DIE TAAL WAT KAALVOET PRAAT (hoofstuk1)
Inleiding
Wat hier volg is ’n kursoriese inleiding tot ’n reeks kortverhale van die gesprekke tussen Buks Appelblaar, leier van ’n groep Boesmans in die Kalahari, in die noorde van Botswana en Pieter, wat ek in storievorm verwerk het.
Ek pen die gesprekke tussen Buks Appelblaar en Pieter vas, in wat ek noem Boesman-patois-afrikaans. [Uit die aard van die saak het ek ook deeglik navorsing gedoen oor die Boesmans alvorens ek hierdie verhale kon skryf.]
Ek poog ook om sekere lewenslesse uit die gesprekke tussen Pieter en Buks Appelblaar met die leser te deel. Pieter se persoonlike ervarings en sienswyse van die Kalahari en die Kalahariwoestyn kom ook na vore. Hy herroep in sy denke Buks Appelblaar se vuurtjie tussen rooibruin duine. Met die saggolwende duine van die Kalahari, as ‘palet’ skilder Pieter dan ook metafories die prentjie saam met Buks Appelblaar in woorde op die gebleikte doek van sy hart.
Sonder om verstrengel te raak in ’n polimiek oor die herkoms van die Boesmans, kan ek met oortuiging sê dat die Boesmans die juweelmensies tussen die duine van die ongenaakbare Kalahari is. Daar bestaan ast’ ware ’n kosmiese eenheid tussen die Boesman en die natuur. Dít kom dan ook duidelik na vore gekom uit die gesprekke tussen Buks Appelblaar en Pieter.
By monde van die Boesmans in die Kalahari is Naoea die Hoogste Wese. Naoea is dan ook die middelpunt van feitlik al die gesprekke tussen Pieter en Buks Appelblaar.
[Daar is ook verskeie stories oor die sogenaamde gode. ’n Groot god wat in die ooste woon en ’n mindere god wat in die weste woon. Dan is daar blykbaar ook ’n god wat in die noorde woon wat die skepper van reën asook die gewer van goeie gesondheid is. Daar was ook ’n ander god genaamd Kaggen. Hy is die bedrieër wat volgens die Boesmans van gedaante kon verander deur soms die vorm van ’n Mantis, ’n slang of ’n Eland aan te neem. Kaggen, die Manti’s, het ’n prominente rol in die skepping gespeel. Daar is egter soveel teenstrydighede oor die gode van die Boesmans, dat ek besluit het om net die punte van ooreenkoms oor, en veral Kaggen / Mantis, in Pieter en Buks Appelblaar se denke op te neem.]
Die eenvoud, nederigheid en opregtheid van die Boesmans, by monde van Buks Appelblaar, het Pieter soms tot trane geroer, sy hoof in skaamte laat sak en hom genoop om soms diep in homself te delf.
As vertrekpunt skilder ek aan die leser die Kalahari deur die oë van Pieter.
Dit is die bede van my hart dat jy, die leser van hierdie kortverhale, geestelike verryking sal ervaar in jou eie lewe, en ook dat jy met nuwe oë na die Boesmans sal kyk. In die woorde van Nancy Gardner is die Boesmans inderdaad: “Little golden people”, met groot harte.
—————————————–oo00oo——————————————–
Alle paaie lei na …
Pieter en Johan is in sy motor op pad om vir ’n jeugvriend van hulle te gaan kuier op sy pa se plaas in die Kalahari, waar hulle as kinders gedurende skoolvakansies gekuier het.
Pieter is op pad om eerstehandse navorsing te doen oor die Boesmans in die Kalahari. Hy is tans besig met die skryf van ’n skripsie vir sy doktorsgraad in teologiese etiek, wat handel oor die tradisionele geloofstelsels van die Boesmans, vanuit ’n kulturele en mitologiese gesigshoek. Hy het dan ook ’n besondere liefde vir die Kalahari, wat van kindsbeen af in sy wese gevestig is deur die gereelde kuiertjies op hierdie einste vriend van hom se pa se plaas, waarna hy en Johan nou op pad is.
Terwyl Pieter op die lang reguit stuk pad tussen Upington en die Kgalagadi ry, voer hy ’n gesprek met homself in sy gedagtes. Hoe lees die spreekwoord nou weer? “Ja, dis reg. Alle paaie lei na Rome,” sê hy hardop vir homself.
“Waarvan en met wie praat jy, Pieter?” vra Johan verbaas, en antwoord Pieter se vraag in dieselfde asem: “Ja, maar daar is één pad en dit is hiérdie pad waarop ons nou ry. Ken jy hom?” vra Johan spottend.
“Ja, my vriend. Kyk mooi hoe lê hierdie ‘heimweë-pad’ voor ons uitgestrek. Glimmend soos ’n paling in die môreson gesperstreep, gebrokestreep en gekantstreep tot v-ê-r … v-ê-r … anderkant die horison,” sê Pieter.
“Onder die hemelblou, wat hom in die hartjie van die winter ysig omvou,” skerts Johan. Dan gaan hy uitbundig voort: ”Kalahari-pad Kgalagadi-pad onse duinepad, die pad na ons veredelde kinder-sanddrome.”
“Jip my vriend, ons harte se pad. Alle paaie lei na híérdie pad, díé Kalahari-pad”, beaam Pieter met ’n breë glimlag. Dan ry hulle in stilte voort, elkeen besig met sy eie gedagtes.
Hoe nader hulle aan hul bestemming kom, hoe meer woestynagtig word die wêreld om hulle. Pieter kan hom verkyk aan die saggolwende kontoere van die rooibruin duin en die ylgesaaide Kameeldoringbome wat soos sambrele op die duineveld se vlaktes voorkom. Hy kan sweer hy hoor ’n klaaglied in die wind terwyl die hittegolwe van die son ’n duine-dans op die horison uitvoer.
By die volgende rusplek langs die pad trek Pieter van die pad af sodat hulle bietjie litte kan rek terwyl hulle ietsie eet en drink. Hy stap so ent die duineveld in. Hy kan voel hoe die duine vibreer onder sy voete van die son wat genadeloos skroei.
“Kyk daar, Pieter,” onderbreek Johan Pieter se gedagtes. “Dit lyk kompleet asof die wind ’n wals uitvoer met die grashalms wat so ver oorbuig.”
Pieter kyk na waar Johan wys sonder om ’n woord te sê, terwyl hy die nostalgie van die Kalahari indrink. Vir hom lyk die Kalahari soos ’n uitgestrekte rooibruin sand-oseaan waarvan die afwisselende vaal rooibruin tot wit tekstuur van haar ‘gemoed’, haar pieke onder die skroeiende son laat uitswel. “Hoe wonderlik is dit nie, Johan,” sê Pieter. “Waar die winde buit lê sy haar sand soos fyn krummeltjies neer om halfmaanvormige duinekuifies te vorm wat soos derduisende krioelende slangetjies gedy tussen haar sandgolwe.”
“Ja,” sê Johan, terwyl hy met bewondering in sy oë in die vêrte tuur. Verewig tydloos ikoon haar nostalgie. “’n Absolute meesterlike komposisie, hierdie Kalahari. As sy nou maar eenmaal in jou bloed gekruip het, kry jy haar nie weer daaruit nie.”
Pieter buk af en streel met sy hand ontfermend oor een van die triljoene ‘duinekuifies’ in die sand.
“Johan, het jy al ooit opgelet dat sporadiese stormwinde ast’ware insnydings in haar sand uitkerf en dat die pragtige kontoere wat daardeur gevorm word kompleet lyk asof hulle die oneindige vlaktes ‘beskermend’ omarm?” vra Pieter.
Johan, kry sommer trane in sy oë, terwyl hy in die rigting van die duineveld kyk. “Kyk hoe pragtig blom sy nou in haar lente na die ysige winter wat verby is. Dit lyk vir my soos ’n pragtige tapiserie met lang groen graskolle en Kameeldoringbome wat soos lowergroen sambrele haar skoonheid komplimenteer, met waaisand wat krummels duine-kolle oral waar jy kyk opstapel”, sê Johan, taamlik aangedaan, met ’n ongemaklike knop in sy keel. “Kan ’n mens so liries raak oor ’n stukkie van die aarde?” dink Johan hardop.
“Ja Johan, my vriend, sê Pieter, ons dien ’n groot God. Kyk net hoe pragtig kunstig en in die fynste besonderheid het Hy alles geskape,” terwyl hy sy arm om Johan se skouers sit.
So staan hulle saam en staar oor die uitgestrekte duineveld met haar rooibruinkleed tussen kortstondige meertjies en vleie, sonder om ’n woord verder te sê. Dit is asof die oomblik heilig is.
Dan sê hulle instinktief gelyktydig hardop saam, soos hulle gereeld in hul jeugdae gedoen het: “Saggolwend; oneindig; tydloos; ikoon sy, die Kalahari!”
“Kom, ou maat, laat ons in die pad val. Ek wil nog môre-aand ’n draai by Buks Appelblaar gaan maak. Ek wonder hoe gaan dit met die ou siel? Sien nogal daarna uit om hom weer te sien, sê Pieter terwyl hulle aanstap na waar hy sy motor parkeer het.
——-ooo000ooo——-
Buks Appelblaar vertel…
Die volgende middag vat Pieter weer die pad, hierdie keer alleen, na Buks Appelblaar toe in die Kalahari, in die noorde van Botswana. Buks Appelblaar is die hoofman van ’n groep Boesmans in daardie afgeleë deel van die Kalahari.
Daardie aand sit Pieter saam met Buks Appelblaar langs sy vuurtjie, omring deur die nostalgie van die uitgestrekte saggolwende rooi duine van die Kalahariwoestyn.
Pieter sit aandagtig en kyk na Buks Appelblaar. Sy hartvormige koperbruin gesig blink soos gelooide leer in die sluier van die volmaan, en sy oë is soos spieëls waarin die golwende rooibruin duinesee van die Kalahari weerkaats.
Langs sy versonke oë is fyn kreukelspoortjies, gevorm deur die waaisand van die tyd, wat verkreukel tot diep plooie in sy wange. Op sy voorkop lê diep sooie oor die jare ingegraveer deur die ongenaakbare ploeg van die Kalahariwoestyn. Sy neus lyk soos ’n kalbas wat op sy bolip aftuimel terwyl sy yl snorretjie wanhopig probeer wal gooi.
Wanneer Buks Appelblaar glimlag, verander sy oë tot halfmaanskrefies, terwyl sy geelgevlekte tande soos pampoenpitte oneweredig op sy onderlip uitval. Sy hoofdeksel is fyn ineengeweefde kroesies, soos ’n fluweelkaros, om hom te beskerm teen die skroeiende strale van die Kalaharison. ’n Ware Boesman-Einstein, hierdie Buks Appelblaar, dink Pieter.
Dan glimlag Buks Appelblaar van oor tot oor en wys na die kletterende geelrooi-vlamtonge van sy vuurtjie wat nou in harmonie saamgesels met die geklik-klak-klik-klak van babbelende Boesmantonge. “Hoor jy hom, myse groot vriend?” vra hy blinkoog. “Nou diese vuur hy prat saam’et myse hart.
Terwyl die vrouens al voetstampend ritmies hande klap, sing en dans om die vuur, begin Buks Appelblaar vir Pieter in Boesman-patois-afrikaans, vertel van sý Kalahariland.
“Jy sien’ myse groot vriend,” sê hy terwyl hy ’n kooltjie uit die vuur krap om sy pyp mee op te steek. “Sos jy kyk voor by jou,” hy bly ’n oomblik stil terwyl hy oor die duine staar, “en sos jy kyk agter by jou; en sos jy kyk langs by jou,” beduie hy met sy hande en draai elke keer in die rigting waarna hy wys, dan gaan hy voort. “Sos jy kyk by hiri kant en sos jy kyk langs by jou dari kant, jy sien hom onse Boese’mense syse Kalahariland.” “Diese Kalahari hy loop soos myse boog op-op-op en af-af-af,” beduie hy met handgebare terwyl hy vir Pieter demonstreer met sy boog in die een hand. Dan gaan hy voort, terwyl hy aan sy pyp suig asof hy sy volgende woorde daaruit wil opsuig. Hy blaas wolkies rook die lug in. Dan gaan hy voort om met entoesiasme vir Pieter van sy Kalahariland te vertel.
“Myse groot vriend, diese wind hy blaas syse spoortjies sos baie k-l-e-i-n … k-l-e-i-n boogies by die sand vannaand,” sê Buks en blaas ’n bol van sy pyprook die lug in. “Onse Boese’mense hier by onse Kalahariland onse vuurtjie hy praat myse hart syse taal. Diese tonge van diese vlamme ek voel hom sos hy by myse binekant praat. Hulle praat sos die brul van diese Leeu by die dyne syse veld.”
Buks Appelblaar staar in sy vuurtjie sonder om ’n verdere woord te sê. Sy oë is soos spieëls en Pieter kan die vlamme van sy vuurtjie daarin sien dans.
Die lang stilte tussen hulle laat Pieter ongemaklik rondskuif.
“Jy sien myse groot vriend,” breek Buks die ongemaklike stilte, “vroeg by diese môre ek staan op myse kniege oner d-a-a-r-i groot boom met die lang dorings wat hy lyk hom sos die gemesbok syse horings. Jy roep hom die Kameel sy doringboom by jouse taal,” sê hy, net om seker te maak Pieter weet hy praat van ’n Kameeldoringboom. “Ek staan met myse pyl en boog en wag,” beduie hy met handgebare en sy oë, “ek sien die son bak se hand,” demonstreer Buks. “Hy kyk vir myse oge oor by d-a-a-r-i hoog dyn. Ek sien die spoortjies vani wind hy loop op-op-op… af-af-af”, beduie hy weer met sy hande. “En v-ê-r v-ê-r bo by my in diese blou-blou lug ek sien diese warm dag hy kom, dink ek: Ai! Dís mos hom myse Boesm’land hiri!
“Skierlik ek voel hom diese water hy kom by myse oge yt, sos die water by die eier van die volestrys wat hom te veel water dra. Buks Appelblaar praat nou met deernis in sy oë. Hy bly so ’n oombllik stil asof hy eers die knop in sy keel wil afsluk.
Dan gaan hy voort: “Maar die water wat by myse oge uitkom, hy es myse hart syse water en Naoea hy syg myse hart syse water met syse rietjie op. Dan Naoea, Hy sê by my Hy het my gamak met syse yge hane en Hy baie lief es by my.”
Pieter voel nou baie klein en vee ’n traan weg, terwyl hy verder luister na die verstommende opregtheid en nederigeid van Buks Appelblaar.
Is daar ’n meer opregte mens op hierdie aarde, as hierdie nederige Kalahari-Boesman, Buks Appelblaar? vra Pieter homself in sy gedagtes af. Die emosies loop nou hoog, as Buks verder vertel.
“Myse groot vriend, onse Boese’mense diese kos lê by die veld d-o-e-r v-ê-r agter verby by d-a-a-r-i hoog rooidyne,” beduie Buks Appelblaar in die rigting van die uitgestrekte duineveld.
“Daar by diese dyn syse veld, onse vrouins diese hane es sos die hane van banja bogomjane. Hulle grawe ini sand waar diese wild tsamma waterlemoen diese gemsybok komerkomer en diese wild komerkomer groei,” vertel hy met oortuigende entoesiasme.
Terwyl sy hande en sy oë met nadruk saamgesels, sê Buks Appelblaar. “Jy sien myse groot vriend, diese water ons bêre hom binekant by diese volestrys syse eier en ons syg onse dors daaryt op met diese rietjie.”
Pieter het nog nooit in sy lewe iemand ontmoet wat so nederig en aardsgebonde dankbaar is vir alles wat hy en sy mense in hierdie ongenaakbare Kalahari het nie. Hy voel omonwonde in sy hart oortuig dat daar ’n kosmiese eenheid tussen Buks Appelblaar en sy mense, die Boesmans, en die Kalahari, bestaan. Hy voel hoe sy emosies die oorhand wil kry, terwyl hy verder sit en luister na Buks Appelblaar sonder om hom in die oë te kyk. Hy kyk eerder in die rigting van die duineveld waarheen Buks Appelblaar beduie.
Buks Appelblaar sien die ongemak by Pieter, maar hy ignoreer dit en vertel met entoesiasme verder. “Diese vrugte van diese appelboom én diese kremtart syse vrug; én syse bas; en diese sade, es onse Boesm’mense syse kos. Dan ok diese wild bessies en wild heuning, hy es onse lekker kos.” Pieter laat sy hoof in skaamte sak by die aanhoor van Buks Appelblaar se nederigheid, dankbaarheid en opregtheid.
“Myse groot vriend, Buks Appelblaar sit met uitgestrekte arm sy hand op Pieter se hart. Terwyl hy vir Pieter diep in die oë kyk, sê hy, “diese water by myse hart hy is so dankibaar Naoea hy sorge vir myse Boese’mense. Naoea hy syg myse hart syse water met syse yge rietjie op.” Pieter is nou behoorlik aangedaan en snuif-snuif asof sy neus wil begin loop.
Buks Appelblaar laat sy hand sak en draai sy rug op Pieter terwyl hy sê: “Toe ok vanmore oner dari groot boom met die lang dorings wat hy lyk hom sos die gemsebok syse horings, ek hoor hom diese heïna d-o-e-r erens v-ê-r agter by d-a-a-r-i hoog dyn. Diese heïna hy lag sos die man hy hakel sos hy praat, en ok agter by my ek hoor hom diese jakallas hy huil sos die vrou hy soek diese kind. Ek hoor hom ok diese wind hy praat saggies by myse ore van diese gemsebok wat op die horison van diese rooi, rooi, dyn vir my kyk, maar ek het hom l-a-a-a-n-k-a-l gesiene. Sy ryk by myse neus geproe. Sos ekke hom bekryp hy denk ek es diese volestrys. Ek lag by myse hart, vannaand myse mense, jy sien hulle eet diese groot vleis. Nou, myse groot vriend, ons sing en dans vanaand hier al om diese vuur.
Onse mense ons stamp onse voete dat Naoea Syse reën moet kom en myse Te Kna wat sos die voëls van die lug saam met myse Boese’mense vani blyskap sing in diese volemaan wat sos diese slang sy grote spore ori dyne kom los.”
“Naoea Hy maak onse Boese’mense beskerm toe oner syse sterrekaros en dankie onse Boese’mense Hom viri dag syse kos.”
“Myse groot vriend,” Buks Appelblaar sit weer soos vroeër, met uitgestrekte arm sy hand op Pieter se hart. Terwyl hy vir Pieter diep in die oë kyk, sê hy: “Nou myse groot vriend, ek, Buks Appelblaar, ek voel die sand by myse oge word swaar. Ek sê djou goeie nag, jy moet mooi loop daar by djouse plek,” sê Buks terwyl hy omdraai en na sy slaapskuiling vir die nag toe loop.
—————————————————-oo00oo————————————–
(© Kopiereg: Pieter Mostert)
Volgende maand deel ek weer van die kosbare gesprekke tussen Pieter en Buks Appelblaar met die lesers:
1. So het Naoea die eerste Boesman gemaak; en
2. Kaggen maak die maan …
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae vir Mei 2025 – OOP projek