Titel: Generasies
Deur Anita van der Walt
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
’n oorlogswesie … ’n weggooikind
spartel sukkel swaarkry rateltaai geleef onder die broodlyn
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
Ouma het my geleer van Jesus ek’s ’n kindjie klein
tot sjuut luister hoe sag fluister-fluister die wind
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
’n oorlogswesie … ’n weggooikind
’n kindjie gebore ’n dogtertjie te klein en te fyn
in ’n misèrie van ellende klodder
opgee is nie ’n opsie dis in die bloedlyn
’n kindjie gebore ’n dogtertjie te klein en te fyn
Mamma jy het my geleer van Jesus maak my hartjie rein
tot soek nie jou naam in die modder
’n kindjie gebore ’n dogtertjie te klein en te fyn
in ’n misèrie van ellende klodder
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
met ’n stille vreeslose vroulike vegtersinstink
ondanks al die seer en pyn
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
leer ek my kind Sy matelose seën skyn
in grenslose genade wat wink
’n kindjie gebore ’n dogtertjie klein en fyn
met ’n stille vreeslose vroulike vegtersinstink
©Anita van der Walt