GEVONNIS IN WIT
GEVONNIS IN WIT
Die willose onthou van die lag in jou oë hou my gyselaar.
Sonder losprys.
Sonder verweer.
Net rou genade.
Onverdunde emosie;
wild geskeur uit ‘n ou argief
toe….
Daai aand toe jou mond fluister-sag teen my asem gefluister het.
Skryf vir my ‘n versie, toe
‘n versie net vir my.
Aspris.
Aspris het my vrouweesgemaak verkeerd verstaan, en
inkloos het my hande gedig oor die nog leë bladsy van jou lyf.
Sonder enige in ag neme van taalreëls of slim woordverbuigings….
…. Skrywersvryheid.
Omdat.
Oordat;
ek doomstomblind geglo het aan vir altyd.
En.
Vir ewig.
Inkloos.
Doof.
Stom.
Blind….
Lê my Sielsambok gevonnis op die nog leë bladsy van wit.
Uitgelewer aan ‘n meedoënlose onthou.
Sonder losprys.
Sonder verweer.
Net ‘n leë bladsy.
Omdat.
Oordat;
jou lyf is nie meer myne nie.
Sonder daai versie net vir jou.
Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag vandag ondeund vir jou knipoog.
©Liza Daniells
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.