~ Kaneel en warm sjokolade ~
ek is weer terug op koffie
en die kaffervink in my hart
raas nie meer so erg nie
want die nes is knus en vere pof vir selfbehoud
karmosyn drup langteelbeen teen nag-kristal
en die maan sit met haar arms oor haar hoof gevou
(ook maar net vrou)
die wyn in my bloed syfer sy eie loop
deur nuut gevonde gleuwe
en prop warmte in leë holtes van my lyf
die dat ek veer in die hand sit en skryf
want die plek wat ek vir jou by my kaggelvuur
reserveer, is nog onbeset
by jou reën dit
ek weet
ek kan die afstand tussen my en jou
meet aan die klam in jou trui se grein
as jou gees kom lyfskuur in my nek
ek die muskus en mos hoor kleef
aan jou wimpers
die klam dennenaalde wat nog aan jou
voetsool klou van jou beur teen winterkou
asem teen die vensterruit
vries teen gletsers van seesout glas
en ek probeer my vingerpunte tussen
Venus en die drie konings pas
en ek boog toe jou woudruising
om my huis se hoeke ween
vanaand is ek weer alleen
maar vreemd tevrede in die wete
dat storms jou gou weer sal nes
in vingerkommetjies
van my kaneel en warm sjokolade.
© Almarie Truter
7 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Pragtig
-
Ronel Janse van Vuuren
Mooi gepen :-)
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Winter nostalgie projek
-
Koekekranka
So sielsmooipragtig!
-
Cornien
Ai Ammie, jy kan maar - jy het absoluut die gawe om jou leser by jou gemoed in te trek asof ons ruik, voel en sien wat jy ervaar. Weereens welgedaan!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Baie goeie werk! Welgedaan :-)