Jongste aktiwiteit:

MAAK LOS JOU BOLLA, MAN!

Word ek mos anderdag konfronteer met die vraag: Hoe voel jy oor jou werk?

O jinnetjie tog, dink ek, hoe voel ‘n mens oor jou werk? Jy moet mos werk, of jy nou wil of nie. So? Hoe voel ek daaroor? Ek sien myself by die kombuistafel sit so vroeg in die môre, kop in die hand. “Ek het g’n lus nie!” En daarmee bedoel ek sommer ‘n hele klomp dinge: nie lus vir opstaan en klaarmaak nie, nie lus vir asemhaal nie, nie lus vir werk toe gaan nie sommer nog ‘n hele reeks ‘nie lus vir dinge’ nie.

Dit beteken dus … jip, dit beteken ek is nie altyd so positief oor en so lief vir my werk soos wat ek myself wil wysmaak nie. En dit, broers en susters van die gemeente, is ‘n slegte ding, hoor! Hoe kan jy die grootste deel van jou dag spandeer by ‘n plek waaroor jy nie honderd persent positief is nie? En meer nog, waarvoor jy nie hartstogtelik lief is nie! My ma het ‘n sê gehad wat ek nie hier durf herhaal nie. Dit het te doen gehad met dat dit ‘n sonde vir een of ander kerk is.

Nou hoekom voel ons so oor ons werk? Hoekom is dit nie vir jan alleman lekker om te werk nie? Wat is dit wat ons koppie so laat werk? Nou dink net ‘n bietjie so daaraan – ons is omring met mense wat so voel oor werk toe gaan, ha? Dan is daar nog soveel moets en moenies by die werk ook nog. Baie maal is jy nie eens bewus daarvan nie, want jy trap in elk geval maar in jou spore. Want, wat nou as ek so of so of so? Jy ken mos daardie gevoelentheidjie op die krop van jou maag. Nee, dit en dat sal ek liewer nie waag nie, want wat nou as…! Baie keer is my eie reëls vir die werk nie eens nodig nie, maar dis nou maar eenmaal soos ‘ek grootgemaak is’. Jy ken mos daai een ook, ha?

Nou hoe dan nou verder, vra jy my? Ek hoor hoe jy snork – wat het ek met jou en jou werk te doen. Nee man, dit gaan hier eintlik oor my en my werk en die verpestelike gevoel wat veral op ‘n Sondagaand kom nesmaak op my maag.

Ek’t gesê ons word groot met sekere dinge rondom ons idees oor werk. Nou wat van hierdie een: Jy kry ‘n werk en jy hou vir hom, maak nie saak wat nie. Veral ons ouens met die witter hare het so grootgeword. Jy verander g’n van job as daar nie ten minste elke tweede dag ‘n moord gepleeg word of iemand kopaf gesny word nie. Reg? Nou hoekom sou dit so moet wees? Ek vra maar net… Hoekom moet jy met ‘n maagseer sit en skelmpies gaan kots gedurende teetyd, net omdat jy die spanning in die kantoor nie kan hou nie? Hoekom kan jy nie maar net los en laat gaan nie?

‘Werk is nooit speletjies nie, dis waarom dit WERK genoem word.’ Mmmm, nou het ek jou aandag, sien ek.

Vertel net asseblief vir my, as dit MOET voel soos werk, wat dan van onse Nataniel? Dink jy dit voel vir hom soos werk as hy vertel van die antie wat verslaaf was aan hoesstroop. Na ‘n paar jaar het sy ‘n stem soos ‘n nagtegaal – sou sy nugter genoeg wees om dit te gebruik, natuurlik. Die storie gaan verder hoe hulle vyf keer in die kerk geoefen het en elke keer was sy so dronk soos ‘n rivier. Dink jy dit voel vir hom soos werk? Sowaar, ek dink nogal nie so nie.




1 Kommentaar

  • Ano

    Vir party is werk net iets om elke dag vir 8 lang ure te doen en aan die einde van die maand 'n tjekkie te ontvang. Dit klink soos sleepvoet-jare. Nou en dan loop mens iemand raak wat nie 'n dag in sy lewe werk nie, miskien omdat daardie ure gevul word met iets wat sy siel voed en is dit uiteindelik nie net 'n 'job' nie. Dink net hoe lekker sou die lewe gewees het indien almal so oor hul dagtaak kon voel? Dalk sou die stres ook minder gewees het.

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed