‘n Gevulde holte
dae infiltreer leegheid uit alle rigtings
waar winde opstaan en gaan lê,
‘n krop geswel en swaar
gedagtes wat soos bitterals verstik,
‘n poging om onsamehangend die niksheid binne my
tot orde te rangskik
en toe kom jy
en lei my na waters waar daar rus is,
na die donker hart van die aarde
waar ons saam die asemhaling van duisternis kon hoor;
vir ‘n oomblik het tyd geswingel aan ‘n hingsel
wat waggel wieg in die ligte riel van ‘n weskus bries,
in ‘n holte waar ek binneboud kon kleef
aan nag geluide wat in ons ingewande beef
met gedroogde pienk krappies wat ritsel in ons knapsak
en soutbos wat onder voetsole knetter soos jong vlamme
het ons ‘n spierwit voetpad in die donker oop geloop,
kon ek (saam met jou) myself tot wedergeborene herdoop
met slegs minimale ure voor son oor die staalmuur tuimel
braak ek steeds aan aalwynsappe in my bloed,
maar met jou neffens my
hoef ek nooit weer vêr
na die volheid midde leegheid te soek.
© Almarie Truter
2 Kommentare
-
Zymrly
Met die regte persoon aan mens se sy sien mens kans vir enige hindernis. Uitstekend geskryf.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Meermin
Jy toor met woorde waarin 'n mens kan verdwaal.