Mefiboset
Mefiboset – brons
Ons lees in die Bybel die verhaal van Dawid en Jonatan. Tussen die twee het daar ‘n wonderlike liefdesband bestaan. Om die waarheid te sê, die band tussen hulle was so sterk dat daar vandag in sekere kringe selfs beweer wil word dat na hierdie verhouding as die eerste homoseksuele verhouding verwys kan word. Dit is natuurlik baie ver verwyder van die waarheid, en waarom mense hierdie idee kry, is ‘n debat vir ‘n ander geleentheid. Die feit is, die twee seuns of jong mans, was van jongs af ontsettend baie lief vir mekaar en op ‘n stadium word hulle selfs swaers. Tog was daar soveel dinge wat hulle uitmekaar wou dryf en hulle vriendskap sou beproef. Jonatan se pa, die (onttroonde) koning Saul, het niks van Dawid gehou nie. Inteendeel, hy sou hom doodkyk, as hy maar net die geleentheid kon kry. Hy wou dan juis ook onder andere vir Jonatan gebruik om op Dawid te spioeneer, iets wat uit die aard van die saak nooit sou gebeur nie. Vir Saul was dit baie ontstellend om te weet dat sy seun bevriend is met sy grootste (selfgemaakte) vyand. Dit was egter alles deel van God se plan, want telkens het Jonatan hom gewaarsku teen sy pa en sy slinkse planne.
Dan, soos dit maar met mense in die volwasse lewe gaan, skei die twee se paaie op ‘n stadium en albei se lewens gaan aan. Dawid trou en begin ‘n lewe saam met sy gesin en Jonatan trou en begin ook sy lewe saam met sy gesin. Alle aanduidings is daar dat die twee toe kontak met mekaar verloor het, want met navraag was Dawid nie bewus van Jonathan se seun Mefiboset nie. Van Dawid se kinders lees ons baie en uit hulle lewens leer ons nogal heelwat van Dawid se vaderskapstyl, maar dit daargelaat. Ons weet nie veel van Jonatan se kinders nie. Die Bybel vertel ons wel van Mefiboset. Mefiboset, een van Jonatan se seun, is van jongs af, nadat hy as jong seuntjie laat val is, ‘n parapleeg en as gevolg daarvan ontwikkel hy ‘n baie swak selfbeeld. Hy beskou homself as ‘n dooie hond. In die Bybelse tyd was dit die versinnebeelding van hopeloosheid, nutteloosheid en minderwaardigheid. Mense met gebreke was ook nie met veel simpatie hanteer nie. So sukkel hy dus maar voort deur homself verskriklik jammer te kry. Dan sterf sy pa en oupa boonop in die oorlog en hulle was die enigste mense wat miskien nog effens deernis vir hom gehad het, omdat hy familie was. Die arme Mefiboset word aan sy eie lot en genade oorgelaat, nog meer rede om te glo dat hy gedoem is tot mislukking.
Dit is egter waar God se plan met Mefiboset in volle werking tree. Na Jonatan en Saul se dood, voel Dawid die behoefte om iets van die verhouding tussen hom en Jonatan te laat voortleef… en hy doen navraag om te verneem of daar nie tog dalk iewers familie van Saul of Jonatan is aan wie hy guns kan bewys nie. So raak hy bewus van Mefiboset en sy unieke behoeftes en hierdie dooie hond se lewe kry nuwe sin en betekenis. As gevolg van ‘n vriendskap van jare tevore word Mefiboset se lot en omstandighede aangespreek en die uiteinde van die saak is dat hy as koninklike hanteer word en dat spesiale mense aangestel word om na sy gesondheid, fisiese versorging en belange om te sien. Vir die res van sy aardse lewe sou hy van die koning se tafel eet.
Wat is die betekenis en waarde van die verhaal vir ons in ons tyd van vandag? In die eerste plek – soms beland mense in omstandighede en in ‘n vriendekring met die oog op die toekoms. Ons verstaan dit nie altyd op daardie spesifieke stadium nie, maar later word dit dalk vir ons duidelik. So beland jy dalk in die kinderhuis of in ‘n werksituasie wat nie juis is waarvoor jy gevra het nie. En dan wens jy dat jy uit daardie omstandighede kan uitkom. Dalk voel jy dan ook soos Mefiboset, ‘n mislukking, ‘n dooie hond en tot niks goed in staat nie. As jy so voel, onthou God het altyd ‘n plan. Dalk is daar ook iemand, dalk verlangse familie van vriende wat God juis voorberei het vir ‘n tyd soos hierdie. Dalk is die mense wat jou leed aangedoen het of saam met wie jy jou lewe moet deel juis daar geplaas om later jare tot jou voordeel by te dra. Miskien net vandag gesels jy met iemand wat juis vir daardie rede op jou pad gekom het, of raak iemand van jou situasie bewus, of beland jy in ‘n situasie wat jou omstandighede daadwerklik kan verander.
Daar is egter ook ‘n ander scenario. Miskien is jy vandag Dawid. Dawid, wat die behoefte gevoel het om iewers iemand tot hulp te wees en dit het hom laat navraag doen. Dit het Mefiboset se toekoms verander. Dalk het jy geld en dit is wat iemand anders nodig het. Dalk is jy die bestuurder van ‘n besigheid en daar buite is iemand wat werk nodig het. Dalk wil jy ‘n besigheid begin en weet nie wie om te nader om jou behulpsaam te wees om vir jou te kom werk nie. Dalk beland jy of een van jou geliefdes in die hospitaal, sodat jy daar dalk iemand kan ontmoet wat jou liefde en aandag nodig het. Dalk verloor jy jou werk sodat God jou elders kan gebruik. Hoe dit ook al sy, of jy nou Mefiboset of Dawid is, jy is geplaas waar jy nou is vir ‘n rede. Dalk het jy juis die mense om jou nodig of dalk is jy waar jy is omdat hulle jou nodig het. Moet daarom nie mense rondom jou wegstoot nie. Jy sal dalk nooit weet waarom God hulle op jou pad gestuur het nie.
Hennie
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2023 - OOP projek