DIÉ GEVEG IS NIE MYNE NIE
Jy het gesneuwel in die voorste linies van die kankeroorlog
en ek was onbewus daarvan dat ek die ossewalaer
stywer om my moes trek om die giftige pyle
van hulle bitter woorde af te weer
Vasgevang in my eie rou
het ek oopoë in die lokval ingeloop
Vrydag die 13de Junie 2014
skaars 40 dae na julle seun se dood –
onvoorbereid op die hanskakies in my geledere
wat onheilspellend lê en wag vir die regte oomblik
sodat die verrassingsalvo van ongekende haat en bitter woorde
‘n pad van verwoesting kon oopbrand in my siel
terwyl sy stem met rou donker emosie
voortdonder soos ‘n ou sanna sonder genade
om my skild van onskuld aan flarde te ruk
En tog het ek opgestaan
uit die veldhospitaal van vergifnis
en my kinders toegelaat om steeds
kamp op te slaan saam met julle
in nagedagtenis aan hulle pa
En nou staan ek weer op die vooraand van ‘n veldslag
en ek besef …
Hierdie oorlog sal ek nooit wen nie
want aanvaarding is nie deel van julle arsenaal nie
en liefde en omgee is nie ammunisie wat te koop is nie
Met ‘n laaste terugblik
laat ek die oorlogsone van sarkasme
en gesneuwelde verhoudings agter my
om kaalvoet oor die berge te loop
op soek na ‘n nuwe beter more
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Desember 2023 – Veldslag projek