Die arm man se ooitjie (Epiese gedig)
Op die daktuin van sy paleis
het hy uitgestap
met trotse oë
staar hy oor sy koninkryk
Dawid
man na God se hart
koning van Israel
die aandlug soel en koel
gevul met die soet geur van jasmyn
dan
gewaar hy haar tussen
die varings en nardusplante agter
die hisoptakke
nouliks sigbaar
sy was naak
beeldskoon
slank
verruklik
begeerlik-mooi,
besig om te bad
die ooitjie, in die arm man se kraal
bykans onhoorbaar sê-vra, hy vir homself:
ek is mos koning, énigiets is my ge-oorloof?
die cupidoharp* bespeel die spieëls van sy oë
met ’n onuitblusbare wellus en begeerte
hy ontbied haar na sy binnehof
sy was die enigste ooitjie
vanuit die arm man se kraal –
in hul erotiese passiespel
streel hy met sy vingers
oor haar naakte liggaam
soos oor die snare van ’n harp
saam jaag hul asems
stomend, hygend
soos vurige perde voor ’n oorlogswag
word hul in toonhoogtes
van erotiese hartstog weggevoer
terug in haar arm man se kraal
het Dawid ’n stryd
met onrus en skulgevoelens gevoer
en die ooitjie se man
uit die slagveld laat kom
om by die enigste ooitjie
in sy kudde te kan kom
na vele dae
laat weet sy die koning
dat daar lewe in haar is
in ongeloof en skok
het die koning hom bevind
toe hy hoor
die arm man se ooitjie
dra sy kind
die koning soek desperaat na ’n uitweg
en laat haar man in skermutseling
op die slagveld sterf
en neem sy enigste ooitjie
in sy koninklike kudde op
net toe Dawid van die insident vergeet
kom God se profeet
en vertel vir hom:
‘daar was ’n ryk man wat baie skape in sy kudde gehad het;
daar was ’n arm man wat net één ooitjie gehad het;
toe slag die ryk man die arm man se enigste ooitjie,
en lê dit as ’n feesmaal aan sy gaste voor.’
hierop het die koning woedend geantwoord:
‘Só man moet sekerlik sterwe!’
verdoemend was die profeet se woorde:
‘Ja, o grote koning, maar u is dáárdie man,
omdat u dít gedoen het, sal die swaard
vir ewig oor u kudde hang
die kind wat u by die arm man se ooitjie verwek het
sal sekerlik sterwe’
hartseer en in rou
in sak en as
het die koning neergesak
Dawid se dienaars het onder mekaar gefluister:
‘die kind is dood’
maar
hy het reeds geweet
God het woord gehou
uit sy sak en as van rou
het Dawid opgestaan
die arm man se enigste ooitjie
vertroostend
stewig in sy arms vasgehou
©Pieter Mostert
STERGRADERING: SILWER
*Cupidoharp = ’n neologisme
VERDUIDELIKING:
Die woord cupido, is ’n Latynse woord wat ‘begeerte’ beteken. In die Romeinse mitologie is Cupido die god van begeerte, erotiese liefde, aantreklikheid en toegeneentheid.
’n Harp is ’n groot driehoekige snaar-musiekinstrument wat met die vingers getokkel word. Die harp was Dawid se gunsteling musiekinstrument, deur homself bespeel. Die woord harp beteken: Vrygewige, Vlugtige, Vrolik, Oplettend, Kreatiewe, Moderne, Vriendelike, Ernstige, Aktiewe, Bekwame, Gelukkig, Temperamentele
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek