Blanko blaaie
Blanko blaaie
My inspirasie is ʼn skelm weghol hasie
my konseptrein staan gerangeer op ʼn verlore stasie
my gedagtebeelde het momenteel geflits, toe dood gestop
niks wil in my skrywershart nesskop
ek sit en staar na waar naak papier vir my lê en loer
na my wat daagliks met my menigte woorde op hulle boer
bleek blanko blaaie bulder in stilte vir aandag
ek skryf siellose, sinnelose sinne sonder impak of krag
my gemoed ʼn swart sak wat nat vasplak teen my skrywerswese
selfs my mooiste gedagtes voel vreemd… verlore… verwese…
d
a
n
ontplof konsep komplot vanuit die dieptes diep binne
skielik word idees woorde, en woorde baar sinne
strofes vloei vrylik uit die ink van my pen
nuwe gedigte en stories vir lesers om te verken.
© Stephan Uys 2018/06/10
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.