Die vlermuis. (SILWER)
Die vlermuis.
Gevaarlik of skadeloos? Die feit is: vlermuise is ongewone soogdiere, trouens die enigste soogdiere wat kan vlieg. Vlermuise het ʼn uitsonderlik buitengewone voorkoms en dierkunde beskryf die vlermuis as verteenwoordiger van die orde: Chiroptera. Hulle val in die klas: skemerdiere. Sekere soorte kan glad nie goed sien in die donker nie. Vlermuise het eggolokalisering ontwikkel en is in staat om in hulle vliegaksie voorwerpe te identifiseer en sal daarom nie in iets vas vlieg nie.
Voorkoms:
Die gewig kan wissel van ʼn skamele 3.5 g tot 900 g met ʼn vlerkspan van 20 cm tot 1.5 m. Die vlerkgedeelte word gevorm uit ʼn elastiese, leeragtige membraan. Die membraan span oor die voorarm, middelhandbene en vingerlitte wat verleng is in voorkoms. In ooreenkoms met voëls vlieg die vlermuis met lang, smaller vlerke beter as die wat effens korter, breër vlerke het. Sommige besit selfs oor die vermoë om op een plek doodstil in die lug te “hang”.
Die spoed van vlermuise kan tussen 15 en 50 km per uur bereik. Aan die duim van die voorpootjie sal jy ʼn krom, sterk nael vind waarmee hy kan klim. Die nael steek opsigtelik voor die vlerkies uit. Daar is geen naels aan die agterpote nie. Hulle gebruik die agterpootjies as hulle in ʼn rusposisie is. Alhoewel dit nie so lyk nie, is dit vir ʼn vlermuis geen moeite om so kop onderstebo te hang nie, die spiere in hulle toontjies sluit outomaties as hulle in die rusposisie aan ‘n tak hang.
Lewenswyse:
Daar is baie verskillende soorte vlermuise, meeste van hul is net snags bedrywig en sal deur die dag in donker plekke skuil. Sodoende ondervind hulle nie probleme met natuurlike vyande in die stryd om oorlewing nie. Jy kan vlermuise reg oor die wêreld, met uitsondering van Antarktika, in die warmer dele vind. Jy sal ook vind dat sommige spesies hiberneer. In kouer omstandighede sal hulle temperatuur daal om aan te pas by hulle habitat. Meeste van die tyd sal jy vind dat hulle ondergronds (in grotte) skuil met temperature van nie laer as 3 °Celsius nie.
Sintuie:
Aangesien hulle snags bedrywig is, help hulle sintuie hulle om kos te vind, selfs in die donker. Sekere van die spesies soos die vrugtevlermuis het dan ook baie groot oë wat goed kan sien. Van die ander spesies het egter swakker oë wat nie goed ontwikkel is nie en hulle maak staat op eggolokalisering. Hoe dit werk: klankgolwe met toonhoogte tussen 25 en 150 kHz word uitgestuur. Hierdie geluid is vir die mens nie hoorbaar nie, as die golwe van die klank dan ʼn voorwerp tref word dit teruggekaats en die vlermuis kan dan bepaal waar daar hindernisse of ander vlermuise is.
Nie alle vlermuise maak op dieselfde manier geluide nie, sommige spesies maak geluide deur hul neuse en ander weer deur hulle bek. Hulle reuksintuig is ook baie goed en die vleisetende- en bloedsuiersoorte is gevoelig vir die suur wat in die sweet van warmbloedige diere afgeskei word. Hulle besit ook oor die vermoë om temperatuurveranderinge baie goed waar te neem.
Voortbestaan:
By die vlermuise vind jy die manlike en vroulike dier.
In die mans vind jy geslagsorgane wat in bykans alle spesies voorkom: buis, kliere, blaas, prostaat, penis en testikels.
In die vroulike vlermuis vind jy twee eierstokke, baarmoeder, serviks en die vagina.
In die broei-seisoen sal al die wyfies intrek in ʼn “kraamkolonie.” In die kouer dele van die wêreld paar die vlermuise in herfs alhoewel hierdie spermselle slegs gestoor word en bevrugting eers in lente sal plaasvind tydens haar winterslaap. Dit kan ook gebeur dat bevrugting dan wel in herfs plaasvind, maar die embrio sal eers in die lente aan die uteruswand gaan vasheg.
In die tropiese dele sal vlermuise deur die jaar voortplant en die wyfie kan selfs weer swanger wees terwyl sy nog ʼn kleintjie soog.
Die geboorte self is baie interessant. Die wyfie sal in kraam gaan en sy sal aan haar duime hang, kleintjies word dan in die vlieghuid ‘gevang.’ Gewoonlik kry vlermuise net een kleintjie, maar by uitsondering is daar soms twee kleintjies – tweelinge. Die mamma sal gaan kos soek en haar baba saamdra terwyl hulle nog nie te swaar is nie.
Klein vlermuise is op bykans 10 weke selfstandig genoeg om op hulle eie te oorleef en sal dan die kolonie verlaat. Geslagsrypheid sal kort na die tyd plaasvind.
Die mens en die vlermuis:
Vlermuise is ongelukkig nou maar een van die diere wat nie ʼn goeie reputasie by die mens het nie. Ondanks dit wat mense van vlermuise glo: is hulle nie bloedsuiers nie en sal hulle ook nooit in jou hare vassit nie!
Moeilik om te glo is dat hulle eintlik baie saggeaarde diere is wat ook ʼn belangrike rol op aarde speel.
Ongelukkig beskik die vlermuis oor ʼn grillerige voorkoms en omdat hulle slegs snags bedrywig is, het hulle dan die simbool van siektes, peste en gruwelstories geword.
Verskriklik om te dink: in sommige Europese dele sal mense die vlermuise lewendig aan hul mure vaskap met spykers om sodoende “slegte geeste uit te hou!”
Aan die ander kant beskou party nasies hulle selfs as gelukbringers! In sommige dele van die Midde-Ooste word van die groter spesies gesien as ‘n fynproewer dis.
Hoe dit ook al sy, al die faktore dra by tot ʼn vermindering in die getalle van vlermuise. Die grootste bedryginsfaktor is egter die vernietiging van vlermuise se natuurlike habitat. Nog ʼn faktor is die gebruik van gifstowwe wat deur die mens gebruik word om rotte en muise uit te roei.
Die vlermuis speel egter ʼn rol in die wêreld se voedselketting en verdien nie om uitgewis te word nie, inteendeel verdien hulle ook nie die nare reputasie nie!
Lank lewe die liewe vlermuis.
©Marlene Erasmus
31/05/2022
(961 woorde)
Bronne:
http://www.mieliestronk.com
https://www.southafrica.com/blog/vlermuise-van-suid-afrika-nagtelike-kreature/
https://uarihes.ru/vrae/5477-is-vlermuise-gevaarlik-vir-mense-of-troeteldiere.html
https://af.animalstend.com/10825681-what-does-a-bat-look-like-and-what-it-eats
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek