‘n Grepie uit die memoirs van ‘n uitgetrede kleuterskool juffrou (Goud) 384 woorde
Ek het vir agtien jaar by ‘n kleuterskool gewerk waar ek deurgaans die twee tot vierjariges onderrig het. In elke ouderdomsgroep tref mens spesifieke gedrag en mylpale aan. Kenmerkende aspekte wat ooreenstem met hoe klein kindertjies die lewe beleef, die lewe benader, die lewe aanpak.
Wanneer jy egter daagliks met kleuters werk, kom jy gou agter dat daar soms enetjie is wat uitstaan. Een wat die lewe anders beleef, benader en aanpak. Een so kleuter was ‘n swartkop-blou-oog dogtertjie wat haar tyd eintlik ver vooruit was. Sy het met ‘n ander oog na die lewe gekyk.
Ek het destyds só oor haar geskryf in die skoolkoerant waarvan ek die redaktrise was:
Toe sy die eerste dag by my klas instap, het ek dadelik gesien: hierdie klein klits is anders. Weggesteek in haar kleuterlyfie is ‘n verstrooide kunstenaarsiel wat net wag vir haar om groot te word. Waar sy sweef op die stoepe en oor die speelterrein, kan ek net kyk en drome droom, want ek kan haar sien ‘n paar jaar van nou af: die alomteenwoordige, half-afgetrokke glimlaggie om haar lippe sal steeds daar wees. Haar beroep sal iets wees in ‘n kuns rigting, ek is oortuig die van skilder. Met haar palet en kwas sal sy deur die lewe gaan en al sy fasette op haar nimmereindigende doek vaslê.
Daar sal altyd ‘n vars briesie om haar waai, sodat haar kunstenaarskleed agter haar sal dartel en draai sover sy gaan. Onbekommerd oor gister, vandag en môre, sal sy haar gang gaan sonder om enigiemand se rus te versteur. Niks en niemand sal haar verander nie, want sy ís wie sy ís, sy kyk anders na die lewe as haar maatjies, selfs haar ousus. As die Vader wil, sal dít waarvoor ek vir haar droom, eendag waar word.
Tot dan moet sy op skoolbanke sit, wiskundige berekeninge doen, reëls gehoorsaam en opstelleskryf, terwyl haar kunstenaarsiel sluimer en wag vir die dag dat dit tot volle wasdom kan kom.
Ek wonder dikwels wat van haar geword het, watter beroep sy volg en of sy gelukkig is. Wat ek wel van haar sal onthou, is dat ek deur háár oë, dikwels anders na die lewe gekyk het.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir April 2024 - Uit die oog van 'n kind projek