
Liefde: ‘n gevoel wat jy voel wat jy nog nooit gevoel het nie. (SILWER)
Liefde: ‘n gevoel wat jy voel wat jy nog nooit gevoel het nie.
Die mens kan so baie emosies ervaar, waarvan liefde seker een van die mees intense emosies is. As ons maar net kyk na aanlyn-media en leesstof wat in boekwinkels beskikbaar is, sal jy baie gou agterkom dat daar talle boeke is wat jou meer oor die liefde wil vertel. Dikwels kom die boeke met ʼn hele rits voorskrifte en voorstelle oor die liefde. Elke individu ervaar egter liefde op sy eie manier.
Liefde is eintlik so bekend, maar ook so onbekend vir so baie van ons.
ʼn Groot hartseer is dat almal nie so gelukkig was om in ʼn liefdevolle milieu op te groei nie. Hierdie individue is ook dikwels die wat sukkel om liefde te betoon. Die sprokies waar die prinses haar eie prins ontmoet en hulle lank en gelukkig saamwoon, is baie kere die idee waarmee jy grootgeword het as kind. Die ontnugtering kom dan die dag wanneer jy besef jou prins is ook maar net ʼn mens met voete van klei, dikwels voel ons dan heel verlore in ons geloof van die liefde.
In die beginstadium van ʼn verhouding is alles rooskleurig. Verliefdheid is egter ʼn chemiese reaksie in jou brein wat na ʼn ruk verwelk. As hierdie aanvanklike stadium van verlief wees, verdwyn, kom daar dieper gevoelens in die verhouding: liefde! Alhoewel dit ʼn wonderlike tyd in jou lewe is, verg liefde ook harde werk in jou verhouding met jou geliefde.
Soos navorsers dit tereg het, is daar verskillende liefdestale tussen mense.
Aanraking vorm die bousteen van geluk in sommiges se liefdeslewe. Die mens wat op fisiese aanraking ingestel is, reageer liefdevol as hul maat aan hulle vat in die vorm van soentjies, drukkies en sommer net mekaar vashou. Heelwat mense sukkel hiermee en gewoonlik is dit die man wat meer ingestel is op koesterende aanraking.
Daar is persone wat kwaliteit tyd as liefde ervaar en hulle floreer behoorlik as hulle kwaliteit tyd met mekaar kan spandeer soos om dinge saam te doen, eenvoudige dinge soos om ʼn lekker lang skuimbad saam te neem. Dit is die klein gratis dinge in die lewe wat vir hulle baie tel, soos byvoorbeeld sit en gesels in die skemer of om prettige aktiwiteite saam te doen.
Vir sommige van ons is dit wanneer jou maat vir jou dinge doen, wanneer die liefdesvure hoog brand. Hier dink ek sommer aan die woorde “wys vir my hoe baie lief is jy vir my”. In die verhoudings waar twee geliefdes mekaar help met alledaagse take, laat die gebaar die mense beslis meer geliefd voel.
Vir my is “woorde” die taal van liefde. Daar is niks so lekker as om die woorde te hoor: “Ek is so lief vir jou, ek waardeer jou”, of “Jy is vir my spesiaal.” As jy uit ʼn huis kom waar daar nie vir jou vertel is dat jy geliefd is nie, kan dit nogal ietwat van ʼn uitdaging wees om die liefdes taal te praat.
Daar is heelwat vrouens wat ingestel is op geskenke as ʼn bewys van liefde. Dit is nie noodwendig die groot duur geskenke wat hul hart steel nie, selfs ʼn veldblommetjie na die reën is vir hulle die bewys van hul maat se liefde.
Ek dink met ʼn sagte glimlag aan die dae wat ons so opgewonde oor die liefde geraak het. Daardie
frase: “Dis ‘n gevoel wat jy voel wat jy nog nooit gevoel het nie” het vir menigte met ʼn blos op die wange en sterre in die oë gelaat.
Hoe dit ook al sy, Februarie is die maand van die liefde en daarom is ons meer bewus van Cupido met sy pyle, rose, sjokolade en kerslig-etes.
Lank lewe die liefde!
©Marlene Erasmus
28/02/2022
(627 woorde)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek