Jongste aktiwiteit:

Jan Hellebard se begrafnis

Jan Hellebard se begrafnis

‘n Vrou op ‘n e-fiets kom stadig die bult uitgery tot by die sydeur van die kapèl, leun dit teen die muur en stap sonder links of regs kyk by die sydeur in.

Ons is nie baie rougaste in die klein noorweegse bergdorpie nie, ofskoon almal wat kan kom teenwoordig is, man, vrou en kind. So te sê die hele dorp, gehuggie moet mens sê, en ‘n paar handvol mense uit die omliggende plase en dorpies. Die toringklok begin langsaam lui, die deur gaan oop en ons tree in. Een-een gaan ons na voor, maak ‘n buiginkie of slaan ‘n kruis en staan ‘n paar oomblikke aandagtig met blik op die kis, voor ons omdraai en ‘n sitplek soek.

Ek neem plek in die derde ry aan die middelgang. Die vreemde vrou sit in die heel eerste ry voor, links aan die muur gedruk. As almal binne en die hoofdeur teen die geniepsige herfskoue gesluit is, stap die leraar waardig na die preekstoel regs van die kis en maak ‘n groot gebaar met wyd uitgebreide arms.

Nadat hy sy seën uitgespreek en die koor die eerste beweging van ‘n vierstemmige lied van Palestrina gesing het, begin hy.

„Liewe rougemeente,

‘n jong mens het in ons lewens kom plek inneem van wie ons die allerminste weet. Van sy herkoms, van sy familie, van sy verlede. Hierdie mens het ons leer ken en liefhê. Hierdie mens met sy musiekgawe en sy stralende persoonlikheid, ja, sy sproeiende, jeugdige lewenslus, sy uitbundige vreugde en genot teenoor die dinge van die wêreld, die natuur, die hele plant- en tierryk. Veral sy medemens.

Jan Hellebard het as siek mens hierheen gekom. Om te sterf, soos hy dit destyds uitgedruk het. Hoe oud mag hy gewees het? Die meeste bespiegelinge lui om dertig en ‘n paar daartoe. Vyf-en-dertig? Ses-en-dertig? Juis die natuur, daardie mengelmoes van sagsin en geweld, hier in die berge, ver van die grootstad, het hom weer laat opbloei en ‘n nuwe lewe begin. Hy het, wel met sy laaste geldjies, die ou dorpskooltjie gekoop en daar gewoon en in die tuin „geboer”. Ons het nog tot onlangs sy betowerende vioolspel saans laat gehoor en geweet dat ons bevoorreg is om ‘n ware meester op sy gebied te mag hoor.

Toe ons hom vra, het hy begin om ons kerkkoor te dirigeer asook die klavier by die eredienste te speel en het tot ons kleinste kinders in die wêreld van die musiek ingevoer. Aan ons wêreldse lewe het hy graag deelgeneem en was met sy viool by alle feestelikhede met vrolike dans en gesang daarby. Binne twee jare het ons dorpie ‘n klinkende, klankvolle musiekinstrument geword. Dank Jan Hellebard.

En ons weet nie eers of dit sy regte naam is nie.

Want, toe sy huis na sy dood deursoek is, was geen aanduiding waarvandaan hy gekom het nie, geen papiere of dokumente, geen identiteits- of bankkaart, geen brief wat hy miskien ontvang het nie. Slegs ‘n paar honderd in kontant. Maar niks om aan te dui wie hierdie weldadiger van ons gemeenskap werklik was nie. Dat hy uit die buiteland kom, was aan sy uitspraak te hoor; iets het saamgeklink, ofskoon hy byna perfek gepraat het. Deens of Sweeds was dit nie.

Jan Hellebard! Ons weet min oor jou, maar ons betuig ons dank dat ons jou leer ken het, al was dit slegs vir so ‘n kort tydjie!

Die kore sing nou as eerbetoon van die lieder wat hy met hulle instudeer het…”

Nog voor hy heeltemal klaar is, staan die onbekende vrou skielik aan die kop-ent van die kis en begin praat. Hy het haar nie eers bemerk nie en staar haar verbaas aan. Sy is ‘n sterk vrou in ‘n eenvoudige rok onder ‘n jas wat skaars toereikend vir die seisoen is, met ernstige trekke in haar songebrande gesig, en sy hou die kis weerskante van Jan se kop vas met sterk hande wat weet wat werk beteken.

„Andries Kleinsmit is gebore en het grootgeword as spoorwegkind in die provinsie Natal in Suid-Afrika,” sê sy Afrikaans. „Hy het van klein aan ‘n gawe vir musiek gehad.” Die toehorers skuifel op hul sitvlakke heen en weer. Ek kyk om en sien die verwondering op hul gesigte en leun vorentoe om beter te hoor.

„As skoolkind is hy geterg, want hy was klein en tinger en kon nie so reg die taal van sy klasmaats leer nie. Na ‘n tyd is ons verplaas na ‘n stasietjie in die karroo.” Sy hou op met praat en pink met ‘n sakdoek onder haar oë. Ek spring op en gaan staan op die ander kant van die kis, teenoor die pastoor. En ek begin sommer te vertolk wat sy gesê het. Ek kyk na haar en sy gaan voort, dan kyk sy na my en ek vertolk, so afwisselend, een na die ander.

Sy vertel toe hoe hy moes leer om sy man te staan teen die groot kêrels in die nuwe skool, hoe hy die sterkste klasmaat gewys het hoe om die viool onder sy kin in te druk, en dan met die linkerhand vas te hou. Toe die groot seun merk dat hy dit net maar ‘n paar minute kan uithou, en Andries oor ‘n halfuur so kan staan — en nog speel — toe het hulle vrede gesluit. Maar hoe het hy aan die viool gekom? Wat vir skofte het hy namiddags en Saterdae in die koöperasie gewerk om geld te verdien? Wie het hom onderrig?

Dit was ‘n pensionaris van noorweegse herkoms, wat na die oorlog as jong man geïmmigreer en ‘n boeremeisie uit die distrik getrou het. Hulle het die kruidenierswinkel op die dorp gehad, en hy het Vrydag- en Saterdagaande op sy stoep gestaan en vioolspeel dat almal op die dorp kon saamdans en sing. Of eenvoudig luister na hierdie betowerende instrument. En hy het Andries lesgegee, tot hy met ‘n beurs kon gaan studeer. Maar Andries kon nie die lewe as musiekonderwyser uithou nie, dus het meneer Olafssen hom met die oorvlug en met voorstellingsbriewe by bekendes in die skandinawiese musiekwêreld gehelp.

In Noorweë aangekom, het hy die kunstlernaam Andres Olafssen aangeneem en het in Oslo en ander stede bekend geword as die „Noorse Paganini”, die „Skietende Ster” onder die jong violiste. Ongelukkig het die tweede naam nog ‘n betekenis wat ook waar is: Meteoriete gloei gou en helder en verduister netso gou. En so was dit met haar seun; hy het van kindheid aan aan ‘n longinfek gely. Een aand kon hy nie optree nie en het haar die volgende dag ‘n brief gestuur om te sê dat sy lewe tot ‘n einde gekom het, en dat hy hom nou gaan terugtrek om in vrede te sterwe. Daarna oordra hy sy laaste geld aan sy ma.

„Dit was twee jare gelede, en sedertdien het ek hom oral gesoek totdat ek drie dae gelede ‘n telegram gekry het waarin stand dat hy baie, baie siek is en dat ek hom nou moet besoek as ek hom nog in lewe wil sien.” Sy pink weer ‘n traan langs haar neus. „En soos ons sien, kom ek tog te laat.”

Toe sy gaan sit, dirigeer ek die Klein Spreeutjies met Mozart se kinderstuk „Bona nox, bist ‘n rechte Ochs…”. Daarna die Jeugkoor met ‘n reeks Duke Ellington Gospelsongs en die kantoreikoor met die tweede beweging van ons ingangslied. Almal bly op hul plek en sing na vore; ‘n konsert vir hom en sy ma. Van dirigeer was nie veel rede nie: Die kore het geweet wat van hulle verlang word en het eintlik vanself losgesing. Die kore het ja uit die aanwesende gemeentelede bestaan. Ek moes meer of min net takthou.

Na ‘n kort fluisterkonferensie besluit ons om Verdi se „Slawekoor” uit Nabucco te sing. Ek weet dat ek op die leraar se foutlose bas en die koster se tenoor kan vertrou, die vrouens was deurgaans met noot en woord bekwaam.

Onder in die dorpkroeg sit ek langs mevrou Kleinsmit by die agterna-koffie-en-koek-geselskap.

„Hoe ek Dries leer ken het, Mevrou?

My ma was ‘n Noorweegse en het ‘n boerseun in die destydse Noord-Transvaal getrou. En toe ek die moontlikheid kry om oorsee te studeer, het ek Noorweë gekies: Kuns met betoning op skildery. Maar die slegte tyd het gekom en Ma-hulle skryf dat hulle my nie meer kon finanseer — of eers my terugvlug kon betaal nie. Ek was, eerlik, gestrand, moes my studies beëindig en het oral werk gesoek, het my boeke en klere verkoop, my woonplek verloor.

Een aand stap ek deur Oslo se voetgangersone; ek sien ‘n jong man aan ‘n koffietafel op die sypaadjie sit, treurig en inmekaargesak, en vra hom of hy lus het om ‘n vergenoeglike uurtjie te verbring. Hy gryp my dadelik aan die gewrig en vra my Afrikaans of ek ‘n koppie koffie wil hê. „Aan jou uitspraak hoor ek waarvandaan jy kom,” sê hy. Hy’t my ‘n ordentlike maaltyd spandeer en ons gesels toe land en sand aanmekaar. Hy vertel sy storie en ek myne. Hy is ryk en wil niks hê nie en ek ellendig arm. Die volgende paar nagte het ek op sy gastebed geslaap.

Hy had al die plan met die skooltjie in sy kop. Ek kry ‘n werk in die kruidenierswinkel en ‘n kamer êrens by mense op die dorpie. Só het hy waarlik, soos Pastoor gesê het, opgebloei. Tannie, dit het hom goed gedoen.

Hy wou Tannie net skryf toe die teenslag kom, en hy was oornag doodsiek. Hy het voorheen alles aspris vernietig, om nie ‘n las op iemand te moet wees nie, en het sy laaste spaargeld lankal aan Tannie oordra. Maar ek het Tannie se adres in my kop behou en dadelik getelegrafeer.

Sy naam, vra Tannie? As kind het hy in die sprokies gehoor hoe die koning se dieners hellebarde gedra het, en daar was sulke mooi prente daarvan in die boek. Die betekenis van mans met helder baarde het ook in sy fantasie ingekruip: Helder mans met helder baarde wat hul Koning gedien het met die mooiste wapentuig wat hy ooit gesien het, met hellebarde. Die woord proe vir hom lekker, het hy gesê. Jan is ‘n afwandeling van my naam, Janina. Miskien is hy dood, maar hy is nie ver weg nie:

Voel hierso, Ma. Ek dra hom in my.”

©3e.Februarie2017_______…ooOoo…_______________.2014.tje

[Hierdie verhaal behoort onder die opskrif „Europa en die Wêreld”.]




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed