
In ons slimmigheid het ons eintlik dom geword.
(Woordtelling : 1175)
Voor wie se deur lê ons die skuld vir die samelewing se agteruitgang van ons fisiese- en geestestoestand? Is dit die dokters of psigiaters se skuld? Die kerk dalk? Wat van die skool? Dit is gewoonlik die instansies wat ons glo meer kennis het, maar is dit rêrig die waarheid? Dra hulle werklik die welstand van die mensdom op die hart, of is daar dalk iets groter aan die gang?
Die diagnose van ernstige en lewensgevaarlike siektes neem in die laaste paar dekades met rasse skrede toe. Kanker, veelvoudige sklerose, outoïmuun siektes, diabetes, depressie, Alzheimer’s… Selfdoodsyfers is die hoogste van alle tye en dit lyk nie asof daar ʼn oplossing is nie.
Maar wanneer begin jy voor jou eie deur te vee en verantwoordelikheid neem vir jou eie geestelike-, emosionele en fisiese welstand? Hopeloos te veel mense slurp elke woord en gedagte op asof hul lewe daarvan afhang, maak nie saak hoe onlogies dit is nie. Dan aan die ander kant, is daar diegene wat absoluut alles bevraagteken en selfs broodnodige behandeling saam met die baba en badwater by die deur uitgooi.
Ons leef werklik in vreemde tye.
Dit is heel waarskynlik nie so eenvoudig as om die skuld op een enkele persoon of instansie te plaas nie. Iewers in die laaste eeu of twee, en ten spyte van wonderlike vooruitgang op mediese gebied, het ons skielik begin glo dat pille die antwoord vir elke probleem is. “Dokter, my man is gister dood en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie.” “Hier is vir jou ʼn pilletjie en kom sien my weer oor ʼn maand.”
Moet my nie verkeerd verstaan nie, medikasie is ‘n wonderlike ding, maar dit het sy tyd en plek. Die probleem kom in wanneer medikasie vir ‘n doodnormale toestand voorgeskryf word in plaas daarvan dat die persoon emosionele ondersteuning kry. Anti-depressante word lankal nie meer net vir depressie voorgeskryf nie, maar ook vir angstigheid, premenstruele stres, obsessiewe kompulsiewe versteuring (OCD), hartseer, fobies, sosiale angstigheid, eetversteurings, post-traumatiese stres, slaaploosheid, skeelhoofpyn, menopouse, en selfs neurologiese pyn. Soveel as 45% van die gebruik van anti-depressante is nie vir depressie nie.
Lees dit weer en neem kennis van dit wat jy by jou mond insteek.
Dit was in die 1950’s toe die eerste antidepressante vervaardig is, en gedurende die 1980’s was die voorskryf hiervan ‘n algemene praktyk. Skielik was die helfte van alle siektetoestande behandelbaar met die sluk van ‘n enkele pilletjie – of twintig.
Ek vermoed ons het ʼn globale probleem. Met ander woorde, ons wil alles met ‘n pilletjie reg dokter, en dit is onmoontlik. Vir jou liggaam se langtermyn gesondheid voorspel die daaglikse gebruik van chemiese middels niks goeds nie, al word dit deur die dokter voorgehou as ʼn permanente oplossing vir ʼn probleem wat eintlik ‘n heel ander tipe behandeling nodig het. Dit is nie net ʼn tydelike kruk nie, maar uiteindelik word jy geestelik verlam en geheel en al afhanklik, iets waarvan jy moeilik mag herstel. Die persoon onder behandeling neem dus dikwels jare of selfs dekades getrou hul medikasie voordat hulle vrae begin vra, indien ooit. Dit is immers makliker om ʼn pilletjie te drink as om deur jou geestelike pyn te werk.
In ons moderne eeu is dit deesdae die tendens om eers ʼn siekte te bemark waarna ʼn lys van pille as behandeling voorgeskryf word. Om dit op te som, ons hele lewenswyse is totaal en al skeefgetrek.
Ek beweer nie dat alle siektetoestande uit onverwerkte emosies spruit nie, maar wanneer mens aandag begin gee aan ʼn persoon se optrede en dan luister na klagtes oor sy gesondheid, kan jy dikwels ʼn baie duidelike verband sien. Daar is ʼn skrikwekkende groot verband tussen mense wat ʼn kind of eggenoot aan die dood afgestaan het, en die diagnose van kanker en neurologiese siektes.
Oor die algemeen het ons heeltemal verleer dat daar ‘n verbintenis is tussen jou verstand en liggaam en hierdie natuurlike, innerlike kennis, word dikwels in dieselfde kategorie geplaas as voorvaderaanbidding. Wanneer jy ʼn breuk ervaar tussen jou natuurlike aanvoeling vir jou eie welstand, nie verantwoordelikheid neem vir jouself nie, en afhanklik raak van die kennis van die dokters, moet die rooi ligte reeds flikker. Ongelukkig word ons saggies geïndoktrineer om ons godgegewe gawe te misken want indien jy toegelaat word om vir jouself te dink, sal dit nie lank neem voordat jy ander inligting ook sal bevraagteken nie.
Dr. Mate Gabor, skrywer van The Myth of Normal en The Body Says No, som ons moderne denkwyse baie mooi op. Drie maande gelede publiseer die New York Times ‘n artikel asof dit die grootste ontdekking van die eeu is, naamlik dat daar ‘n verband bestaan tussen ons siektetoestande en ons geestesgesondheid. Hierdie selfde observasie is egter reeds deur ‘n Amerikaanse chirurg, James Paget gemaak, in 1870, ‘n hele 150 jaar gelede, maar nou raak ons opgewonde asof ons iets heeltemal nuut ontdek het. ‘n Vrou wat aan borskanker en depressie ly, se kans op oorlewing is baie skraal. Dr. Paget het destyds al gesê dat dit so ooglopend is, jy kan dit nie ignoreer nie!
‘n Baie bekende geneesheer, Sir William Osler, sê in 1880/1890 dat rumatoïede artritis ‘n siektetoestand is as gevolg van stres. In daardie tyd was daar nie studies om hierdie waarneming te staaf nie, maar hy het op sy intuïsie vertrou. Sedertdien was daar wel vele studies gedoen wat hierdie waarneming goed staaf. Ongelukkig is dit ook so dat indien jy na ‘n rumatoloog sou gaan, jy nie uitgevra sal word oor jou emosionele toestand, of hoeveel stres jy ervaar nie.
Die eerste persoon wat veelvuldige sklerose gediagnoseer en beskryf het, was ʼn Franse neuroloog van die 19e eeu, Dr. Jean Martin Charcot. Hy het ook uitgewys dat dit gebeur as gevolg van stres en onverwerkte hartseer.
So hier en daar is daar ʼn dapper dokter wat stilletjies agter die kap van die byl probeer kom. Hulle vind ook dikwels dat daar ʼn afname is in die gebruik van medikasie en die emosionele ondersteuning van die dokter is. ʼn Luisterende oor het dus veel groter gesondheidsvoordele as wat ons mag besef. Hierdie dapper mense is ongelukkig baie dun gesaai en dit mag dekades neem voordat ons dit (weer) as ʼn normale deel van mediese sorg sal sien.
Maar vandag kyk mense jou aan asof jy mal is wanneer jy noem dat daar ʼn verband is tussen ernstige siekte en onverwerkte emosies. Dit is asof mense in die laaste honderd of meer jare heeltemal emosioneel afgestomp geraak het en verwyder is van hul ingebore kennis. ʼn Rede kan wees dat dit vandag byna ʼn skande is om emosionele probleme te hê. ʼn Ander sy van die probleem is dat dit harde werk is om na binne te kyk en die gemors in jou gemoed uit te sorteer. Om dit af te rond, sielkundige hulp is geensins goedkoop nie en vir die grootste deel van die bevolking heeltemal buite bereik.
Is daar ooit hoop op verandering en ʼn werkbare oplossing? En om eerlik te wees, dit laat mens eintlik net magteloos voel.
Bronne : https://youtu.be/EzvCFVtPXvQ?t=3
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2024 – SKULDLAS projek