God se lappie grond
Vrygewig soos ’n geil stuk grond, spruit lewe uit haar,
voorsien en deel sy uit sonder perke.
Soms deurgetrap en verlep onder ’n ongenaakbare son,
verduur sy dikwels ’n somber lot gedwee.
Geduldig en nederig soos ’n lappie grond
wag sy gelowig dat Sy genade op haar neer reën,
sodat sy weer begeesterd aan ander kan skenk.
Vyftig jaar klou aan die rondings van haar lyf,
en kruip weg in plooie om die oë en in lyntjies op haar hande.
’n Halwe eeu van uitdeel, ontvang en weer uitdeel.
Haar grootste opbrings, volryp oeste, twee spruite uit haar liggaam gebaar,
het sy versorg en terugbesorg in die hande van haar God.
God self saai die saad, Hy alleen voorsien en sy glo dit so.
Vir so lank as wat Hy gee, sal sy deel, vrygewig soos ’n geil stuk land.
4 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Hierdie is bittermooi beskrywend en opreg gepen.
-
neels
Pragtig helena
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
wat n pragtige ode!!!!