Hartstories (Silwer)
In ‘n lêer in my onthou-argief
is my verpligtinge noteer
in wissels en promesses,
ek-skuld-jou’s, en dies meer
toe ek werk deur die joernale,
die totaal probeer bereken,
het ek gesien dis meestal
deur mysélf op my beteken
berekeningsfoute was daar ook
toe die boeke nie wou klop,
want dié gebou se waarde
gaan nie af nie, eerder óp
die skulde wat oninbaar was
is met ‘n rooi streep deurgehaal,
want Iemand het ook mýne
lank terug reeds betaal
nadat ek als geoudit het
sonder tittel of jota,
het ek gesien ek skuld mysélf
ook ‘n kredietnota,
want by my klein onderneming
meld ek daagliks aan vir diens,
deur winste en verliese,
en dikwels ongesiens
dít is waar ek woeker,
lag, huil, meeleef en leer,
daarom kan ek teen liéfde
my las verdiskonteer!
©️Elize Kruger
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek