Jongste aktiwiteit:

Mei 2024 – OOP projek – Kommentaar en uitslae

Baie geluk aan hierdie 11 lede!

WENNERS

GEDIGTE

BRONS.       
1.NO 6 Marthie Joubert met Jy wen
GEEN

SILWER

  1. NO 13 Colin Steyn met Dis is so
  2. NO 34 Elize Kruger met Lief soos die Kaap
  3. NO 7 Charles Skeen met Gewaarwording

GOUD.         

  1. NO 24 Loretta Szikra met Einde herfs
  2. NO 23 Loretta Szikra met Ver verby die somer
  3. NO 16 Amanda de Meillon met Herfs se laaste asem

MENINGSTUKKE   

  1. NO 4 Lollie met Trek jou kruisie
  2. NO 1 Elize Kruger met Dit begin by My
  3. NO 7 Ano met Soveel dae soveel dinge

RUBRIEKE. 

  1. NO 5 Marlene Erasmus met Hoe ervaar jy herfs?
  2. NO 4 Arnold van Zyl met Kruie tee
  3. NO 3 Ano met Toe nie heeltemal so gek nie

ARTIKELS.   

  1. NO 3 Marlene Erasmus met Taal se begrafplaas
  2. NO 4 Marlene Erasmus met Die gegons oor bye
  3. NO 1 Lollie met Dis lekker in Afrikaans

VERHALE.   

  1. NO 3 Rika Gerryts met Vergifnis
  2. NO 2 Marthie Joubert met Blom van Levubu
  3. NO 1 Arnold van Zyl met U$S 20 000 sonder leerskoeisel

Indien julle die wenplasings wil gaan lees klik op hierdie skakel asb: https://ink.org.za/biblioteek/projek-wenners/

KOMMENTAAR:
 
BRONS GEDIGTE
 

  1.  Tot die storms bedaar

Die konstruksie hiervan kan sonder twyfel verander word. Ek dink nie jy moet drie strofes maak nie. Jy kan die hele vers baie funksioneel in een stansa saamvoeg.

Ek sien jou gedig soos volg:

As vriend is jy besig
om my, die stukkies-mens,
langs die pad op te tel
en weer heel te maak;
stukkie vir stukkie –
ek voel veilig in jou groot hande
en, vir ’n rede aan my onbekend,
in tye van groot gevaar, weet ek,
dáárdie hande my sal toevou
tot die ergste storms bedaar!

Ek het daaraan getorring. Jy is welkom om dit so te gebruik of geheel geen verandering aan te bring nie. Alles is bloot voorstelle.

  1.  Jy wen

Ek verstaan nie mooi hoe die titel van jou vers in die inhoud inpas nie. Is dit ‘n hart wat gewen is? Nietemin, is die gedig teer en keurig.

  1.  Winter

Die laaste sin in jou vers openbaar die sentiment hierin. Die vers is egter ordeloos sonder nodige en funksionele punktuasie. Dit spring van die een na die ander gedagtes sonder die nodige motivering. Ek sal sterk redigering vir die vers voostel. Die titel is ook nie wat my betref die beste keuse nie.

  1.  Jou stem is stil

Ek neem aan dit is ‘n baie persoonlike ervaring wat hierin saamgevat is, maar dit is werklik onsamehangend en slordig. Daar is soveel loshangende gedagtes wat bloot op papier bymekaar gevoeg is met die hoop dat dit tog in geheel n vers sal word. Funksionele punktuasie kan jou hier baie help. Gee die leser die geleentheid om asem te skep en te deel in die onderliggende hartseer.

  1.  Kleurvolle Mei

Alhoewel die vers keurig is, moet ek darem noem dat ek nie dink die vers reflekteer eerlikheid nie. Die rympatroon klink so al asof die woorde nét gekies is om te rym en vir geen ander rede nie. Waak teen die strik van geforseerde rym want dit kan maklik ontaard in gedagtes en idees wat jy nie werklik vir jou vers bedoel het nie.

  1.  Sterk staan

Kom ons kyk van naby na die progressie wat in jou gedig gebeur. Voor ek daaroor praat, wil ek die 3de sin in die 1ste strofe bespreek: “verdrink trane in my oë”
Hoe verdrink trane? Jy mag dalk dink dat my vraag dom is, maar dit is belangrik dat alhoewel ons as digters metafore inspan om te skryf, dit tog op ‘n manier sin moet maak. Jou oë kan in trane verdrink maar nie die trane self nie. Sulke baie klein dingetjies kan jou vers ontspoor. Dan oor die progressie: dit begin in’ n skuiling, dan is dit by die see en branders, en dan weer terug na waar die karakter in stilte lê. Die laaste strofe (neem ek aan) is die stem van God wat vertroosting bring, maar niks motiveer daardie oorgang nie. Ek verstaan dat die emosies in hierdie ervaring nie noodwendig georden is nie, maar dit behoort nie so in jou gedig oor te spoel nie.

  1.  Net ‘n spikkeltjie

Ek weet nie of jy die beste titel gekies het nie. Die eerste sin in jou vers is ook verwarrend: “Sedert die ontdekking in woorde, is dit ‘n reis…”
Waarop dui hierdie ontdekking? As dit sou lees “ontdekking van woorde” sou dit sin maak, maar dan weer, is woorde nie ontdek nie maar eerder ontwikkel. Om die waarheid te sê maak die 1ste strofe vir my ingeheel geen sin nie.
Ek gesels graag met jou op inkmoderator@gmail.com verder hieroor.

  1.  Geheue-vlaktes

Die titel en die inhoud van jou vers hou vir my geen verband nie. Die inhoud spreek die dogma van lewe en dood aan. Dit opsigself is natuurlik ook kontensieus, omdat dogma kan verander na gelang van wie dit aanbied. Ek vind die inhoud van die gedig baie verwarrend en dit wil ook lyk asof die skrywer self nie weet wat hy/sy hierdeur wil sê nie. Gesels gerus met my op inkmoderator@gmail.com

  1.  Laika

Ek hou van die idee van hierdie vers. Die gesprek wat die digter voer met die “ruimtehond” is interessant maar ek dink die gedig sou kon baat by die gebruik van funksionele punktuasie. Die gedagtelyn deur die vers is ook effe verwarrend. Die slote strofe is baie mooi maar hoe dit werklik in die geheel bind is vir my as leser moeilik om te verstaan. Gesels gerus met my op inkmoderator@gmail.com

SILWER GEDIGTE
 

  1.  Kind wat het van jou geword

Die gebruik van vry’nes is slordig en so anglisisties. Vryheid sou n mooier keuse gewees het. Herhaling en onsamehangendheid in jou vers maak dit vir my as leser baie moeilik om die vers te geniet.

  1.  Dagboek van seisoene

Dit is n keurige vers wat mooi ontwikkel is. Dit is ook n vars manier om die winterlandskap te omskryf. Mooi gedoen.

  1.  Winter

“sonnetjie kam deur die bome se krone
bleekgeel grashalms wiegie windverweer
voëls twiet-twiet benoud heen en weer
in die naak-bleek takke van bome se krone”
Kom ons kyk na jou eerste strofe as voorbeeld:

  1.  Ek persoonlik dink nie digters in die silwer klas (eintlik in enige klas) behoort nie van die diminutiefsuffiks gebruik te maak nie. Dit is eerstens ‘n komplekse affiks in Afrikaans*, maar meer, dit laat gedigte wat goed bedoel en ontwikkel is na resitasies klink. Hierdie stelling laat my seker na  ‘n taal-megalomaniak klink, maar die standaard behoort hoër te wees as die eenvoudige woord op papier.
  2.  Ek kan amper dieselfde argument voer vir die gebruik van “wiegie”. Nie nét is dit leksikaal slordig nie, maar die amper lui gebruik van die diminutief is werklik onnodig.
  3.  Die herhaling van “bome se krone” is ook eenvoudig diglui.
  4.  Die gebruik van onomatopee (wat ‘n lieflike instrument is) in jou vers grens vir my ook aan die resitasie-aanklag van dig-onnoukeurigheid.

Jou vers het baie potensiaal en kan met goeie sorg in goeie kuns omskep word. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com
[*Prof. Anna Coetzee / Dr. Joan Kruger: Die Afrikaanse verkleinwoord 1: ‘n Morfo-semantiese grammatika]

  1.  Winterslaap

Ek hou baie van die progressie in die vers. Ek dink wel dat jou vers baie daarby sal baat indien jy effektiewe en funksionele punktuasie sou gebruik.
Ek wil ‘n enkele geldeelte van jou vers belig, en daardeur demonstreer watse rol pouses kan speel:
“nog nét bruin bas en droë blare
(wat in somberheid)
aan verkluimde wingerdlote klou”
Maak ook gebruik van akute (bv. nét). Dit gee stukrag en aksent.
Jou vers is keurig en die slot bou tot ‘n heerlike crescendo.

  1.  gewaarwording

Dit is mynsinsiens ‘n kragtige vers dié. Die ontwikkeling is mooi beplan en uitgevoer.
Ek wil egter klein veranderinge voorstel:
“die gevoel
kom en gaan
soos bloed suurstof
dra van long tot spier
so kom en gaan die pyn
ook die euforie van lewe
wat soggens vroeg verskyn
asof die sonlig alles wat sleg en
onaangenaam is, kan verdoof –
salig die gewaarwording
van hernude lewe
wat die saad dra
van hoop, liefde
en geloof”
Drie klein veranderinge wat jou vers selfs meer treffend maak.

  1.  OMG

Jou vers skort vir seker punktuasie en orde. Die inhoud is belangrik (al is dit slegs vir jou) en moet daarom genoegsaam klem lê op wat jy probeer sê. Rusposes is hier dus belangrik sodat jou leser kan stop en dink oor die grootsheid van jou boodskap. Ek het jou gedig onder hande geneem en slegs die eerste gedeelte daarvan aangepas te illustrasie hoe orde en punktuasie kan bydra tot ‘n sterker vers.
“ek leef as vreemdeling
tussen “ektsjoallie”
en “ekzektsjoallie” en
roep my stem in ‘n woestyn:
van moderne gebrabbel
kan ek skaars uitmaak
wat gesê of bedoel word

skrynend klink die uitroep op: “O My God”
soos jellie hang dit in die lug en op eter
oor elke onverwagte gedagte skril
die gebruiker dit uit en ketter
voort op sy pad van onheil;
die verderf onbeskryflik
en onnadenklik stu
dit net voort

nooit hoef
my kinders te vra
watter taal praat jy pa
vir watter God sê jy ja pa

mag jou “OMG”
inpas by die waarheid
van jou geloofsoortuiging
eerder as net ‘n uitroepteken
van jou sluimerende
ongeloof”

Dit is alles nét voorstelle en jy kan dit gebruik of bloot ignoreer.

  1.  Dit is so

Dit vra bogemiddelde toewyding aan die kuns van vers-maak om ‘n geykte onderwerp met ‘n vars en nuwe aanslag aan te pak. Jy het dit besonders goed gedoen in jou vers. Jou rympatroon is uit die boonste rakke sonder die kleinste geforseerdheid. Elke woord pas, elke woord is nodig. Ek is werklik beïndruk hiermee. Jy sal let uit al my duisende vorige kommentare dat ek moeilik beïndruk word deur “geestelike” verse omdat die meeste digters wat van die genre gebruik maak, lui is. Dit vra nie baie talent om die Bybel oor te skryf nie, maar in jou geval is dit geheel anders en werklik geslaagd.

  1.  Fluisteringe van Flora

Daar is eenvoudige té veel herhaling in jou vers en die afwesigheid van nodige punktuasie pla ook. Sommige verse werk daarsonder maar die skrywer moet onderskeid tref. Daar is soveel mooi sinonieme in Afrikaans dat die herhaling blomme, kleure en geure net bloot lui is.

  1.  In blomme-taal

Ek dunk jy het die vers mooi aangepak en dat die vers met dieselfde strofe begin én eindig is vir my treffend. Waarmee ek egter kleirtrap is die ritme in die vers. Van die sinne voel lomp en maak gebruik van wisselende parameters. Daar is ook twyfel of elke woord wat ingespan is om te rym bydra en of dit bloot vir rymdoeleinde is. Ek dink dit is nietemin ‘n keurifmge vers wat effe redigering vra.

  1.  My skemerstoep

Die vers is herhalend en lomp. Die digter verpersoonlik die stoep in so ‘n mate dat dit amper moeilik vir die leser is om die held te onderskei. Ek wil uitbrei hierop net om te verduidelik wat ek daarmee bedoel. Uit die titel onderskei die leser reeds dat die digter op ‘n spesifieke stoep sy/haar skeppingsmuse “ontmoet”. Die held behoort die digter te wees waarin al hierdie emosies ontketen word, en dat die omgewing (die stoep) slegs tot ondersteuning moet dien. Ek sou hierdie krap as dit my gedig was om die krag daarin verder te ontsluit.

  1.  Toekoms van die verlede

By die gebruik van dieselfde woordsoort in een sin, soos in jou geval die werkwoorde “oopgevee, opgegrawe en ontbloot” is dit net meer funksioneel om punktuasie te gebruik ter onderskeiding. Ek verstaan ook die progressie hierin. Die vers sluit egter stomp alhoewel ek verstaan dat die digter die oograwings as metafoor gebruik om die soeke na woorde te demonstreer. Grabbel is vir my so ‘n mooi woord wat na rondsnuffel verwys. Die metafore is baie sterk en die vers, buiten die slot, lees mooi ritmies.

  1.  Johannes, Jani’ s Jani’s

Jy het hierdie vers baie slim ontwikkel en  ‘n besonderse invalshoek daarvoor gebruik. Ek verstaan nie die titel nie. Ek dink ook nie dit is werklik ‘n ode aan Kerkorrel nie maar eerder verslaggewing oor die agteruitgang van Hillbrow. Ek verstaan egter die betrekking van Kerkorrel hierin omdat jy tereg merk hy het ‘n hart vir die plek gehad. Ek dink dit is werklik mooi digkuns wat jy gepleeg het.

  1.   Winter

Ek dink jou Akrostigon is baie suksesvol. Ek het ‘n paar klein voorstelle, nét om jou vers selfs sterker te laat skyn:

“Weemoedswinde waai droewig
in stede en vaal leë vlaktes
na waar stofstorms dwarrel
tot daar nét roesbruinblare lê
en ysige koue
ritteldans deur al wat leef.”
Klein veranderinge vir jou insae. Dit is net voorstelle. Ek dink jou vers is slim en raak geskryf.

  1.  Pluk vir my ‘n volmaan

Die herhaling van maan en pluk pla effe. Jy kan baie maklik funksionele alternatiewe ingespan het. Jou vers is nietemin keurig.

  1.  Lief soos die Kaap

“Bloesend” is so ‘n lieflike woord. Ons hoor dit nie genoeg nie. Jou vers is beeldspraak 101 en het my tone laat krul van Afrikaanse-lekkerkry. Pragtige ontwikkeling en die mooiste slot. Mooi gedoen.

GOUD:
 

  1.  Beminde stiltes 

Die herhaling van “sou dit”, “dit sou” pla die oor effe. Kyk of jy funksionele alternatiewe hiervoor kan skep. Die vers is keurig.

  1.  Herfs se laaste asem

Dit is ‘n lieflike ritmiese vers met pragtige beelde. Werklik n uitstaande gedig wat die leser bederf. Mooi gedoen.

  1.  Ek hunker nog aan jou

In Afrikaans het ek nog nooit teëgekom dat iemand na “hunker aan jou” verwys nie. Hunkering is “na” iets/iemand en nie “aan” iets of iemand nie. Om te hunker beteken om te begeer en te verlang, en daarom sal jy self sien dit behoort nie eintlik met “aan” gekoppel te wees nie. So ook met die begrip “begryp my nou” wat eerder “begryp ek nou” moet wees. Spelling van “vroeë”.
Die akuut op “sé” in die laaste sin is nie korrek nie. Jy kan eerder daarvan gebruik maak op “hart” of “hunker”. Mooi poging; let egter op die klein jakkalsies.

  1.  Roesbruin winter

Dit is ‘n keurige vers met funksionele rym en mooi beelde. 69

  1.  Vuur in my vingers

Dit is benede goud-standaard, jammer!

  1.  Ver verby die somer

Jy het die tema ongelooflik mooi innjou vers verweef. Ek het heerlik hieraan gelees en waardeer die kwaliteit en standaard wat jy hiermee stel. Welgedaan.

  1.  Einde herfs

Die vers is teer gepen. Die beelde hierin is tasbaar mooi. Dit is vir seker ‘n uithaler gedig.

  1.  Bic pen

Ek hou net van die slot van hierdie gedig. Die res daarvan is kinderlik en glad nie wat my betref Goud standaard nie.

  1.  Wintersprokie

Alhoewel daar goeie begrippe hierin bestaan en mooi beelde is die gedig onsamehangend en kripties soos ‘n sneltelegram. Dit kan egter ontwikkel word. Kontak my op inkmoderator@gmail.com

  1.  Mooi soos die see

Keurig en mooi verwoord.

MENINGSTUKKE
 

  1.  Dit begin by my!

Daar is baie goeie sosiale kommentaar in jou meningstuk. Keurige werk.

  1.  Op die nuwe aarde

Keurige skryfwerk.

  1.  Hoe leef jy Afrikaans? 

Keurig.

  1.  Trek jou kruisie

Jy het jouself goed gekwyt van jou taak. Jou mening is keurig ontwikkel.

  1.  My liddorings

Die skryfsel is onsamehangend. Dit beskik egter oor die potensiaal om goed ontwikkel te word.

  1.  Die regte tyd

Daar is ‘n gebrek aan orde hierin. Die inhoud is ook onsamehangend.

  1.  Soveel dae, soveel dinge

Interessante sosiale kommentaar. Keurige werk.

RUBRIEKE
 

  1.  Hemelvaart

Keurig.

  1.  Jou kind se waarde

Keurig.

  1.  Toe nie heeltemal so gek nie. 

Keurig.

  1.  Kruie tee

Dit was ‘n heerlike rubriek. Netjies gedoen.

  1.  Hoe ervaar jy herfs?

Dit is n pragtige rubriek. Netjies ontwikkel en aangebied. Welgedaan.

ARTIKELS
 

  1.  Dis lekker in Afrikaans

Goeie artikel met goeie navorsing. Welgedaan.

  1.  My talent. 

Netjiese artikel.

  1.  Taal se begraafplaas

Dit is n lieflike artikel. Baie goeie navorsing. Netjies.

  1.  Die gegons oor bye

Goeie navorsing en n uitsonderlike artikel.

  1.  Artikels behoort seker meer akkuraat te wees, of hoe? 

Keurig.

VERHALE
 

  1.  US 20000 sonder leerskoeisel

Interessante en heerlike verhaal.

  1.  Blom van Levubu

Pragtige verhaal met goeie karakter ontwikkeling. Welgedaan.

  1.  Vergifnis

Uitstaande verhaal. Baie netjies geskryf. Mooi gedoen.

  1.  Die verkeerde Vryheidsfront

Ek het heerlik gegiggel. Pragtig komies.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Sanette het n geregistreerde lid geword

  • Rosalee het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Awona het ‘n nuwe publikasie gemaak