
Versteurde rus (ʼn Villanelle-gedig)
ʼn lemmetjieslok glim bo die fleur
ʼn plaashuis gepantser op ʼn parate werf
my plattelandse rus is ewig versteur
my hoop bloei op die drumpel van die welkomdeur
ek omhels landery en veld verdiend geërf
ʼn lemmetjieslok glim bo die fleur
hier galm “dubul’ ibhunu” se morbiede geur
‘wyl my oë angstig oor die landskap swerf
my plattelandse rus is ewig versteur
dapper boerheld probeer deur dreigings beur
ek eer die geloof wat sy swart wit verf
ʼn lemmetjieslok glim bo die fleur
ek wil my kleed van rou berserk afskeur
en tellyne van moorde op my polse kerf
my plattelandse rus is ewig versteur
verdiende vrede verwoes as gevolg van kleur
op Golgotas treur kruise oor dié reeds gesterf
ʼn lemmetjieslok glim bo die fleur
my plattelandse rus is ewig versteur
Etna Wepener ©️
Woordverklaring:
“Dubul’ ibhunu” – “Kill the Boer”
Foto – Pexels
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.