Dagmerrie (silwer)
Oor jare het ek dit ongeduldig begeer
die landelike eenvoud, verbind aan die grond
geen offer te groot, heilig die verbond
van die droom se diepkant sou ek anderdag leer
Elke dag word ‘n reis, saaityd, lamtyd en skeer
die helder sternagte, ons leef aan die front
die voorreg van boerwees bring lof na my mond
my sweterige plaashoed kan doen met ‘n veer
Maar meedoënloos kom teëspoed, blus my bravade
die vreugde word stukkie vir stukkie versmoor
ek spartel wanhopig teen die rente se skade
tot ek druipstert erken, my droom het ontspoor
en die dagmerrie laat my dolleeg maar gelade
want die bitter en soet word ‘n dralende koor
-cs-
Neologisme :
Dagmerrie – ‘n droom helder oordag verkrummel
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Oktober 2024 – Afrikaanse woord projek