DIT WAS GOED (met dank aan TT CLOETE )
DIT WAS GOED
(Met dank aan TT CLOETE)
Ek het die leë jogurtbakkies
met water gevul
met malvablomme, met laventeltakkies,
kappertjies geel en laggend oranje,
met kers- en tjokkabootliggies
tafel gedek.
Ek het die langsteelglas met mooiste servet
vir wyn Chapel Red
die tafel met skaapboud en slaaie bedek.
En dit was goed. Baie goed.
Ek het kaalvoet in die brander
gesien hoe die lug en die wind verander;
die wit duin, die wit sand
die wit skuim, die wit skulp
die wit haai, die wit meeu
die sagte, sagte mis teen my wang ervaar,
vryheid geniet.
En dit was goed. Baie goed.
Ek het die rooi voet
die dik voet,
die ou voet met
verdikte tone, verkalkte naels
In Engelse-sout water gebaai en getroos.
En dit was goed. Baie goed.
Ek het die tee op die vloer, op die hout, op die bors
kos op die tafel, op die bord, op die baard
opgedroog,
geleer
ek is met stekels vereer
en elk afgepoleer,
geskuur,
met toewyding verklein.
En dit was goed. Baie goed.
Goed is goed, ongeag.
Susan van Rensburg
30/01/2024
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Januarie 2024 – OOP projek