Jongste aktiwiteit:

My dagboek oor jou (4)

Alles is grys vandag. Die lug, die wolke, selfs die bome. Grys soos dit in my hart voel.
Dis asof ek vanoggend nie een sonkolletjie kry om na te kyk nie. En dan waai die wind ook nog. Die bome is ook glad nie ingenome met die wind nie, want hulle verloor blare. En kort voor lank staan hulle kaal en alleen teen die aanslag van die winterkoue.
Soms voel ek ook so … kaal en alleen teen die aanslag van die lewe. Nog te meer vanaf die dag wat jy op die vliegtuig geklim het. Hoekom was jy so vaag? Hoekom laat jy my hoop en wanhoop gelyk? Wat is daar wat jy so ver moet gaan doen wat jy nie hier langs my kan doen nie?

Ek het ‘n slegte nag gehad. Heeltyd rondgerol sonder dat die slaap my kom haal het na die Land van Vergetelheid. Dalk het ek die bus daarheen gemis. Wonder of ek ‘n kaartjie gekoop het ….
Terwyl ek so lê en rondrol het, was my gedagtes heeltyd by jou. Ek het gedink dat ek altyd gesê het dat ek jou so liefhet dat jou geluk vir my belangriker is as my eie. Dalk is dit hoekom ek kon regkry om jou die dag by die lughawe met droë oë te groet. Altans, dis wat jy gesien het. Binne-in my het alles in stukke gebreek toe jy omdraai en wegstap. Die oomblik toe jy deur die hekke gaan, het die oseaan in my oë oorstroom. Maar steeds wil ek net die mooiste en die beste vir jou hê.

Ek wil hê jy moet lag in die lewe.
En jy moet dans in die reën.
Rol jou broekspype op en loop kaalvoet in ‘n watersloot.
Ek wil hê jy moet sing as musiek speel.
Gaan ry op die reënboog se kleure.
Soek die pot goud aan sy punt.
Swem in die see met jou jeans aan.
Gaan hou piekniek op die maan.
Pluk ‘n ster aan die hemel en ry op ‘n maanligstraal.
Sit ‘n “Flake” in jou draai-roomys en karamel wat daaroor loop.

Dit was so lekker om daardie een aand met jou te dans in die reën. Ons pas net so perfek teen mekaar … by mekaar … bymekaar. Onthou jy hoe helder was die maan die aand toe ons by tannie Hester op die plaas gekuier het? Dis toe die eerste reëndruppels in maande op die dor aarde plons dat die stof so spat, wat ek jou hand gegryp het. Eers het ons (en natuurlik tannie Hester) uitgelate gelag en gewals terwyl groot druppels ons hier en daar natmaak. Maar toe die uitgelatenheid bedaar het, het jy my sag teen jou lyf vasgetrek. In die beskerming van jou arms. Sonder om te beplan of te praat, het ons net begin dans. Musiekloos …. op die maat van ons hartklop. Die reën het ook sag en deurdringend geword, ons was later waternat. Maar jou bors onder my wang was warm en die klop in jou hart was vir my.

Na daardie aand kon ek nog nooit uitwerk hoe dit was dat die maan helder was en dit terselfdertyd gereën het nie. Maar dit het ook nooit saakgemaak nie. Al wat saakgemaak het, was dat jy my hart se grootste stuk in jou borskas dra. Vir altyd

Lief jou sonder einde.
xxx




daar is 'n plek in my waar ek nog jou vingerafdrukke voel waar jou soene nog talm en jou fluisterwoorde saggies weerklink dit is die plek waar 'n deel van jou vir altyd 'n deel van my sal wees ...

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed