Jongste aktiwiteit:

Die pers heks van Blommeland skryf ‘n gedig (oor die liefde)

My liefling –
dit was lente
en ek wou net laf wees (dis maar al)
ek wou bloeisels ruik en lelies pluk
waar hul wit kelk langs die stroompie
teen die skuinste van die wal

en ek wou gaan waar die daisies dans
oor die vlaktes van Namakwaland
en êrens tussen sand en klip
weer kyk hoe Lachenalia* lag
oor die ronding van haar lila lip.

*

My lief –
die voëls van die hemel
is ‘n hadida, ‘n arend
en ‘n duif
en oor die blink dam vlug ‘n kolgans
waar dobbertjies en duikers
oor ‘n spieël van gladde waters dryf.

(Ai, my liefling
hóé moet ek dit sê –
hoe stil ‘n hemelblom* se wieke wag
op die winde
wat nou sag oor stoppellande lê.)

My berg is lank reeds nie meer blou nie
maar rus in purper op die horison
en vanmôre vlam die dagbreek oor die kranse
met strale
wat (satynsag) deur die wolke kom.

*

My lief –
dit was lente
ek wou net liefhê (dis maar al)
tussen erica en steenboksriet
(teen die hange waar daar aalwyn bloei)
hoog bokant die dal

en ek wou bo-op heuwels staan
as die kopermaan verskyn
wyl die laaste son oranje
~ tussen iets en niks ~
oor die westersee verdwyn.

My liefling –
dit was Lente
ek wou jou liefhê . . .
(en dis maar al).

C. Shaw
23 Mei 2015

* Lachenalia ~ ‘n plantjie wat wydverspreid in die sanderige dele van Namakwaland groei.

* hemelblom ~ windpomp




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed