My Kothuis (Engelse sonnet)
waar witgeverfde wande my omarm
en muurkuns brokkies van verlede lag
dáár is ek tuis in kothuis se hartswarm
my woning met haar sielslig, selfs in nag
haar vloere kus die voetval van my loop
blink ruitoë skilder tuinlandskap se mooi
die voordeur, selfs in toe, staan altyd oop
my tuistegloed word wyd en syd gestrooi
die aardsgoed in vertrekke sus my oog
laslappe van my lewe uitgestal
soos ornamente op my sielsverhoog
waar vensterdanslig op vertonings val
my lewe jubel-sing in dié gebou
met hartslag wat tevredenheid behou
Etna Wepener ©️
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.