Jongste aktiwiteit:

Die prys van roem (660 woorde)

Droom ons almal nie maar van kleins af om eendag beroemd of ryk te wees nie? Om geken te word as iemand wat uitmuntend presteer? Heelbo aan die suksesleer te kan staan. Die beste te kan wees in wat ons doen. Te kan doen wat ons wil, wanneer ons wil, en te gaan waar ons wil sonder bekommernis oor finansies of té harde werk nie.
Meeste van ons behaal nooit daardie sukses, status of gemak van kommerlose dae in ons lewe nie, maar tog is daar dié wat dit wel regkry.
Die media is die grootste bron wat begeerte wek by die mens. Ons koop tydskrifte, kyk na rolprente en sien op TV hoe glansryk die bekendes, vernames en rykes lewe. Ons sien dus net die eindresultaat (of buitekant) van iets wat dalk lank gelede begin het en ‘n groot prys en opoffering langs die pad gevra het.
Nou onlangs sien ek ‘n foto van twee paar voete. Die een paar lyk elegant in sagte, satyn balletskoene met satynlint om die enkels en kuite gevleg. Elke dogtertjie het ‘n groot bewondering en bekoring van en oor ‘n ballerina. Ek onthou hoe ek as klein dogtertjie gedroom het om eendag so ligvoets oor die aarde te kan dans.
Maar wat my toe soos ‘n vuishou in die maag tref, is die tweede foto van dieselfde paar voete, maar nou sonder die balletskoene. Dis nie ‘n mooi prentjie nie. Knobbelrige, vernielde voete, vol eelte. Misvormde tone van te veel op die punte dans in gevormde, houtblok, hardepunt skoene. Dit vertoon wel sag en elegant van buite, maar is hard, ongemaklik en selfs pynigend aan die binnekant.
Dít is die prys wat ‘n ballerina moet betaal vir die glorie en glansryke bewegings en voorkoms. Agter daardie droombeeld lê baie ure se bloedsweet, opofferings, pyn en lyding. Seer voete wat mettertyd heeltemal misvorm word.
Nou wonder ek: Sal ons nog so gretig ander se sukses begeer as ons weet wat die prys daarvoor was?
Ek twyfel sterk. Want sien, baie van ons is nie bereid om sulke opofferings te maak nie. Ons is dalk waar ons is in die lewe omdat ons bang is om te waag. Bang om té veel moeite te doen. Bang om te misluk of teleurgestel te word. Bang om ongemak te verduur. Ons bly dus maar aan die veilige kant, daar waar die lewe nie té veel van ons vra of verwag nie.
Vir dié wat wel waag om uit hul gemaksone te beweeg, hard te werk, vas te byt en deur te druk, ten spyte van – is die vrug van sukses soet en sappig, maar die littekens van die eise wat dit gestel het, lê diep gegraveer. Niks op hierdie aarde val sommer net in mens se skoot nie.
Om te kan presteer moet jou fokus op ‘n droom wees en moet jy besluit om alles in die stryd te werp om daardie droom te verwesenlik. Nie toe te laat dat teleurstellings jou ontspoor of van jou droom laat afsien nie. Met elke teleurstelling werk jy net harder. Aanhou probeer totdat jy die soet vrug van sukses kan pluk en geniet.
Dit sou beslis nie dieselfde waarde hê en soveel beteken as dit sommer in jou skoot val nie. Die feit dat die suksesvolles nie opgee nie, maar aanhou droom en probeer, maak van hulle die wenners wat hulle is. Dit straal uit hul hele wese. Waardige wenners! Menige kyk op en beny hulle, is dalk soms afgunstig oor hul prestasie en wil graag soos hulle wees. Besef jy wat dit hulle gekos het om te kom waar hulle vandag is?
As jy dus volgende keer weer “wens” jy was soos dié of daai of hul sukses begeer, probeer eers bepaal watter prys hulle vir daardie sukses betaal het. Gaan loop eers ‘n myl of twee in hulle skoene. Dalk verander jou begeerte dan in dankbaarheid dat jy sommer maar net is wie en wat jy is.

©Driekie Grobler




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed