
musiek se fluistering (SILWER)
musiek se fluistering
waar stilte en klank hand aan hand dans
met klankweef van snare en note wat val,
spoel klanke soos golwe, vloeiend en lig
melodieë wat sweef op vlerke van die wind
wanneer die dag sy laaste lig laat skyn
is dit musiek se note wat sag nader gly
in ritme van die reën vind jy die wind se lied
daar fluister die aarde sy geheime en smart
met gesange; salig in die siel se spreektaal
so bou musiek die brug tussen al wat leef
in diepe nagstiltes, ver van die dag se geraas
skyn daar ʼn melodie soos skitterende ster
die note eggo die geheime van die verlede
en tussen die klanke is daar stiltes wat skree
maar ware musiek is soos ‘n rivier se loop
met diep emosie wat in harte weerklink
musiek se fluistering vind weerklank in ons
… so vind ons altoos krag en troos in melodieë
©MarleneErasmus
29/08/2023
Neologisme:
klankweef: Dit is ‘n kombinasie van “klank” en “weef” Die idee is dat musiek ‘n weefsel van klanke en note is wat saamgesmelt word om ‘n unieke simfonie te skep.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Augustus 2023 – Musiek projek