
Verreken (Silwer)
Daardie oggend toe ek wakker word
het ek oudergewoonte aan jou gedink,
ek wou nog bietjie vashou aan
die heimwee wat al vir so lank
my koffiemaat met dagbreek is
totdat slaap my in die klein ure van die nanag weer laat ontsnap uit die boeie
van sênoumaars, wat-asse, en
die swart onthou van
brûe wat tot as verbrand is
ek wou nog vir jou kwaad wees
maar ek kon geen rede vind nie,
ek wou skryf hoe baie ek jou mis,
hoe lief ek vir jou is,
maar ek kon dit nie verwoord nie
is dit hoe heelword voel, het ek gewonder
toe die gewig van jarelange optelgoed
uiteindelik van my skouers val, en ek
soos ‘n pasgebore baba
diep teue lewe in my longe trek …
ek’t ‘ons’ toegedraai in herinneringe,
gestrik met vergifnis,
vir oulaas teen my hart gehou
en neergelê by die voete van Jesus
in die hoop dat Sy genade vir my en jou
genóég sal wees
©️Elize Kruger
2 Kommentare
-
Colin
So n deurleefde belewenis, ongedwonge en deernisvol beskryf
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek