Klikkie Klikbek het nie maats nie
Klein Kwekker kwêvoël het nie maats nie want Kwekker is ‘n regte klikbek. Niemand hou van ‘n klikbek nie. Toe Basjan die bobbejaantjie en sy maats versigtig nader gekruip het om Oupa en Ouma bobbejaan wat so lekker op die platklip lê en slaap het, se sterte aan mekaar te knoop, het Kwekker dit gesien. Voor hy kon keer, het hy so ‘n harde “kwê” gegee dat al die bobbejane opgevlieg en weggehol het. Of toe klein Manie meerkat en sy maats boomgom aan die klip wou smeer, waarop Kennie die verkenner-meerkat altyd staan, het Kwekker hulle pret ook bederf. So was dit met elke dier wat die diere maats ‘n poets wou bak. Dit was ook Kwekker se skuld dat moeder Dikkop vir Asjas die apie en sy maats pimpel en pers gepik het. Toe hulle, net vir die pret, haar eiers wou omruil met die van moeder Kiewiet, sê Kwekker weer, voor hy kon keer, “kwê” en toe moes die apies laat spaander. Dit was die laaste strooi.
“Ag nee Kwekker dit is al weer jy wat ons pret bederf! Gaan weg ons wil jou nooit weer sien nie! Jy is ‘n klikbek!” sê Asjas vies terwyl hy die knoppe op sy lyf vryf.
Al die diere maats dans toe in ‘n kring terwyl hulle kliphard saamgesing: “Klikkie klikkie klikbek jy moet weggaan jy moet trek!”
Klein Kwekker Kwêvoël het so skaam gekry dat hy sommer ver weg gevlieg het. Van toe af was hy alleen want niemand wou met hom maats wees nie.
Maar vandag moet al die klein diertjies soet wees want dit is hulle eerste skooldag, en Oupa uil is ‘n kwaai onderwyser. Die eerste periode verloop seepglad. Tot die apies en die bobbejaantjies sit stroopsoet en luister na Oupa uil wat hulle die ABC leer. Die tweede periode leer hulle optel en aftrek. Toe is dit pouse. Arme klein Kwekker Kwêvoël sit maar kop onderstebo eenkant want niemand wil met ‘n klikbek speel nie.
Terwyl die diere maats wegkruipertjie, en bok-bok speel hou geel oë hulle dop. Dit is Lodewikus die luiperd wat in die donker skadu van die bos wegkruip.
“Aha” dink Lodewikus terwyl hy sy naels teen die klip skerpmaak “hier kan ek mos vir my ‘n lekker middagete kry. ‘n Fris ou rooibokkie, of kameelperd of selfs ‘n vet sebra sal lekker smaak.”
Versigtig sluip Lodewikus nader terwyl hy sy bek aflek. Voetjie vir voetjie bekruip hy vir Zebie wat sy oë moet toehou sodat die ander maats kan gaan wegkruip. Sy geel oë gloei sy spiere span saam en sy snorbaarde tril van opgewondenheid.
“Nog net een sprong” dink Lodewikus “dan gaan ek heerlik vreet aan hierdie klein sebra.”
Ai tog, gaan niemand dan vir Zebie waarsku nie. Gaan Zebie nou regtig luiperdkos word? Lodewikus grynslag met sy snorbaard bek as hy regmaak om te spring.
Skielik sien Kwekker hom en voor hy kan keer, skree hy kliphard “kwê!” Die diertjies skrik so groot dat hulle in alle rigtings weghardloop. Lodewikus moet maar druipstert in die bos verdwyn.
“Luiperd! Hier is ‘n luiperd!” skree al die diertjies.
Oupa uil vlieg vervaard nader om uit te vind wat aangaan. Almal probeer tegelyk vir Oupa uil vertel wat gebeur het en hoe Kwekker Zebie se lewe gered het.
“Kwekker is ‘n held!” skree al die diere.
Dit laat Kwekker se hartjie sommer lekker voel. Hy is so bly dat hy Zebie se lewe kon red en dat almal dink hy is ‘n held. Miskien sal die ander diertjies nou weer met hom speel.
“Ja” sê Oupa uil “het julle dan nie geweet dat kwêvoëls die bos se alarmstelsel is nie?”
“Alarmstelsel?” vra almal verbaas.
“Hoe bedoel Oupa nou?” vra Asjas.
“Kwêvoëls is daar om diere te waarsku teen gevaar. As hulle sien dat iets gaan verkeerd loop met ‘n dier dan waarsku hulle hom. Soos wanneer ‘n jagter ‘n bok wil skiet, dan skrik die bok so groot vir hierdie harde kwê, dat hy weghardloop voor die jagter kan skiet. So kwêvoëls het ‘n ingeboude alarmstelsel wat ander diere waarsku.”
Nou verstaan die bobbejaantjies en die apies en al die ander diere maats hoekom Kwekker vir Oupa en Ouma bobbejaan, moeder Dikkop, Kennie die verkenner-meerkat en al die ander diere vir wie hulle poetse wou bak gewaarsku het. Kwekker is toe nooit ‘n klikbek nie hy is toe al die tyd ‘n wekker wat diere waarsku.
Al die diere kinders dans toe in ‘n kring om Kwekker terwyl hulle saamgesing: “Kwekker is ons waarsku wekker. Kwekker is ons held!”
Van daardie dag af het Kwekker weer sy ou maats terug gekry en hy het ook sommer baie nuwe maats gemaak, want hulle het onthou dat Oupa uil gesê het: “Elke dier het sy eie manier en sy eie plek in die natuur.”
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.