Brief uit Europa
Bêre vir my ñ stukkie heuningkoek
uit die Kameeldoring se hol stam
en sê vir die beeswagter, Maloek,
ek kom huistoe as die Marlothi kersierooi vlam –
as Blouberg so kwistig vergeel
en die agtergeblewe voëls
luidkeels
in die Lukwartbome kweel.
Hier in Europa is dit mistroostig nat
die sneeu sprokiesmooi tot op die kerkklok
maar die koue begin my nou vat –
markeer alweer my hart sy pas
in hierdie igloo-blok –
Ja, ek mis die muskadel-nagte
daar voor die swart koolstoof –
al die spekskietstories van oupa Piet
en die traporreltjie se hygende loof
as Ouma se hoë-noot-vat
byna huil van verdriet.
Maar stuur vir my ‘n sonnestraal
soetsappig toegevou in pannekoekkaneel
en onthou om Vonk weer op te saal
en met die Jack Russell bal te gaan speel
en op Ma se vraag of ek al weet wat ek wil hê
staan ek ietwat verleë
maar kan ek dit maar prontuit sê
dis Katryn,
Katryn daar onder die sterre op die walle van ou Lofdal se dam
so, ek kom terug Ma,
terug, sodra die Marlothi
weer kersierooi vlam.
© Elizabeth Greef
4 Kommentare
-
-
neels
elizabeth jou beste werk ooit en verdien beslis n diamant
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Elizabeth, hierdie is darem vir my die mooiste, mooiste gedig... absoluut beautiful !