
Laat nag wasem asems
So boos soos ‘n nag kan wees
met drank
ongenaakbaar en onbeheers
my hart klop
saam Jakaranda se top 10
laatnag treffers
wat in die agtergrond
af speel
ek voel jou ritmes
hier langs my
en my oë
net soos my hande
kan jou nie weier nie
die nag volg ons
verby straatligte
en flikkerende robots
teen nat kar ruite
en wasem asems
ek verkyk my aan
jou hande
jou besige mond
en jou stêr-blou-grys oë
wat kort-kort met myne praat
jy maak my binnestes sag
ek’s broos
en die nag is boos
en die doos wyn
het al net nou opgedroog
en jou gelag
weergalm hier binne
die gange
van my verlange
ek sweer
my hart wou vlug
maar ek was vasgekeer
saam die donker
en jou gelag
laat nag wasem asems
teen nat gereënde kar ruite
die vensters van my hart
waar jy roekeloos
alles van my vat
en ek herroeplik
vir jou gee
wat jy in die weerkaatsing
van jou oë begeer.
Chantelle Holder
17 Maart 2016
© 2016
3 Kommentare
-
Kiekies
Mmmm ja dis puik! Veral: laat nag wasem asems teen nat gereënde kar ruite die vensters van my hart waar jy roekeloos alles van my vat
-
Evelyn van der Merwe
Voorwaar voortreflik geskets. Mooi gepen.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
sjoe hierdie is pragtig!