Maandag se kuur…
Traag swaai sy haar bene van die bed. Dit is Maandag! Die lus ontbreek haar geheel en al om op te staan. Net die gedagte aan haar kantoor, laat haar sommer weer terug val teen haar kussings. Met uiterste wilskrag, dwing sy haarself om op te staan.
Dit is nie dat sy nie dankbaar is vir haar werk nie, die omstandighede daar is net onmoontlik. Dit maak haar geestelik moeg. Die stuit haar kreatiewe denke en maak haar meeste dae net negatief en neerslagtig. Die werk is baie, die hande wat dit moet doen té min. Die base, byna nooit daar, om te doen wat hulle alleen kan doen nie. Dit bring mee dat die spit afgebyt moet word, deur dié wat glad nie bewus was van die opdrag deur die kliënt nie.
Verder doen sy al vir twee jaar hierdie werk, het hard geleer en sit tweehonderd persent in. So het sy gedink!
Totdat een van haar base ongesteld geraak het en die ander baas weer die leisels geneem het. Skielik was niks wat sy vir twee jaar geleer is en gedoen het presies soos sy geleer is, meer reg nie.
Hoe harder sy probeer verduidelik het, sy doen dit net presies soos sy geleer is, hoe minder is daar na haar geluister. Totdat sy later moedeloos en na aan trane na haar tafel gegaan het. Sy trek die inligting van ʼn sisteem af wat hulle geïnstalleer het, en nou is niks reg nie. Hoe op aarde is die moontlik? Hoe kan sy vir twee jaar alles verkeerd doen en niemand het ooit ʼn haan daarna gekraai nie? Miskien net omdat dit nie so is nie!
Niks het egter in die daaropvolgende dae en weke verander nie. Sy het bly werk asof sy besete is en haar dood gehardloop om probleme waarvan sy niks weet, te probeer oplos. Die atmosfeer in die kantoor was so swaar jy kon dit met ʼn mes sny.
Dit is die rede vir haar traagheid om op te staan vanoggend. Sy beweeg traag kombuis toe. Maak soos ʼn outomaat vir haarself koffie, sit haar vitamiene en beskuitjie in die glasbakkie. Gaan klim terug in die bed om haar koffie en beskuit te geniet. Dit is haar daaglikse ritueel. Sy gee vir haarself koffie in die bed. Daar is immers niemand anders om dit te doen nie.
Dan volg haar stilte tyd. Dit is wat haar aan die gang hou deur die dae en weke as sy voel soos sy nou al byna die hele jaar voel. Daarna is sy weer hoopvol. Sy gaan haar bes probeer om vandag aan die beloftes wat sy in die Woord gekry het, vas te hou.
Sy hoor die geluid van ʼn boodskap op haar selfoon. Sy glimlag skalks, dit kan net van haar digters vriend wees. Dit is net hy wat so vroeg al aan die gang is.
Sy maak dit oop, en ja dit is net soos sy gedink het. Sy merk dat dit soos gewoonlik een van sy gedigte is, maar vanoggend het hy ʼn boodskappie voor die gedig. Die boodskappe lees:
“‘n Ou gedig vir ‘n nuwe môre van ‘n nuwe week
en mag geluk, lag en krag in die week met ‘n wydlag op jou wag.
Loop die week stukkend en aan die brand
met die liefde styf in jou regterhand.”
ʼn Glimlag speel om haar mond, maar verder as dit, die glimlag sprei soos kleursel in helder water, en vul haar hart en haar hele wese.
Wat ʼn kosbare wens, met soveel humor. Wie sal na so ʼn wens, nie krag hê om wyd te lag nie? Wie sal nie wil die week heeltemal in sy verstand in stukkend en aan die brand loop nie? Dan nog wie by sy regte positiewe, sal nie wil met die liefde styf in sy regterhand wil loop nie?
Sy het dadelik gevoel of sy nie net die week gaan stukkend loop nie, maar sommer stukkend hardloop, en sy wyd gaan lag, dat dit almal gaan irriteer. Maar wat gee sy om of dit doen? Verder het sy hierdie pragtige, humoristiese, oorspronklike wens in haar hart gebêre.
Daarna het sy opgestaan, asof sy nooit net ʼn halfuur gelede net in die bed wou bly, net haar kop wou toe trek en van die hele wêreld vergeet nie.
En het sy die week stukkend geloop! Telkens as omstandighede haar wou laat moedeloos word, het sy terug gegaan na haar wens. Met hernude ywer wydgelag vir geen rede, die week van voor af stukkend geloop.
Sy weet sommer net dat sy in die weke, maande en jare sal bly wydlag en die weke telkens sal bly stukkend loop. Want sy sal telkens hierdie wens uithaal en afstof en nooit laat verlore gaan nie.
©Marsofine Krynauw
26 Februarie 2020
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.