Die Kalahari-bruid
Kaleidoskopies grimeer die prisma van die son
haar wimpers op die horison ontvou
die uitgestrektheid van haar skoonheid blink-glimlag
heuningstraal die wange van haar watergate
kameeldoringbome sambreel haar vlaktes
komplimenteer die saggolwende grasie
van haar rooibruin sluier
ek proe die ritme van haar stem vibreer
in die hittegolfies van haar duinesee
vasgevang in begeerlikheid na haar skoonheid
sy wals met passie konfetti-paaie
deur die muse van my hart
en hou my stewig vas
met die lang grashalms van haar arms
ek stuur my 4×4 oor die sagte golwe
van haar uitdyende duine-oseaan ruik
die polsende boodskap van haar hartklop
warm dwarrel in die stem van haar winde
in die afwisselende tekstuur van haar gemoed
swel die pieke van haar sluier smeulend uit
vaalbruin tot wit
gelang waar die winde haar krummels neerlê
tapiseer halfmaanvormige duine in haar kruine
krioelend soos derduisende slangetjies
tussen die golwe van haar hooggety
die paletmessie van haar rooibruin winde
kerf nostalgiese insnydings in die spieëls
van my geheue
ek hoor haar konfetti-lentes blom
voel die lang groengraskolle van haar somers
soos arms wat my vashou
my loveryk bedwelm
winters verwelk haar sluier dofbruin
vaalgeel dorheid strek deur erosie uitgekalwerde
geilheid van haar lewe
sy hunker na die rooibruin kreuning
van die palet van die winde wat sporadies sy vingers
deur haar hare dwarrel-blaai
sand opstapel soos krummels saamgebondel
in die breë koepel van haar dye
waar sy aan die Namib gordel
gedagtes jakkalsdraf die sluier van haar vlaktes
tussen kortstondige meertjies en vleie
vloed oor die kurwes van haar rooibruin duineriwwe
ruik ek die klamheid van haar vleie
verewig, tydloos ikoon haar magiese nostalgie tonteldoos
haar sterrehemel
oor die koepel van my hart
en
beloof ek ewige trou
aan die beeldskone Kalahari-bruid …
—————————–oo0oo————————
(©Pieter Mostert) (Silwer)
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.