
DIE RONDLOPER
Hy begin daar in die verste hoekie
die wind
sleep moeisaam soos ‘n gevangene
sy kettingbal op die sypaadjie na my toe af.
Hy soek skoor by elke parkeermeter
kielie elke motor dat sy bakwerk waggel-waggel
skater van die lag
en sleep dan moeisaam al met die sypaadjie langs
na my toe af.
Skielik pluk hy aan my tone
kruip tydsaam teen my bene op
en warrel woedend
om my kop met ‘n kroon van stof en as.
Vlees stoot en stu teen wind en weer
en skielik asof te lig bevind
sleep hy moeisaam al met die stormwatervoor
sy logge liggaam voort
tot waar hy teen ‘n hoekpaal opkrul en stil bly lê
die wind.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.