Kampvegters vir Afrikaans (569 woorde)
Vanmelewe was daar nog altyd voorlopers wat dit hulle werk maak om te waak oor sake na aan die hart. Mense wat erns maak om dit waarin hulle glo, uit te bou en seker te maak dit gewig dra.
Daar is verskeie organisasies wat hulle daarvoor beywer, en alhoewel almal op die einde dieselfde doelwitte nastreef, het elke organisasie hul eie unieke werkswyse wat bevordering en bewusmaking van Afrikaans betref.
Tans is daar heelwat organisasies wat hulle beywer vir die voortbestaan van Afrikaans, veral in ons skole. Organisasies soos AfriFrorum, Afrikaans.com, Die Afrikaanse Taalraad, die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging), die GHA (Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans) en nog vele meer.
As lid van bykans al hierdie organisasies, het ek die voorreg gehad om ook persoonlik betrokke te raak by die GHA op bestuursvlak, vir ‘n hele paar jaar.
Die GHA beywer hulself veral daarop om moedertaalonderrig in skole te behou, en te bevorder, deur die aanbied van verskeie projekte deur die jaar. Om dit moontlik te maak is dit nodig om hande te vat met organisasies soos AfriForum, CVO-skole en die ATKV.
Was dit nie vir hierdie taalkampvegters nie, sou Afrikaans dalk lankal die knie moes buig onder die regering se doelwit om Engels die voertaal in alle skole te maak.
Elektroniese media en TV stories, wat meestal in Engels is, het ‘n groot aandeel in die verengelsing van ons kinders. Ook platforms waartoe kinders toegang het, soos Google, Facebook, Twitter ens. Alles wat hulle naslaan vir skooltake op internet, word meestal in Engels aangebied, met slegs ‘n paar Afrikaanse naslaanwebwerwe, soos Mieliestronk.
Maar skole is en bly die grondslag waar kinders opgevoed en onderrig moet word in hul moedertaal. Daarom is dit hartseer om te sien hoe Afrikaans in skole al meer vervang word met Engels. Daar word dus geredeneer dat twee tale oorbodig is en koste bespaar kan word met net een taal. Die taal wat uitgeskakel kan word is die een wat in die minderheid gebruik word, naamlik Afrikaans.
Op AfriForum se webwerf noem Alana Bailey, hoof van AfriForum Kultuursake, in ‘n artikel “Moedertaalonderrig – Feit versus Fiksie” die volgende – ek haal aan:
“Ten spyte van bewusmaking oor taalregte en die voordele van moedertaalonderrig, groei die druk teen eentalige Afrikaanse skole deurentyd en is daar geen staatsondersteunde universiteite in die land oor waar ‘n student ‘n kwalifikasie en die administrasie daaromheen uitsluitlik in Afrikaans kan afhandel nie.”
Verderaan meld sy: “Wat minder verskoonbaar is, is Afrikaanse ouers wat doelbewus teen moedertaalonderrig kies en hulle kinders in Engelse kleuter-, laer- en hoërskole plaas. Hulle doen dit onder die wanindruk dat die kinders hierdeur vlot Engels sal leer praat en suksesvolle loopbane sal hê as hulle in die “wêreldtaal” (Engels) studeer. As gevolg van hulle optrede, verkeer Afrikaanse skole onder druk om jaarliks voldoende inskrywings te kry om hulle eentalige status te handhaaf. Elke skool wat oorskakel na parallel of dubbelmediumonderrig loop die gevaar om mettertyd eentalig Engels te word en benadeel die Afrikaanse gemeenskap.” (Afriforum.co.za/moedertaalonderrig-feite-versus-fiksie)
Dis is dus van kardinale belang dat organisasies wat hulle beywer vir die voortbestaan van Afrikaans in ons land, en veral in ons skole, ‘n groot en belangrike bydrae lewer om moedertaalonderrig behoue te laat bly vir ons kinders en nageslag.
Sonder hul inisiatief om op regeringsvlak te bly veg vir Afrikaans, sou Afrikaans dalk al lankal verdwyn het uit skole.
©Driekie Grobler
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Julie 2022 Wat skryf ek?