Kan, wil, moet? Of nie.
(Woordtelling 796)
Verby is daardie dae toe die oorvloedige hartseer van ander my tande onbeheerst aan die klap laat gaan het. Die enigste verskoning wat ek kan aanvoer is dat ek nog jonk en onnosel was en verseker nie in staat was om by ’n ander te staan terwyl die lewe hul die een dwarsklap na die ander gee nie. Boekkennis is nie altyd die beste leermeester nie, en mens kan jou moeilik in ʼn ander se skoene indink voordat jy nie self daai pad gestap het nie. Die oningeligte dink sy doen ʼn goeie daad, maar die pad na die hel is ook met goeie bedoelings geplavei. Hierdie goeie bedoelings het al meermale groter skade aan ʼn gebroke hart aangerig as wat dit troos gebring het, en vele verhoudings het as gevolg hiervan gesneuwel.
En so het dit heel onbedoeld gebeur dat ek in die laaste dekade myself daagliks in die teenwoordigheid van getraumatiseerde mense bevind. Raad kom nooit goedkoop nie. Soms is daar nie raad nie, en kan jy net jou teenwoordigheid en ʼn paar woorde van erkenning aanbied. Dit het nou al so normaal soos koffie saam met ontbyt geword.
Miskien is dit deel van goeie geloof dat vriende en familie, met wie jy in gereelde kontak is, jou tydens so ʼn emosioneel uitdagende tyd sal bystaan. En wanneer dit nie gebeur nie, sien jy daardie einste verwagting in ʼn dun rookwolkie opgaan. Dit brand jou tot diep in jou hart, en al wat oorbly is skok en sinisme. Dit is byna onvermydelik dat mens nie iewers langs die pad tot stilstand geruk sal word, en jou oë dalk onvermydelik oop sal gaan nie.
Ongelukkig is dit ook so dat nie almal wil (of kan), wákker skrik nie. Die mens se ingebore neiging om moeilike situasies te vermy en hul probleme of uitdagings onder die mat in te vee, help nie. Die wêreld se aanmoediging om jou probleme “weg te gee” help nog minder. En dit verg moed om stil te staan en nie-veroordelend na jouself te kyk, en die seer stukkie vir stukkie te ontleed en gesond te maak.
Dit is redelik maklik om binne die eerste paar maande te sien of ʼn persoon deur sy omstandighede sal groei en oorleef, en of daardie persoon vir ewig ʼn winterdood sal beleef. Sy haal nog asem, maar daar is niks daarbinne nie. Dooie oë. ʼn Vermorsing van ʼn kosbare lewe. Miskien is dit omdat die mens geneig is om nie verder as sy vleeslike bestaan te kyk nie. Miskien is dit omdat ons as Westerlinge, nie geleer word om verder as die materiële te delf nie. Daarom dat ons so maklik opgee wanneer die teëspoed jou hart tot ʼn pappery vertrap. Jy dink dat dit die einde van jou gelukkige bestaan is, en dan hou jy ook sommer op met leef.
Ag ja, pragtige boeke is al geskryf oor die lente van jou lewe (kinderjare), somertyd (jong volwassene), herfs (aftrede) en dan noodwendig winter (bejaardes). Tog het ek byna nog geen persoon ontmoet wat nie kaplaks in sy lente- of somer jare, ʼn vieslike emosionele krisis beleef het nie. Die grootste uitdaging is dan of jy bereidwillig is en verantwoordelikheid vir jou ongelukkigheid te neem, en stelselmatig daardeur te werk, of nie.
Niemand sê jy MOET deur jou traumas werk nie, maar dit maak die lewe soveel makliker indien mens dit wel doen. En, as jy sukkel om dit self te doen, is dit geen skande om te vra dat iemand anders jou hand hierin vashou nie. ʼn Ander se perspektief is soms al wat nodig is om jou oorgroot probleme in ʼn nuwe lig te sien.
Meestal is dit onmoontlik om die verlede te verander. Jy kan immers nie teruggaan in tyd en dinge anders doen, in die hoop op ʼn beter uitkoms nie. Al wat nou oorbly is om jou siening en reaksie op die uiteindelike gebeure te verander, sodat jy nie vir altyd met ʼn ysterbal en -ketting op een plek vasgevang sal wees nie.
Dit is te tragies wanneer iemand in die fleur van sy lewe, ophou leef. Nie fisies nie, maar geestelik. ʼn Leë dop. Soms is die persoon so onskuldig-onbewus van haar eie onvermoë om weer op te staan, dat jy haar terstond aan die skouers wil vat en ʼn goeie skud wil gee. Sal dit help? Ek twyfel. Niemand se oë kan oopgaan tensy jy tot ʼn plek gedwing word waar jy daardie keuse moet maak nie. Die lewe, of die dood?
Absoluut alles in die lewe is ʼn keuse. Jy kan dit voluit aanpak, of nie. Jy kan jou wonde verbind en intensioneel help om te genees, of nie. jy kan wakker skrik uit daardie dood, of nie, en niemand kan vir jou daardie besluit maak nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Junie 2023 – Winter projek