Druppels op die draad
Jakkalsdou draf skuinslyf oor die huis se dak.
Donker sit kruisbeen langs die bed
en ek wonder wat ek hier soek
en of jy sal verstaan
as ek dalk van te veel voel vlug op die lyf slaan.
Ek swyg onder jou,
adem die muskus wat aan jou palms klou.
Prewel glasagtig dat alle reëls vir nou vergete is.
Reën loop teen lipiede ruite
hou alle oë en getuies buite
toe my hand verstrengel in joune,
jy jou kussing met my deel.
‘n Varing sug voor die kamervenster,
my kreuke lank reeds vergete
toe ‘n slak tussen skemer struike
sy bronsgroen spoor verloor.
Druppels op die draad
begin harder as hemeltrane praat
en ek sluit my dig.
Haar hoogheid sprei haar kleed oor klam aarde,
druppels val een een een
en ‘n deurleefde nag versteen teen ou kosyne.
© Almarie Truter
3 Kommentare
-
-
Evelyn van der Merwe
Klink soos 'n rolprent wat ek gekyk het met die reël "what happened in Vegas stays in Vegas" Natuur goed hier ingevleg.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Koekekranka
Wat 'n pragtige beeldvolle wulpse werkie wat deurlewing feetjie-agtig verklap... Pragtig patrysie, pragtig en genotvol!