Dans van dankbaarheid . . .
Nelmarie van Greunen raak stadig wakker. Sy is half deur die blare. Hoekom voel dit asof sy iets moet onthou. ‘n Diep frons ontsier haar pragtige gelaat. ‘n Voorval of gebeurtenis wat haar die vorige dag baie ontstel het. Dan slaan dit haar soos ‘n voorhamer tussen die oë – haar vriend wat sy al van voor skool af mee maats is, Jeandre Verhoef, se vrou het gister ‘n dubbele mastektomie ondergaan! Sommer net so, so skielik.
Sy lê vir ‘n oomblik roerloos. Die laaste sewe maande flits soos ʼn rolprent voor haar geestesoog verby.
Dit het alles in April op ʼn mooi somersdag begin. Sy onthou dit soos gister. Haar selfoon het gelui terwyl sy besig was om haar werkstasie op te pak vir die dag. Sy het gemerk dat dit haar kerk-ma, soos sy haar noem, is. Sy het Tannie Kate en oom Michael by die kerk ontmoet. Oor die laaste agt jaar het hulle soos haar ouers geraak en sy vir hulle die kind wat hulle nooit gehad het nie. Sy het skaars tannie Kate se stem gehoor soos wat sy gehuil het. Wanneer sy haarself uiteindelik tot bedaring gekry het, het die woorde gekom wat haar lewe vergoed sou verander: “Nelmarietjie, my kind, jou oom Michael het klierkanker. Sy hele liggaam is deurtrek.”
Vir ʼn sekonde het sy net verstar gestaan met die telefoon in die hand, tot sy besef het dit gaan nie nou oor haar nie. Haar Tannie Kate het haar nodig, het nodig dat sy sterk moet wees. Haar Tannie Kate het net vir oom Michael. Hy is nie net haar man nie, hy is haar vriend, haar familie, haar alles. Dapper het sy dit uitgekry, ‘ons sal bid my tante’.
Daardie dag het die bitter pad en stryd teen kanker vir haar tannie Kate en oom Michael begin. ʼn Pad wat Nelmarie saam-saam sou moes stap. ʼn Pad waar sy moes daagliks toesien hoe haar geliefde weg kwyn voor haar en Nelmarie haar enigste ondersteuning was. Die enigste een wat werklik verstaan het, by wie sy kon huil, by wie sy kon hoop vind.
Pas nadat oom Michael en tannie Kate vertrek het, hulle was by haar tuis terwyl hy sy bestraling gekry het, kry Nelmarie ʼn oproep van haar dierbare vriendin Carin. Sy was opgewonde om die oproep te neem. Sy was half emosioneel gedreineer na twee weke van hospitaal in en uit met tannie Kate en oom Micheal. Carin is so ʼn opgewekte persoon, dit is net wat sy nou nodig het. Haar opgewondenheid sou bitter vinnig soos mis voor die son verdwyn. Sy hoor dadelik dat daar groot fout met haar vriendin is, daar is geen lag in haar so bekende stem nie. Sy borrel nie soos altyd oor nie. “Nelmarie, ek is in die Kaap vir toetse. Hulle het my vandag meegedeel ek klierkanker het, dit is al baie ver gevorder.”
Nelmarie het nie woorde gehad nie, binne ʼn maand is twee mense baie naby aan haar met dieselfde verterende, uitmergelende siekte gediagnoseer. In die tien dae wat volg sukkel sy haar geweldig om kontak te maak met Carin. Sy kry haar net nie in die hande nie, en sy het ʼn dringendheid om met haar vriendin te praat. Sy besef sy is in die Kaap, maar sy moet net met haar praat. Daardie Saterdag, die tweede Julie, was sy vasberade. Sy gaan vir ʼn laaste maal probeer om Carin se selfoonnommer te skakel. Dit het uiteindelik gelui!
Dan hoor sy die moeisame stem wat net ʼn skadu is van die stem wat menigte laserskywe voort gebring het. Haar vriendin het moeg, lewens moeg geklink. In ongeloof luister sy na haar eens opgewekte, lewensblye vriendin se bitter moeë, vermoeide stem. Geen borrel lag, geen grappies, geen belofte van weer sien. Toe hul die verbinding verbreek, het sy verseker geweet dat dit die laaste maal was wat sy met haar dierbare, borrelende vriendin gepraat het.
Hoe het dit gebeur? Hoe is dit moontlik? Net twee weke nadat sy haar die eerste maal geskakel het om haar mee te deel dat sy kanker het. Nou is sy sterwend! Duidelik hoorbaar sterwend.
Nelmarie is verslae en plat geslaan. ʼn Maand en ʼn half later kry sy die oproep wat sy voor gewag het – Carin is oorlede. Haar hart was stukkend, haar lewens lus het verdwyn, sy het geen woorde gevind vir ʼn gedig of storie nie, sy was leeg. Dit het gevoel of Carin haar woorde saam geneem het.
Sy het egter nie ʼn keuse gehad as om aan te gaan en sterk te staan nie. Op Langstand het oom Micheal nog moedig voort geveg en tannie Kate het nog leun swaar op haar geleun. Middel September het sy net geweet dat dit tyd was om af te ry, tyd om al is dit net vir ʼn naweek die las vir tannie Kate ligter te gaan maak.
Die Vrydagaand toe sy daar afklim na haar drie ure lange rit, het sy ʼn verwese vrou gevind, wat baie naby aan die einde van haar kragte gekom het. Tannie Kate het ook net daar in haar arms geval en het haarself oor gegee aan die trane. Die Saterdag het hulle vir oom Michael in die hospitaal gaan kuier. Daar het sy net ʼn skaduwee van die eens forse, gesonde man gevind, met oë diep in sy kop in versonke.
Met die groet het sy geweet sy dat sy vir ʼn tweede maal binne vier maande ʼn geliefde vir die laaste maal gegroet het. Daardie middag groet sy tannie Kate met die belofte dat sy in haar spore sal omdraai as sy haar nodig het. Net vier en twintig uur later het sy weer die drie honderd kilometer kus toe aangepak, oom Michael is oorlede.
Met haar terug keer na ʼn week van roudiens reëlings, en al die ontelbare dinge wat in orde gekry moet word dat Tannie Kate kan aangaan om te leef van dag tot dag en genoeg fondse beskikbaar kan hê, was sy sielsmoeg en emosioneel gedreineer.
Daardie aand begin sy met ʼn skool vriendin op vonkpos gesels deur dood luiters te vra hoe dit met haar gaan na hul reünie. Net ʼn maand gelede het hul matriekklas hul veertigste reünie gevier, en die vriendin was die voorslag organiseerder daar van. Die antwoord was geensins wat sy verwag het nie. Haar vriendin is na ‘n maande van toetse en behandeling gediagnoseer met Evans Sindroom, ʼn outo-immuun bloedsiekte waarvoor daar geen genesing is nie. Die goeie nuus is hulle kan dit vir die res van haar lewe behandel met bloedoortappings elke twee weke, yster aanvullings binne-aars en Vitamien B12 aanvullings.
Nelmarie is die enigste van haar vriendinne wie sy met hierdie nuus vertrou het. Weer raak sy die een wat bid, die een wat bel, die een wat bemoedig en opbeur. Sy doen dit met ʼn omgee hart.
Dan die nuus oor Jeandre Verhoef se vrou waarvan albei borste afgesit is!
Nelmarie spring uit haar bed soos ʼn koëel uit ʼn geweer. Die besef dat sy ʼn baie geseënde vrou is om op byna sestig so gesond te wees, tref haar voor haar bors. Sy drink nie eers bloeddruk of cholesterol tablette nie. Dankbaarheid laat haar soos ʼn tiener na haar laserskyfspeler huppel. Sy skakel dit aan en so in haar slaap klere dans sy op die klanke van Carin se laaste laserskyf. Sy dans by haar kamerdeur uit, sluit haar patio se deure oop en dans na buite waar die son se strale warm en verfrissend oor haar kaal arms streel.
Sy word haar gewaar van die buurman wat van sy balkon met verbasing na haar staar. Dit bring haar glad nie van stryk nie, sy dans asof niemand na haar kyk nie. Van struik na stuik dans sy. Sy gee nie om wie haar sien nie, sy is dankbaar dat sy kan dans, dat sy geseënd is met gesondheid. Sy is dankbaar dat sy vir tannie Kate daar kon wees en nog steeds daar is. Dat sy Carin se man daagliks kan vertroos, al is dit net oor die telefoon, en soms ook saam met hom kan huil. Sy is dankbaar dat sy daar kan wees vir Hilma en haar kon bemoedig in die tyd voor die uitslag bekend was en die vrees vir haar ondraaglik was en kan bly bemoedig op die moeilike dae.
Sy wil dans solank sy lewe, soveel as sy kan, sy het rede om die lewe te vier, want die Vader seën haar om ʼn steunpilaar vir ander te wees.
Sy het rede om te lag en rede om te dans asof niemand kyk nie . . .
©Marsofine Krynauw
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek – Dans asof niemand sien nie