Daar was ‘n mossie in Parys (vir Natalia ~ lente 2015)
die lenteson kruip weg, my kind
die wind waai koud, ek weet
die wolke lyk na reën, my kind
maar laat ons nooit vergeet:
die witste lelies kelk deur modder
die hardste klip slyp tot diamant
en die mooiste, mooiste sterre
lê tussen ruwe rotse op die sand
*
mag jy woon in kamers
vol musiek en son
waar jou vingers ‘riptide’ oor die klawers
wyl jou parfuum
vir altyd geur in blom
mag jou hare altyd eb en vloed
en so kartel heen en terug
só brander oor jou skouers
so skroomloos stroom
oor jou jongvrou bors
en so bréék
oor die kurwes van jou rug
mag jou lied die leemtes vul
die donker gange van jou huis
mag jy leef met liefd’ en passie
en mag jy sing soos ‘n mossie
soos Edith ~
van Parys
*
die lenteson kruip weg, my kind
die wind waai koud, ek weet
die wolke lyk na reën, my kind
maar teen môre
het ons dit lankal reeds vergeet
C. Shaw
1 September 2015
3 Kommentare
-
neels
Een van Carma se uitstaande gedigte wat ek goed onthou en met n foto by pragtig
-
Kiekies
Al jou gedigte skitter, maar hierdie een skitter selfs helder genoeg om 'n liggie in my hart aan te steek.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Evelyn van der Merwe
Voortreflike wense hier uitgespreek.