Die rugby afrigter
Die rugby afrigter
met bewende hande en ‘n knop in sy keel
stap hy voor die skare verby
wyl stemme van steun en joue van jeen
op die winterwindjie ry
uit vertroue van vuur in die volgende uur
en ‘n blinde geloof in die span
dui sy stap op sy sekerheid
en ondeurdringbare wedstrydplan
sy denke verdwaal in ‘n trots spiraal
dis ‘n nuwe dag en begin
en na n week van gekwyte verwyte
maak vervalle verhoudings weer sin
die oomblik van rus is van korte duur
as die werklikheid aan hom ruk
en die skokterapie van ‘n afskopdrie
hom uit sy fondamente pluk
halftyd kom soos ‘n mannavloed
eens trotse koppe hang
tussen goedkoop advies en vertroueverlies
staan ‘n man met ‘n reddingsplan
in die grynslag van die die rustende louere
word hy lig in die lede bevind
en in die menings van die menigte
tot op die been verslind
maar as die golf van verborge talente
gemeng met ‘n nuwe moraal
die spring van die bal en die rigting
van die rugbyspel bepaal
veg die voorlopers verbete
om ‘n wenpunt te behou
dog in negatiewe strewe
kry hul laaste kans ‘n knou
want soos ‘n swaar gekweste dier
met ‘n laaste teug na lug
vat sy spelers weer die teuels
en buig die wedstryd terug
deur ‘n ongeskrewe stilte
in die wasems en die sweet
breek ‘n bariton van stemme
die groot oorwinningskreet
hy’t maar net daar gestaan
en alles het gebeur
só gee hy aan die spelers
sy danke en die eer
en as die laaste stemme stil word
in die nag se kriekekoor
wis hy wel die kille wete
more begin hy weer van voor.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.