Liefde is vir die voëls
dis die sout op haar lippe
dis die sout oor haar wang
en sewe pelikane
wat bo Saldanhabaai hang
dis die daisies aan die voet van die grys klipkrans
en die witkruisarend wat oor die veld swerfdans
dis die wolke in die hemel
dis die wit teen die blou
en ooievaars wat koers
verby Darling hou
dis Jan se skuit voor die water op die land
dis die meeu in die mis wat sweef oor die sand
dis die wasgoed op die lyn
wat in die weswind wieg
en swaweltjies wat t’rug
vanuit die noorde vlieg
dis by Langebaan waar die wind so waai
oor die meer by die strand vlieg ‘n witborskraai
dis die sout op haar lippe
dis die traan oor haar wang
en nog een pelikaan
wat bo die Postberg hang
C. Shaw
9 September 2015
7 Kommentare
-
Inkmoderator
Ek het die gedig gelees en vir eers getwyfel of dit in die tema vir die bundel sal pas, en besef so met die herlees dat liefde nie nét tussen mense is nie maar ook teenoor ons omgewing, ons diere en ons aarde. Jou vers is 'kleurvol' en tasbaar. Dit is asof ek in die wind in Saldanha staan en presies sien waaroor jy skryf. Die gedig is ritmies geslaagd en jou talent om die metrum te manipuleer is ongelooflik. Pragtige gedig Viooltjie. IM
-
Palet
Baie mooi
-
neels
Carma van al jou werke wat ek al gelees het is hierdie beslis een van die mees uitstaandes
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek