Brief vir Antie Stienie (Liegstorie)
Liewe Stienie
Ai Stienie, ek weet dis vir jou eie beswil vir jou om by Leanatjie te bly, maar ek mis jou vreeslik. Ek hoop jou heuppotjie is gou weer sterk dat jy kan terugkom huistoe. Elke oggend as ek uitgaan sien my gedagtes jou daarop die stoep, sigaretjie in die hand. Ek waai maar elke keer al weet ek jys nie daar nie, net vir in case. Dis niks lekker sonder jou nie.
Hier by ons gaan dit maar soos dit altyd gaan. Doreentjie en Bruce is nog bymekaar, maar hulle hou nie handjies vas nie, want in elke hand is daar mos nou ʼn foon. Dit klink my Bruce wil begin horlosies bou want hys heeltyd besig met Tiktak. Ek weet nie of die instructions snaaks is nie want hy lag heeltyd en wys vir Doreentjie goete en dan lag hulle saam. Doreentjie weer heeltyd besig met ʼn soort faceboek. Ek dink sy leer daar iets van make-up maar sys partykeer sommer vies oor wat die boek wys en dan gooi sy die foon met ʼn gemompel neer. Ek vra nie meer vrae nie Stienie. Ek het eendag vir Doreentjie gevra wat is ʼn bestie en syt my gekyk asof ek saam met Jan van Riebeeck in die Kaap aangekom het en oogrollend gesê: “Ma, ʼn bestie is jou beste pêl, soos Antie Stienie vir Ma is”.
So van die Kaap gepraat. Stienie, jy onthou mos vir Liela? Syt mos altyd die hoesie gehad en mos altyd die botteltjie Borstol so saam gedra en kort-kort ʼn slukkie gevat? Nou die dag vertel ou Misses Nienaber vir my wat met Liela en haar man gebeur het. Jy onthou so jaar of wat terug toe haar man op pension gegaan het, het hulle mos toe iewers Kaap toe getrek. Daar het haar man die security besigheid met kameras begin. Volgens ou Misses Nienaber het die besigheid goed gedoen, maar ai Stienie, die voglug akkordeer toe nie met Liela se bors nie en trek moes hulle toe weer. Die keer trek hulle toe Orania toe. Daar aangekom, wil hulle toe weer begin met die kamera security besigheid, maar binne die eerste paar dae kom hulle agter dit gaan nie werk nie want daars mos nie crime in Orania nie.
Die kinders van vandag wil mos nie meer luister nie. Hulle dink mos hulle weet alles. Jy weet Stienie, Bruce sing mos party aande by sy pub. Die kind het mos ʼn goeie stem, noodvas en als. Die mense kom spesiaal na die pub om hom te hoor sing en hy doen goed. Maar nou wil hy sy naam na Steve verander. Hy sê hy wil famous wees met die plate wat hy gaan maak en hy gaan toer deur die land. Jy weet ook na daai feeste met die baie Kakas in en soos Aardklop in Potch. Haai, ek hoor dis so lekker by hierie feeste. Maar dit kwel my, Stienie. Ek was nou die dag in die dorp om vir Hans ʼn plaat van Jim Reeves te koop vir sy birthday, maar die plateplek het toegemaak. Hoe wil Bruce nou plate maak en dit bestaan nie eers meer nie? Ek sê maar niks want niemand luister anyway vir my nie. Dis maar hoekom ek vir jou skryf, want jy luister altyd.
Doreentjie doen nog in die aand die poledancing ding, want in die dag help sy uit by die pub. Sy het so rukkie terug haar enkel seergemaak, maar die werksplekke gee mos nie meer siek leave nie. Haar baas het gesê ʼn poledancer het net lyf nodig want hulle staan maar min op hulle voete. Sy het toe maar ʼn lap met blinkertjies op gekoop om om haar enkel te draai om te lyk of dit deel van die show is en maar ʼn Grandpa gesluk vir die pyn. Sys darem nou weer oraait.
Die blinkertjies laat my nou terugdink toe ek en jy in ‘Agter elke man’ op TV3 gespeel het. Onthou jy die mense op straat het ons aangekyk soos celebraties. Almal het ons geken! Dit was sulke lekker tye gewees en ons het ook darem so ʼn ietsie daarvoor gekry. Onthou jy Stienie, toe Leanatjie ons na daai grênd partytjie toe genooi het? Ons het mos vir ons elkeen so colorful sarie by Misses Naidoo se winkel op die hoek gaan koop: ek het so ʼn bright pienke gekoop en jy so bright groene. Ek onthou ons het laat by die party aangekom, want die taxi het te veel stoppe gemaak. Onthou jy hoe verbaas die vrouens wat daar was gelyk het, hoe hulle agter hulle hande gepraat het en gelag het oor hoe stunning ons lyk. Leanatjie se bek het behoorlik oopgehang. Ons het lekker memories van saamwees.
Hans sukkel nogsteeds met sy maag. Sonder om te lieg kan ek sê ek is die een wat die meeste suffer. Ek het nou ʼn kombersie vasgemaak bo die matras onder die laken. Ek het vir hom gesê dis om ons heupe warm te hou want kyk net wat het met jou heup gebeur. Darem glo hy dit. Jy weet hoe erge werk dit is om ʼn kol uit die matras te kry, maar Stienie, dis wat elke week gebeur nadat hy perde gespeel het. Hy gaan sit dan in Bruce se pub en wag vir die results van die reisies en good luck of bad luck, hy het altyd rede om te drink. Wat ek nie verstaan van die wêreld waarin ons nou leef nie: hulle het al enige iets uitgevind behalwe brieke vir brandewyn en coke.
Ons sukkel maar met die geld Stienie. Nou die annerdag was hier ʼn man wat na die Cortina in die garage wou kom kyk. Hy sê die model is antique en Hans kan baie geld kry daarvoor, maar Hans wil nie eers die garage oopsluit sodat die man kan kyk nie. Hy sê hy het nie die geld nodig nie; hy wag vir die dag wat sy perd inkom. Bruce sê as ons daai kar gestart kan kry, sal ons agterkom die radio is nog op Sprinbokradio getune.
Noulat ons so praat oor die geldjies wat min is en die saries wat ons gedra het. Daar het ʼn dansplek oorkant Doreentjie se werkplek oopgemaak wat ook poledancers soek. Dit het my nou aan die dink gesit Stienie. Ek het mos destyds gegaan vir danslesse by die ‘Penguin walk studios’ tot Hans dit gestop het want hy sê die sharks hou my dop. Ek wil aansoek doen vir die poledancing. Ek het vir Hans gevra hy moet vir my hier in die agterplaas ʼn paal opsit waar ek kan oefen maar hy wil niks weet nie. Hy sê ek moet ook nie eers dink daaraan om op die straat se lamppale te oefen nie want die pale lê hoeka klaar skeef.
Ek het my mind opgemaak Stienie. Ek wil weer soos ʼn celebraty wees. Ek gaan die pienk sarie bietjie opvou vir korter maak. Ek sal die highheels los tot ek by oudisie kom. Die man sê mos jy ganie lank op jou voete wees nie. Ek dink die moves wat ‘Penguin walk’ vir my geleer het sal my baie help. Nout ek gewonder Stienie, as jy op een van daai hoë stoeltjies van Leanatjie se bar sit, sal jy my hare kan perm? Bruce het gesê hy sal my met die bike na jou toe vat, maar ek moet my helmet ophou tot ek by jou in die huis is. Ek dink partykeer my familie kry skaam vir my. Ek kon jou gebel het maar my airtime is op. Bruce het belowe om die brief môre oppad pub toe vir jou te gaan gee.
Dink daaroor Stienie, ek wil nie ʼn las wees nie. Bel asseblief om te sê wanneer.
Jou bestie
Sarie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Tearlach
Dit geniet dankie.