
DIE ANDER VROU
Ek kyk na die gesig in die spieël. Blink oë en appelkoos wange. Nie omdat ek sopas uit ‘n lekker warm bad geklim het nie, maar oor die gebeure van die afgelope
vier-en-twintig uur. Ek het vanoggend wakker geword as ‘n mevrou met haar eerste huweliksnag agter die blad. My maag kla my aan met ‘n onaardse gegrom.
My trourok het te styf gesit en daar was so baie mense wat wou groet en gesels,
ek kon skaars twee happe van die groot bord kos inkry. Gelukkig het die wedding coordinator dit goed gedink om vir ons van die kos uit te hou. Ek gooi ‘n snoesige wit japon oor my skouers en loop by die badkamer uit met die woord Mevrou op my rug geborduur.
In ons honeymoon suite, op die grond, lê die ander wit japon in ‘n bondel.
Die M en die E van Meneer steek tussen die voue uit. My oë soek na die meneer van die japon, verlore in die lakens op die groot hemelbed. Daar is nie ‘n beweging van sy kant af nie. Op my tone, beweeg ek na die klein kombuisie toe en maak die yskas oop. Dit is volgepak met vars vrugte, lekkergoed en oorskiet troukos.Boud, hoender, slaai en selfs ‘n bakkie met troukoek.Koek vir ontbyt, besluit ek en haal die bakkie uit.Op die kas tussen mooi blomme en hartjies wat oral gestrooi lê, staan ‘n oop bottel vonkelwyn. Ons het daarvan gedrink na hy my kwart oor twee vanoggend oor die drumpel probeer dra het. In die verspotte poging het hy die trourok raak getrap en ons het die kamer binnegeval. Die rok het geskeur en hy het ‘n gekneusde knie, maar ons was te vrolik en jolig om ons toé daaraan te steur. Ek vat die bottelen troukoek en gaan sit op ‘n sagte bankie in die ander hoek van die vertrek. Met vyf gulsige happe is die een stuk koek in my lyf. Die ander stukkie sal ek vir hom bêre. Ek sluk die koek af met vonkelwyn, sommer so uit die bottel.
My oë streel oor die breë skouers en swart hare van die man in die hemelbed. My man. Hy was eers ‘n ander vrou se man, maar nou is hy mý man. Waar het dit alles begin? Waar het óns begin? Toe ons vyf jaar gelede vir die eerste keer ontmoet het? Toe hy sy huweliksprobleme met my begin bespreek het of by daai soen twee somers terug? Meskien het dit tog begin toe ek Deon ontmoet het. Meskien was dit toe al reeds in ons sterre geskryf dat ons saam sou op eindig, maar hy was met ons ontmoeting reeds in ‘n verhouding met Adeline en ek het niks in hom gesien wat my opgewonde gemaak het nie. Verstaan my mooi, ek is nie een van daai meisies wat genot daaruit put om in ander se slaaie te krap nie.
Ek haat dit as iemand nie iemand anders se verhouding kan uitlos nie en van ‘n getroude of verhoudingbesette man, bly ek ver weg. So al was dit êrens in ‘n ster of drie geskryf, was dit beslis nie my of Deon se idee omte sit waar ons vandag sit nie. Ons was net vriende, ek belowe. Ek, hy, Adeline en ‘n klompie ander jonges het in ‘n japtrap ‘n hegte vriendekring gevorm in ons studente jeugdelikheid.
Toe word ons groot, kry werke en trek weg uit Stellenbosch. Ek kry werk op ‘n perdeplaas in Wellington en hy en Adeline kry elkeen ‘n rekenmeesterspos.Ook in Wellington. Sou dit deel weesvan die sterre se storie? Ons Stellenbosch-vriende bly ook teenaan; een of twee skuif Paarl toe en die res gooi anker in die omgewing rondom Wellington. Die sosiale aanpassing was dus nie te groot nie. Een of twee keer ‘n maand kom ons klomp by mekaar vir ‘n lekker kuier en opvangsessie. Meestal by my plek, want saam met my werk as onderbestuurder op die perdeplaas, het ek die lieflikste tweeslaapkamer huisie gescore. Adeline en Deon het gereeld oorgekom. Deur Adeline ontmoet ek ‘n nuwe meisie, Sylvia, wat toe ook my beste vriendin word. Ek en Adeline kom goed oor die weg, maar verskil soos dag en nag. Sy is ‘n konformis. Iemand wat by die reëls en voorskrifte hou. Ek is die rabbedoe wat in geen boksie kan pas nie.
Maande gaan verby en Deon raak verloof aan Adeline. So tussen die stories en dinge hoor ek dat hy voor haar in ‘n baie lang en ernstige verhouding was. Daar word dikwels gespot in die vriendekring dat Deon vir Adeline gevat het om oor die ander meisie te kom, maar stories bly stories en een mooi lentedag haak die twee die knoop deur. My date vir hulle troue was ‘n outjie met wie ek vir ‘n rukkie uitgegaan het. Ons was sewe maande saam toe hy op ‘n dag my uitvat vir milkshake om op te breek. Ek het myself met hart en siel aan hom verbind, maar omdat ek nie bereid was om die ligaamlike ook aan hom oor te gee nie, het hy die verhouding stop gesit. So onkonformisties soos wat ek kan wees, het ek tog ook my beginsels. Ek wou myself seksueel spaar vir die man met wie ek sou trou. Ek het nie ‘n probleem met seks voor die huwelik nie, maar ek het dit van die begin af vir myself baie duidelik gemaak dat ek myself met hart, siel én liggaam aan ‘n man sal oorgeenet as ek met my hele bestaan weet hy is dié een.
Die beïndiging van die verhouding was nie so erg vir my nie, maar wel vir my ego. Die skarmunkel loop toe na die tyd en vertel vir almal die rede hoekom hy nie langer met my wou uithou nie. Pleks hy net sy mond hou en aanbeweeg na groener weivelde tussen oopgegooide bene. Na sy openbare beskuldigings voel ek soos ‘n terughoudende kloosterkoek en ek begin my toe ook soos een gedra. Ek vermy verhoudings of die moontlike begin daarvan, geniet en kuier saam met my vriende en familie en leef my uit tussen die perde en my werk.Met my nuwe leefstyl en besigbly, kom ek nie agter dat dinge haaks raak tussen Adeline en Deon nie.
“Die twee baklei konstant.” vertel Sylvia op ‘n dag vir my. Gou word dit vir almal duidelik dat daar problem tussen die twee is. Wanneer daar in die groep saam gekuier word, praat Deon en Adeline nie ‘n woord met mekaar nie en soms daag hy alleen by die kuiers op. Gee dan net ‘n verskoning dat Adeline siek is of te veel werk het wat ingehaal moet word.
Ek is dom met sulke situasies. Hoe troos mens ‘n vriendin wat met huweliksprobleme worstel, maar jy is nie veronderstel om daarvan te weet nie? Ek reik uit na Adeline, stuur boodskappies en laat lewer blomme by haar werk af, maar hoor niks. Min het ek toe geweet dat dit nie vir Adeline is wat my troos bedoel was nie. Een Vrydagmiddag daag Deon onverwags by die perdeplaas op. Alleen.
“Ek is jammer, ek wil nie pla nie.” het hy verskoning gemaak. “Ek moet net uit die huis kom. Vars lug kry.”
Deon wou afpak en oopmaak oor ‘n huwelik wat meer pyn as vreugde gee. Ek het nie ‘n issue daarmee gehad nie. Hy en Adeline was tog beide my vriende en as vriende hulp nodig het, help jy. Wanneer hy by die plaas was, het ek ‘n perd vir ons elkeen opgesaal en ons het die vlaktes in gegalop. “Perdry is terapeuties.Hulle voel mense se hartseer aan.” het ek gesê. “Die natuur en opelug sal jou ook laat beter voel.”Met elke kuier so op die perde se rue, vou die verhaal van Deon en Adeline oop. Hy vertel van haar obsessie met mooi en duur besittings, sy dring aan op dinge wat hulle begroting in sy maai maak. Adeline kan nie kook nie. Adeline kan praat en kuier met wie sy wil, maar Deon se vriende moet sý eers goedkeur. Adeline wil nie kinders hê nie. Adeline is ‘n perfeksionis. Adeline se werk kom eerste.Adeline dít, Adeline dát.“Deon, jy moet met Adeline oor dié goed praat.” sê ek.
Hy het al, maar Adeline wil nie hoor nie. Sy sê die fout lê by hom.
Iets het in my binneste begin draai. Ek kon nie weer na Adeline met dieselfde oë kyk nie. Ook nie na Deon nie. Ek het saam met Deon die frustrasie begin voel, saam met hom kwaad en hartseer geraak oor haar hardkoppige selfsug waaraan Adeline vasklou. Ek het vir hóm begin voel.
Die kuiers saam met die vriendekring het minder geword. Die ding met Deon en Adeline het almal ongemaklik gehad. Sylvia is my vertroueling, my go-to-person.
Ek vertel haar van die perdry afsprake, van die donker dinge tussen Deon en Adeline. Sylvia stem saam; arme Deon en Adeline is verkeerd. Maar Sylvia is ook bekommerd oor my. “Hoekom?” wil ek by haar weet.
“Mense gaan begin praat as hulle weet Deon kuier alleen by jou.”
Voor sy dit gesê het, het ek nog nie eens self daaraan gedink nie. Sylvia is reg, dit kan niks goeds afgee as Deon se besoeke aan die perdeplaas by Adeline uitkom nie.
Een snikhete Desembermiddag kom Deon weer by my aan.Ek skraap alle moed bymekaar. Vandag moet ek hom sê dat hy nie meer kan kom perdry nie, maar ek kan nie help om te voel dat ek ‘n reeds gevalde hond, verder skop nie.Sy reaksie het in my hart gesny. “Jy kan dit nie aan my doen nie. Asseblief, ek vra jou mooi. Hierdie tye by jou is die een ding wat my nou aan die gang hou.” Hy het dadelik omverskoning gevra, ingeval dit verkeerd uitgekom het. Hy bedoel maar net die perdry kuiers doen hom goed. Maar die woorde was uit en die twyfel het in my kop kom lê. Twyfel oor die woordjie vriende.Die twyfel het daardie selfde dag rigting gekry toe ons terugkom van die veld af. Ons het die perde koud gelei en afgesaal. Ek het die toerusting in die stalle gaan ophang. Met ‘n omdraai slag, hak my voet agter ‘n ongelykte stuk sement in die vloer en ek struikel. Soos ‘n voorspelbare toneel uit ‘n fliek, staan Deon toevallig reg om my val te stuit. Ek val soos ‘n sak aartappels teen hom vas, in sy arms in. Sterk arms wat ommy lyf vou en ophelp. Met my hande teen sy bors gedruk, het ek my balans herwin en my kop opgelig. My mond was by sy neus. Sy donker oë het afgekyk na my. Hy het sy kop effens laat sak, sy mond nader aan myne gebring. ‘nElektriese tinteling het oor my vel gehardloop. My hande was steeds teen sy bors, maar ek het hom nie weggedruk nie. Toe sy mond myne raak, het ek my oë toegemaak. Dit was vurig en intens, maar sag. Sy mond was so sag. Sy asem reëlmatig en sy soekende tong, warm.
Realiteit het die droomoomblik binnegedring en ek het my kop weggeruk en verskrik opgekyk na hom. Ek het ‘n ander vrou se man gesoen.
My wêreld was op sy kop gedraai. Vriendskap was nie meer die beskrywing vir die ding tussen my en Doen nie. Ons het mekaar omverskoning gevra en vir dae daarna nie met mekaar gepraat nie. Die perdry-kuiers was vir eers iets van die verlede. Maar die stilte hou nie lank nie. Ek kry ‘n boodskap waarin hy vra of hy weer kan kom kuier. Ek stem in. Deon kom weer, maar nie om perd te ry nie, hy wil praat oor die soen. Beide van ons is geseënd met ‘n redelike sin vir humor. Ons terg mekaar oor die gebeurtenis, maar die erns van die saak lê vlak. “Ek is nie spyt nie.” sê hy. Ek was ook nie spyt nie, maar ek het hom maak belowe dat dit nie weer sal gebeur nie. Hy belowe. Solank ons weer fine is, hoop hy, want hy wil my nie in sy lewe verloor nie. “Jy sal nie.” troos ek, maar sê hom ook dat daar geen fisiese kontak tussen ons mag wees nie. Geen groetdrukkies of perongeluk aan mekaar raak nie. Ons vermy aanrakings wat die plofbare vibe gaan laat vlamvat. Ons kom tot die vergelyk dat ons van mekaar hou, maar dis waar dit sal bly, want hy is getroud. Ons gaan nie van hom ‘n cheater maak nie, en van my ook nie die vrou wat in ‘n andervrou se slaai krap nie.
Dae gaan verby en dinge verloop goed. Ons ry perd een keer ‘n week en gesels nie meer oor Adeline of die stukkende huwelik nie, maar oor ditjies en datjies. Oor mekaar se grootwordjare en belangstellings. Ek en Deon leer ken mekaar van vooraf. Maar die soen bly hang in die lug en met die aanbreek van Februarie, die liefdesmaand, maak Deon weer sy hart oop. Hy wil van Adeline skei.
“En wat dan?” wou ek geskok weet. Ek het meer geskrik vir die woord skei.Dis so kras, so finaal. Deon het erken hy wou by my wees, vir die res van sy dae.
“Jy gaan nie jou vrou los vir my nie.” het ek met hom geraas.
“Ek los haar nie vir jou nie. Ek en Adeline is lankal nie meer gelukkig nie, jy weet dit tog.” Ek het dit geweet ja, maar ek het vasgeskop. As hy dan wou skei, moes hy skei, maar tot dan moes hy ver weg blyvan my. Ek wil nie as die rede vir hulle opbreek aangesien word nie. Ek wil ook nie die sleutel wees vir die tronk van ‘n huwelik waarin hy was nie. Wanneer mense na sleutels vir vryheid soek en dit kry, los hulle die sleutels saam met tronk agter en beweeg aan.
Ek was bang hy skei Adeline, spandeer ‘n paar maande saam met my, net om weer na die volgende fase van sy lewe aan te beweeg. Ek was bang hy doen aan my wat hy nou aan Adeline doen. Dit het Deon seergemaak dat ek met sulke gedagtes rondloop, maar hy het verstaan.
Die geveg om ‘n egskeiding was brutaal. Adeline het vasgeskop soos ‘n steeksdonkie. Sy het gedreig en gesoebat en die proses het ‘n moordende jaar geduur. Ek het by tye gewonder of hy werklik met die egskeiding voortgaan, of Adeline hom nie oorreed het om te bly nie. Of Adeline nie al intussen uitgevind het van ons nie. Ons vriendekring was salig onbewus van die hele drama. Al waarvan hulle wel geweet het, was die egskeiding. Ons kuiers en opvangsessies het weer voort gegaan, maar sonder Adeline en Deon. Hulle het kontak met almal om hulle verbeek. Dit het my gebreek, want ek het verlang en my kop was mal oor al die goeters wat ek myself wys gemaak het. Sylvia moes verby kom. Ek het my uitgehuil by haar, die goeters in my kop afgelaai voor haar voete. Dan het sy getroos en weer moed ingepraat.
“As julle vir mekaar bedoelis, sal julle bymekaar uitkom, Sweety. As dit in julle sterre geskryf is, gaan nie een van julle dit kan keer nie.”
Dis waar ek die eerste keer aan die ding van die storie-in-die-sterre gekom het.
Dit was ‘n jaar na Deon en Adeline se egskeiding en die stilte tussen ons was ondraaglik. Dit het baie selfbeheersing gekos om nie die foon op te tel en hom te bel nie. Dit was afterall mý reëling dat ons kontak verbreek tot als tussen hulle verby is. Die tweede deel van die reëling was ook dat hy dan daarna eerste moet kontak maak. Meskien is dinge nog nie heeltemal verby nie, het ek gedink. Meskien is dit, maar voel hy nie meer dieselfde oor my nie. Een aand in Maart, sleep Sylvia my saam Taalmonument toe, vir ‘n opelug musiekfees onder die sterre. Daar aangekom, gooi Sylvia ‘n kombersie oop vir ons om op te sit. Oral om ons was groepies mense, reeds tuisgemaak op hulle kombersies tussen piekniekmandjies. Toe ek gaan sit, sê Sylvia koebaai. “Hoe nou?” wou ek weet.Sy het geglimlag en met haar kop in die rigting agter my beduie. Ek het om gekyk en twee bene gesien. My oë het met die bene opgeklim, oor die bekende breë skouers tot in die donker oë. Deon!
Hy het die piekniekmandjie by Sylvia gevat en haar bedank. Sy het ons gegroet en verdwyn. Deon het langs my kom sit en my hand gevat. Die elektrise tinteling het weer oor my vel gehardloop. Ek het opgekyk en die sterre bo ons sien skitter.
Die afspraak by die Taalmonument was Deon se idee, hy het dit met Sylvia gereël. Lekker agter my rug gekonkel, dié twee, want, sou ek later uitvind; al het ek in stilte geleef en wag vir die dag om weer van hom te hoor, het hy gereeld met my vriendin gepraat om te hoor hoe dit gaan. Sylvia was natuurlik ook bewus van hoe dit met hom gaan en hoe die skeisaak vorder, dié dat sy my so koon troos en moed inpraat.
Adeline het op die ou end van my en Deon uitgevind en haar eie aflydings gemaak. Sy was woedend. Kort na my en Deon se verlowing het sy pad gevat uit Wellington en woon nou êrens in Pretoria. Ons vriendekring was verheug in ons geluk en het die verhouding verwelkom.
Die slapende man op die hemelbed word wakker en draai sy kop na my toe.
“More, my vrou.” glimlag hy deur die slaap.
“Goeiemore, my man.” groet ek hom terug en staan van die bankie af op om by die man te gaan lê. ‘n Ander vrou se man, wat nou mý man is.
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Helena hierdie verhaal van jou lig vir my uit wat elke dag in die lewe gebeur. mense vra altyd hoe kon dit gebeur maar hulle ken nie die storie agter die storie nie en dit is juis hierdie storie wat jy na vore bring