Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Julie 2021 – OOP Projek – Kommentaar en uitslae

Deur Anze
Datum gepubliseer: 2 September 2021 Aantal woorde: 1839 82 Kere gelees 2

Baie geluk aan hierdie 14 lede!
WENNERS:
GEDIGTE:
GOUD:
No 19 Anzè Bezuidenhout met Vier-honderd-en-90
No 23 Caren Kearley met Soms
No 21 Andries Fourie met Gister
SILWER:
No 2 Morne du Preez met Liefde is soms ‘n geveg
No 27 Elmarie Nienaber Van Kampen met Lewe
No 7 Morne du Preez met Droomtrein
BRONS:
No 24 Ian Nel met Ek sien die seer
No 1 Carmen Edwards – Iron Lady met Lewe
No 10 Vlooi Bonthuys met As ‘n hart breek
GORREL:
No 2 Taai Bonthuys met die nagspook se kuier
No 1 Martelie Read met Wanneer my glimlag glip
Geen
ARTIKELS:
Geen inskrywings
RUBRIEKE:
No 3 Marlene Erasmus met Die tyd toe afskeid-neem verander het
No 2 Driekie Grobler met Die keuses wat ons maak
No 1 Driekie Grobler met Lewensreis
VERHALE:
No 3 Riaan Palmer met Ons moes nie met Ta’ Anna gaan praat het nie
No 1 Riaan Palmer met Word wakker
No 2 Andries Fourie met Die storie van Bonginkosi Khumalo

KOMMENTAAR:
Brons
1. Lewe
Dit is ‘n besonderse sterk gedig wat die menslike toestand van voorgee verbeeld. Rou emosie is goeie teelgrond vir treffer verse en jy het in die klein woordoppervlak van ‘n sekstet ‘n uitstaande vers geskryf. Welgedaan.

3. Kleinskrif dinge
Dit is ‘n oulike invalshoek op die singe van die hart. Jy beskryf die kwesbaarheid en voorbehoud goed. Ek wil tog hê jy moet die geyktheid van die “voorportaal van die hart” ondersoek. Die gebruik van “wegstekende” pla ook wat beter as “weggesteekte” of “verbloemde” gelees sou word. Jou vers eindig sterk. Miskien kan jy ‘n akuut op “jóú” in die laaste sin gebruik.
Mooi gedoen.

4. Skuldige kapitalis
Die mees opvallende uitdagings in jou vers:
a. Handel(s)verhoudings is een woord
b. Eerder “skitter kleurlyne” (S 1 L 3)
c. ‘n se hakie (S 2 L 5)
d. Wat sou “gekorreleerde” beteken? Moet dit nie “gekorrekteerde” wees nie? (S 3 L 1)
e. “Skuld” eerder as “skud”? (S 3 L 5)
f. Lid- en koppelwoorde is die digter se vriend. Daarsonder klink die vers soos ‘n telegram, en dit is nie soos ons praat nie. Waarom sou ons so wil dig?
Die tema van jou gedig is dalk jou ondersoek op die simptoom van ons tyd, maar ek kan nie die motivering verstaan waarom jy so ‘n kriptiese vers geskryf het nie.

5. Reën
“Sinkdak” sal een woord wees.
Ek hou in besonder van die teenstelling tussen dreig/verdwyn en stilte. Dit is treffend en vertel ‘n dieper
storie as wat bloot op papier gepen is. Die gedig begin op ‘n onskuldige, selfs effe geyk, maar die trefkrag lê in die slot. Dit is ‘n goeie vers.

8. Om ‘n beter mens te wees
Alhoewel ek dink die skrywer probeer hard om die menslike toestand te behandel, en dit is nodig omdat die inhoud ‘n eie waarheid ontbloot, het die lang sinne en die voordurende herhaling van “ek het…is…ens.” geen goeie en funksionele bydrae tot die vers gelewer nie. Ek stel voor jy karring bietjie hieraan om die werklike juweel te ontsluit.

9. Kindjie klein
Ek vind die vers steurend kripties sonder mooi koppel- en lidwoorde. Met die gebruik daarvan sal die gedig veel beter vloeiend lees.

10. As ‘n hart breek
Ek hou van jou poging om ‘n kragtoertjie te doen. Ek dink die vers kan selfs sterker oorkom as jy selfs nóg ‘n paar woorde skaaf. Ek sien die vers so:
As ‘n hart breek
is dit pynskreeuend
met geen hoorbare roep
maar dit stilte is oorverdowend
Goeie werk.

11. Tokkel
Ek begin my kommentaar met die laaste woord in jou vers naamlik “musea”. Dit is ‘n onbekende gebruik van die meervoud vir ‘n museum. In Afrikaans hoor ons dit selde maar dankie daarvoor.
Die enjambiese aanbieding van jou gedig is mooi genoeg maar ek dink daar is plekkies waar die sinsnit kan aanpas. Lees weer jou gedig en bepaal waar die eerste woord van ‘n sin eerder in die vorige moes gebly het. Die “onderwerp” van jou vers, alhoewel telke male reeds behandel, is vir my ‘n besonders vars aanslag. Baie dankie vir jou deelname.

13. Ek het vandag vir jou gebid
Alhoewel ek van jou vers hou endie eerlik aardse aanslag waardeer, hinder die deurgaanse herhaling van die eerste twee sinne my.
Ek dink as jy dit slegs in laaste stanza herhaal het sou dit ‘n groter impak gehad het. Miskien kan jy oorweeg om die vers sodoende aan te pas.

14. Onvermoë
Ek is jammer om te sê maar dit is ‘n slordige vers. Die tekort aan lid- en koppelwoorde laat dit na ‘n sinnelose versameling van lukrake woorde lyk.

15. Hande se liefdestaal
Die herhaling van “hande” en “liefdestaal” ia hinderlik. Die vers sou baat deur sinonieme daarvoor te gebruik. Verder lees die vers soos ‘n kriptiese telegram wat die vloei en ritme belemmer. Probeer skryf soos jy praat dan is dit makliker om sulke slaggate te vermy.

16. Ek mis jou ook…
Dit is ‘n heerlik, aardse vers sonder voorgee. Die leser baat by die menslike eerlikheid. Mooi gedoen.

17. Kennise
Die onderwerp, wat ‘n lewensles is, is relevant, maar die aanbieding van die vers is in my opinie effe slordig. Dit is kripties op plekke en lang gerekte sinne steur die ritme. Die vers is ook lank wat veroorsaak dat sekere dinge herhalend is. Probeer bietjie om hieraan te redigeer. Daar is ‘n juweel opgesluit onder die warboel.

18. Sirkelloop
Dit is ‘n gewigtige vers wat herlees moet word. Ek vind dit moeilik om te verstaan, maar dan weer, die skrywer is nie verantwoordelik om die leser te lepekvoer nie. Tóg bly dit belangrik dat die leser aangemoedig word om jou toekomstige werk te lees. Verstaanbaarheid, wat pitkos lewer, speel hier ‘n rol. Miskien kan die vers baat by effense redigering om dit meer kompak te maak. Dankie vir jou deelname.

24. Ek sien die seer
Moet asseblief nie elke sin met ‘n hooflettet begin nie. “Weggesteek” in strofe 1 sal een woord wees. “Winterkombers” in strofe 4 eerder as “winterskombers”.
Ek is in besonder gaande oor die sin:
“Ek ruik die angs
wat dieper lê as slaap…”
Dit is ‘n baie sterk beeld wat die vers mooi saamvat. Ek hou daarvan dat die betrokkenheid van die narrator in elke sintuiglike kategorie ervaar word. Dit is ‘n empatiese vers wat eerlike menslike omgee verwoord. Voorwaar ‘n pragtige gedig. Welgedaan.

25. Oggendstilte
Ek hou van die progressie in die vers. Ek dink jou vers sou kon baat met ‘n paar funksionele punktuasies. Die inhoud is keurig. Dankie vir jou deelname.

SILWER:
2. Liefde is soms ‘n geveg
Dit is ‘n ongelooflik treffende gedig. Die beelde is gelaai met ‘n aangrypende elektrisiteit. Ek is so gaande hieroor dat ek dit moeilik is om die regte woorde te vind.
Ek moet egter wys op twee klein jakkalsies:
1. Die dubbelontkenning (sin 2) ontbreek;
2. Ritsel met ‘n “s” en nie ‘n “z” nie.
Dit is ‘n voortreflike gedig. Welgedaan.

7. Droomtrein
Dit is ‘n interessante vers waar die trein as metafoor gebruik word om die soms ongevraagde teenwoordigheid van karakters in mense drome. Die akuut op “se” en die [’] na “so” is vir my vreemd.
Strofe 2 tot 5 hoef ook nie met hoofletters te begin nie. Die herhaling van “vaag” in die laaste twee sinne pla my oor. Vervang “vaagweg” met iets soos: “flou; dynserig”
Ek hou van wat die vers bied.
12. Geheg aan God
Dit is ‘n persoonlike vers wat moeilik sal wees om te beoordeel. Daar is metafore en gedagtes hierin wat nie vir my duidelik is nie, maar dan weer is versmaak nie daarop uit om die leser met ‘n lepel te voer nie. Ek verstaan nie die volle strekking van die vers nie, en omdat die onderwerp ‘n diep godsdienstige ondertoon het, gaan ek myself eerder weerhou om hierop kritiek te lewer.
26. Lewensstryd
Ek het nie veel kritiek te lewer op die inhoud hiervan nie. Dit is gepas vir die tyd waarin ons leef en die aanbieding is keurig. Dankie vir jou deelname.
27. Lewe
In vyf kort, bondage en indrukwekkende sinne skryf jy ‘n treffer. Dit is prysenswaardig dat jy in die klein spasie ‘n onoortroffe vers aanbied. Ek moet jou geluk wens met ‘n pragtige skat in die spasie van versmaak. Welgedaan.
28. Ontsnapping
Ek ervaar die inhoud effe geyk en sentimenteel. Die gedagte agter die vers is iets moois om te ontwikkel maar dit voel asof jy so hard daaraan gewerk het om te rym dat jy dalk nie in elke opsig die beste woordkeuses gemaak het nie.
GOUD:
6. Blinde woorde
Dit is ‘n keurige vers maar ek voel jy probeer te hard om elke gedagte tot so ‘n mate in te kleur dat die lywigheid daarvan die rou gedagte wat oorgedra moet word verloor. Dit is nietemin ‘n leesbare vers wat by ‘n sekere gehoor aanklank sal vind.
19. Vier-honderd-en-90
Dit is ‘n slim vers wat die leser behoorlik laat dink. Die woorde spoel nie net oor en af nie. Die vers is gewigtig en laat die leser betrokke, nie net deur die slim keuse van woorde en samevoegings nie, maar ook omdat die inhoud ‘n waarheid versteek. Dit is ‘n baie goeie stukkie werk. Welgedaan.
20. Niemandsman
Die vers dwing die leser om die meer as een keer te lees. Dit mag dalk nie met die eerste oogopslag duidelik wees nie, maar die vers beskik oor ‘n veel groter waarheid. Goeie werk.
21. Gister
Die laaste strofe maak hierdie vers. Dit is werklik goeie werk. Welgedaan.
22. Halflewend
Hierdie vers stel teleur. Vir iemand wat in die goue afdeling deelneem voel die inhoud vir my laf en onsinnig.
23. Soms
Dit is ‘n aangrypende vers wat in baie min woorde ‘n grootse “verhaal” van die menslike toestand vertel. Jou vers is ‘n stukkie kuns. Welgedaan.

Gorrel
1. Wanneer my glimlag glip
Dit is ‘n baie eerlike, self-ondersoekende gorrel wat die kwesbaarheid van die narrator ontbloot. Ek sou wou sien dat die Engelse terme nie sommer so inglip nie, maar ter wille van algemene spreektaal is dit nie té hinderlik nie. Mooi, eerlik en keurig.

2. Die nagspook se kuier
Die aanbieding is keurig en humoristies. Ek het heerlik saam dié agter die deur gegiggel. Mooi gedoen.

RUBRIEKE
1. Lewensreis
Dalk kan jy dit oorweeg om eerder na “amper verdrinkings” te verwys want jou opsie klink reeds finaal. Die rubriek is eerlik. Ek het lekker hieraan gelees.

2. Die keuses wat ons maak
Het jy geslaag in jou rubriek om die vrae wat jy gestel het te beantwoord? Ek dink so. Die keuse bly in die hande van die individu. Jou aanbieding is keurig en dit lees baie mooi. Welgedaan.

3. Die tyd toe afskeid-neem verander het
Jy het ‘n aktuele saak aangespreek en het dit baie sinvol, keurig en simpatiek gedoen. Jou rubriek being troos in ‘n tyd waar daar baie onsekerheid is. Mooi gedoen.

ARTIKELS:
GEEN

VERHALE:
1. Word wakker
Dit is ‘n baie keurige verhaal. Die skrywer slaag daarin om die leser vanaf die eerste tot laaste sin met intrige en vernuf te boei. Dit is werklik ‘n goeie aanbieding. Welgedaan.

2. Die storie van Bonginkosi Khumalo
‘n Lewensles? Dankie vir jou deelname.

3. Ons moes nie met Ta’ Anna gaan praat het nie
Dit ‘n spanningsvolle verhaal. Die storie is mooi ontwikkel en dit is aangrypend tot op die einde. Welgedaan.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 293
Kommentaar telling: 3330

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 2 kleinseuns en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 111 gaste aanlyn

Bydraes – Argief