n plan die oubaas te binne: dit sou vir die Engelse glad nie snaaks wees om ‘n lyk daar te sien lê nie.
Die ou sê hy hou daadlik stil toe hy by die strook afgebrande veld aankom en hy maak dat hy ‘n ent van die treppie af wegkom en hy loop lê op sy rug in die as en die swartgebrande stoppels.
Hy sê: “Maar ek lê natuurlik dwars lat ek my kop kan draai en kan sien as die Engelse aankom. Want as ek met my voete na hulle toe lê, kan ek nie oor my pens sien nie en as ek met my kopkant in hulle rigting lê, dan moet ek my oë amper omdop of ek het geen geseg op hulle nie.”
Nou, só lê hy toe daar dwars.
Hy sê toe die Engelse omtrent sowat ‘n tweehonderd tree van hom af aankom, toe stoot hy sy maag nog spesiaal ‘n bietjie meer uit. Hy sê hy dink: As daar tog net nie ‘n perd in dolle vaart bo-op my te lande kom nie.
Hy sê maar toe die voorste Engelsman so omtrent ‘n vyftig tree van hom af kom, toe gôi die kêrel sy volle gewig op sy een been lat die stiebeuel sommer diékant toe staan, en hy swenk met die perd eenkant toe weg.
Die ou oom sê: “En die Engelsman druk wragtag sy neus toe en hy draai sy kop sóúntoe lat hy nie die stank van dié opgeblaasde mens moet ruik nie.”
Hy sê: “En daar’t ek gesien hoe onnosel ‘n Engelsman is. Soos wat hulle daar aangeja kom, draai hulle die een na die anner die kop weg en druk die neus toe. Elke bokker het natuurlik gedink elke ander een wat sy neus toedruk, het my klaar geruik stink.”
Die ou oom sê: “En hulle jaag álmal daar by my verby, die leste een. En hulle is vir my versigtiger as vir ‘n lewende Boer – natuurlik om hulle bang was ek ontplof.”
Hy sê: “En toe hulle verby is, toe draai ek net my kop na die anner kant toe en ek kyk hulle agterna en ek haal weer ‘n slag ordentlik asem.”
Hy sê: “En toe hulle oor die oorkantste rant is, toe staan ek op en ek skud die as van my af, en ek dink: só sal ek vir julle nog almal uitstink hier uit die Vrystaat uit as dit nie anners kannie.
“En toe klim ek op die treppie en ek ry op my gemak agterna. As hulle my tóé moes gesien het, het hulle héél weggeja. Want hulle sou gegloof het daar het uit die as ‘n groot, swart Boerespook verrys.”
* Jan Spies se Pille vir Servette