Die kys
Sy naam is Heinrich. Heinrich die donkerkop. Heinrich die slimkop. Heinrich die karateman wat daarvan droom om ‘n vlieënier te word. Heinrich die een met die omgekeerde piepie-pot haarstyl.
In stilte het sy hom nog altyd bewonder en snags droom sy van a happily ever after saam met hom en ‘n hond. Hy is aantreklik, veral met sy blas vel en donker oë. By die skool bloos sy as sy hom sien. Haar vriendin weet ook van haar geheim. Toe haar broer. Hy terg haar. Toe haar pa en ma. Hulle terg haar. Dit was standerd een.
In graad sewe, die stelsel het intussen van “standerds” na “grade” verander, bied sy en haar vriendin Noot vir Noot by die skool se 50c-aand aan. Sy probeer hard om haar kop uit haar muisnes te hou. Heinrich werk in die spookhuis. Hulle het die middag mekaar net skaam-skaam gegroet. Later maak hy ‘n draai by die musiekfabriektafel, maar sy werk. Sy verkoop kaartjies en vra musiekvrae. Sy wil nie na hom kyk of aan hom aandag gee nie. Toe pluk haar vriendin haar aan die arm. “Hier is ‘n nota vir jou,” sê Naomi. “Ek kan nie nou nie, ek werk,” antwoord sy haar. “Dis van Heinrich. Lees!”
Sy gaan staan een kant. Vou die briefie skelm oop. Sou hy vra dat sy hom ophou pla in haar gedagtes? Hom laat gaan? Op die papiertjie is ‘n vraag: ‘Sal jy met haar uitgaan?’ Daar is ook ‘n streep onder die vraag getrek waarop sy moet antwoord, maar sy wag nie vir ‘n pen nie. Sy loop na die spookhuis, vra dat Heinrich uitkom en gee hom ‘n duim in die lug. “Ja, dis reg,” sê sy en draai om.
Hulle bel en spreek af om briefies by die tennisbane en agter die snoepie pouses te ruil. Hulle spandeer nie tyd met mekaar nie, wat nog te sê van hande vashou of saam gaan fliek? Sy wou dit “stadig” vat, want dit is wat die grootmense altyd sê. Sy was immers so sku, sy wou na haar eerste soen ‘n swangerskaptoets koop (die eerste soen was van iemand anders)!
Een Maandagoggend en tien briefies later, hoor sy Heinrich en sy vriend het saam met ‘n ander vriendin en haar vriendin gaan fliek. Die verraad! Sy bel die middag vir Heinrich. “Ek dink ons moet net vriende wees.” Hy stem in. Vir byna twee dekades verkwalik sy vir Karien. Karien wat hom by haar afgevry het.
Twintig jaar na die fliekvoorval, kry sy ‘n friend request van Karien op Facebook. Sy verbreek haar stilte en vra haar hoekom sy en Marga saam met Heinrich en Johan gaan fliek het as sy geweet het hulle gaan uit? Karien tik dat sy nie geweet het nie en nooit so iets sal doen nie. “Die bogger,” antwoord sy. Maar haar Heinrich is nie op Facebook nie, anders het sy hom dieselfde vraag gevra.
Die liedjie is reg, the first cut is the deepest. En verraad kan dekades lank bloei.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.