Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: Flitsfiksie: Uit volle bors

Deur Thérèse Fensham
Datum gepubliseer: 11 Augustus 2021 Aantal woorde: 346 140 Kere gelees 8

Ma se borste is volrond en ferm met ’n pienk soentjie op elke punt. As ’n baba speel ek klavier daarop, heen en weer, heen en weer. Sy trek sonder skaamte voor my uit, al is sy die toppunt van Viktoriaanse sedes buite haar slaapkamerdeur.

Ek verstaar my. Die turkoois spore onder die seeskuimwit van haar vel. Mieiliepapmaag, drie kinders later. Kuiltjies grinnik oral oor haar bobene. Sy hou nie van haar neus nie.

Maar Ma is pragtig. Elegant. ’n Lady van haar toonnaels tot haar kroontjie. Die foon lui gereeld as die Koningin van Engeland op TV is. Yvette, jy lyk nes sy, voer haar vriende aan.

My kind, sê sy, haar stem ’n breë glimlag, ek moes binne-in die koningshuis gebore gewees het. Ek hoort nie in die ongemaklike wêreld van gewone mense nie. En voeg sy by, ek dink ons het Habsburg-bloed, jy weet, die Duits-Oostenrykse monarge. Ons het mos hulle lang kiewe geêrf.

Jare later lees ek dat daai einste ellelange kennebak veroorsaak is deur ondertrouery. Wonder wat Ma daarvan sou gesê het. Wens ek kon ’n vinnige whatsapp hiernamaals toe stuur om te vra. Ek is tog seker ek kan haar hoor lag.

Die oproep kom toe sy in haar vroeë tagtigs is. Die een wat geen kind wil kry nie.

My kind, ek het borskanker.

My wind is uit. Ek wens ek is Jesus wat my hande op haar kan lê. Maar die prognose is goed. Dis stadig-groeiend sê sy. Sy kry ’n dubbele mastektomie. Verdere behandeling is nie nodig nie.

Wanneer sy haar klere uittrek, sien ek die skade. Die growwe waarheid waar alles nou onnatuurlik plat en letsel-besaai is. Bra’s nutteloos. Deel van Ma-wees vir altyd weg. En iemand skop weer eens my wind uit.

Tog lyk dit nie asof dit haar pla nie. Sy praat nooit daaroor nie. Daar is nie eers sprake van rekonstruktiewe chirurgie nie. Ma, so gesteld op haar voorkoms vir die meeste van haar lewe. Na tagtig is dit seker nie meer nodig nie. Miskien is dit nou selfs bevrydend.




TEMAS
3 Kommentaar
  1. Anze

    11 Augustus 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2021 – As die blare val projek

  2. Riaan Palmer

    12 Augustus 2021

    Treffend!

  3. Amanda

    16 Augustus 2021

    Volpunte!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 3
Kommentaar telling: 0

Thérèse Fensham het haar BA Hons Joernalistiek in 1985 aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Sedertdien is sy betrokke by een of ander vorm van skryf van redigering, artikelskryf tot kopieskryfwerk. Sy het ’n reeks Afrikaanse gedigte by LitNet gepubliseer met twee gekortlys is om in ’n Louis Leipoldt-biografie te verskyn. Haar gedigte en prosa het ook in Karapaks 6, Type/Cast en Avbob se digkompetisie verskyn. In 2020 is twee van haar gedigte in Singing in the Dark, ‘n globale digbundel oor Covid, opgeneem. In 2021 word sy Eerstepryswenner in Kreatio se kortverhaalkompetisie vir haar kortverhaal Getoor.

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 231 gaste aanlyn

Bydraes – Argief