Dam sonder water
(Woordtelling : 453)
Dit was met die grootste skok en verbasing wat ons tussen Aberdeen en Willowmore ʼn dolleë dam gesien het. Was die droogte dan so erg, of was dit bloot nalatigheid van die regering? Of dalk, soos in die geval van die nuut geboude, maar ongebruikte skool, ʼn dam wat op die verkeerde plek gebou is?
Die Beervlei Dam se damwal van 31m wat op die klipharde grond staan gemaak is, het oënskynlik geen doel nie. Dit staan daar soos ʼn reuse monument van letterlik niks. Groen gras groei welig en dik op die uitgespreide area waar ons water verwag. Tog, die dam is nie leeg weens ʼn uitgerekte Karoo-droogte nie, maar is veronderstel om leeg te wees!
Waar in jou lewe het mens ooit gehoor dat daar ʼn dam gebou word en dit leeg moet wees? Dit klink so effens na ʼn vermorsing van geld, dan nie?
Die dam wat in 1957 voltooi was, het ʼn kapasiteit van 85,800,00 kubieke meter en beslaan ʼn area van 23 vierkante kilometer. Na die goeie reën in die Karoo gedurende Desember 2021 en Januarie 2022, was daar vir die eerste keer in 20 jaar water in die Beervlei dam.
Die hoofdoel van die dam is egter om vloede te beheer en te keer dat die boere se grond nie wegspoel wanneer dit sou reën nie. Dit voorsien ook nie die dorpe in die omgewing van enige water nie. Met die goeie reën en die dam byna vol, was alles stroomaf, die dorpe inkluis, veilig. Naastenby 500 miljoen liters water is stadig vrygelaat tot die dam weer heeltemal leeg was.
Omdat die Karoo-grond so baie sout bevat, kan hierdie water nie opgegaar word nie en is dit nie geskik vir menslike gebruik nie. Die boere is egter baie bly vir die ekstra water, al is dit net vir ʼn kort tydjie beskikbaar. Dit word stadig vrygelaat sodat alles wat stroomaf is, veilig is.
Maar waar kom hierdie vreemde naam vandaan? Die dam lyk nie eens soos ʼn bierbottel nie, en is ook nie gebou deur ʼn Mnr. of Mev. (de) Beer nie. Baie damme word egter wel na ʼn dier vernoem, maar daar is immers nie bere in Suid-Afrika nie.
Die plaaslike Khoikhoi naam vir die area is Udigaugau, wat aartvark beteken, ʼn dier wat volop in die omgewing voorkom. Die manlike vorm van die aartvark is ʼn “beer”, en die vlei is die plek waar die water na ʼn goeie reënseisoen vergader. Dit is ʼn lang verduideliking van ʼn naam wat uit drie tale geskep is, Khoikhoi, Engels en Afrikaans. Dit is egter die mees logiese verklaring vir die vreemde naam van ʼn nog vreemder dam wat bedoel is om geen water in te hê nie.
Bronne : https://en.wikipedia.org/wiki/Beervlei_Dam
https://www.karooheartland.com/listings/beervlei-dam/
https://galavantingwithkathryncostello.blog/2022/10/18/the-beervlei-dam/
©Susann Moolman
1 Kommentaar
Lewer Kommentaar
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Februarie 2025 – Water projek