
Die dans . . .
Bome voer hul wilde dans uit
buig dan in eerbied laag
by die besef
wind gaan die reën vooruit
in afwagting swaai en draai
hul in op wind se maat
luister na die veraf stemme
van donderweer se kind
hy roep nie lank
wind wink nog ʼn keer
gehoorsaam
begin die druppels val
en val en val
wind het ʼn maat gevind
saam dans sy wild
in reën se arms
gehipnotiseer luister sy
na reën se passievolle voetval op die dak
aanskou die bome se wilde dans
op haar polsende kantate . . .
©Marsofine Krynauw
24 Desember 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.